Foto’s: Nóg klagtes oor staat se kwarantynkampe

Die Nababeep-kwarantynfasiliteit (Foto: Verskaf)

Talle klagtes het weer die afgelope week ingestroom oor kwarantynfasiliteite waar gerepatrieerde Suid-Afrikaners noodgedwonge beland het. Dié fasiliteite voldoen glo nie aan die nodige gesondheidsprotokolle nie. Die departement van gesondheid dring egter daarop aan dat mense wat na die land terugkeer in staatsfasiliteite moet bly.

’n Groep van omtrent 11 Suid-Afrikaners wat verlede Vrydag oor die landgrense van verskeie buurlande teruggekeer het, is tans onder haglike omstandighede in Nababeep-hospitaal digby Springbok in die Noord-Kaap vasgekeer. Hulle sê die fasiliteit is vuil en onveilig en hulle is daarom bekommerd oor hul gesondheid.

Agt van dié Suid-Afrikaners kom van Namibië. Namibië word beskou as ’n laerisikoland en het slegs 24 positiewe Covid-19-gevalle.

Klagtes is ontvang oor badkamers wat nie gesaniteer word nie (Foto: Verskaf)

Met hul aankoms by die fasiliteit, is daar glo aan hulle gesê dat hulle nie vir Covid-19 getoets gaan word nie, en dat hulle vir 14 dae daar moet vertoef. Hulle gaan glo ook eers ná 14 dae ’n permit ontvang wat hulle toelaat om oor provinsiale grense na hul huise te kan reis.

Volgens twee vroue, wat graag anoniem wil bly,  wat afsonderlik uit Namibië teruggekeer het, bedryf die hospitaal ’n aktiewe dagkliniek waar mense van die gemeenskap kom vir behandeling vir siektes soos TB of MIV. Dieselfde verpleegsters wat pasiënte in die dagkliniek help, beweeg dan tussen die groep Suid-Afrikaners rond sonder handskoene en maskers. Die vroue vrees dat hulle dalk só siektes kan optel.

Volgens dié vroue moet almal in kwarantyn een badkamer deel. Die badkamer is glo ook sedert verlede Vrydag nog nie een keer gesaniteer nie.

Die meerderheid van die groep is vroue en voel onveilig omdat die fasiliteit glo geen heining om het nie. Daar is ook geen diefwering voor die vensters nie en die slaap- en badkamerdeure kan ook nie sluit nie.

Dié groep Suid-Afrikaners het met hul aankoms in die land ’n keuse gehad om in die Nababeep-hospitaal vir 14 dae te gaan bly of op hul eie onkoste in die Springbok-karavaanpark op Springbok te selfisoleer. Almal het egter nie voldoende fondse gehad om vir verblyf in die karavaanpark te betaal nie.

Die Nababeep-hospitaal het Maroela Media na die departement van gesondheid se Namakwa-distrikskantoor in Springbok vir navraag verwys. Maroela Media het reeds Dinsdag die navraag aan die distrikskantoor gestuur en nog geen terugvoer ontvang nie.

Intussen eis die DA, AfriForum en die VF Plus dat die KwaZulu-Natalse departemente van gesondheid en openbare werke ingryp om die groep gerepatrieerde Suid-Afrikaners wat onder haglike kwarantyntoestande in die Coastland-hotel in die Durbanse middestad bly, gehelp word.

DA-parlementslede Tim Brauteseth en Martin Meyer het Donderdagaand die hotel self besoek.

Kokkerotte lê orals in die kamers dood (Foto: Verskaf)

’n Groep van 365 Suid-Afrikaners wat op Carnival Cruise Line-skepe oorsee gewerk het, is die week gerepatrieer nadat hulle vir 81 dae op skepe gestrand was. Sowat 199 Suid-Afrikaners van dié groep het Woensdag in die Coastland-hotel vir kwarantyn beland. Die res van die groep is na die City Lodge-hotel in Umhlanga gestuur.

Maroela Media het talle klagtes van dié groep Suid-Afrikaners ontvang wat sê die hotelkamers en badkamers is uiters vuil en hulle vrees dat hul siektes gaan opdoen.

Die kamers is glo vol kokkerotte en in van die kamers lê dooie duiwe. Van die kamers se badkamers se krane werk ook nie en die waarvan die krane werk, se water is vuil en bruin, het die inwoners aan Maroela Media gesê. Party kamers het nie eers warm water nie.

Volgens klaers het van die Suid-Afrikaners Woensdag geweier om die hotel binne te gaan, maar is deur die polisie gedwing om in te gaan.

Die groep van die skepe is intussen Donderdag deur private mediese diensverskaffers, wat deur die Carnival Cruise Line-passasierskeepsmaatskappy gereël is, vir Covid-19 getoets. Hulle moet egter volgens die departement van gesondheid vir 14 dae daar bly.

Brauteseth sê daar is geen gesondheidsprotokolle, soos uiteengesit deur die departement van gesondheid, by die fasiliteit in plek nie. Hy sê mense beweeg in en uit die hotel sonder enige maskers of handskoene.

Die Suid-Afrikaners wat in die hotel bly, vrees dat hul siektes gaan optel (Foto: Verskaf)

“Dit is duidelik dat daar nie beplan was om die hotel as kwarantynfasiliteit beskikbaar te stel nie. Die provinsiale departemente van gesondheid en openbare werke het geen benul van die situasie daar nie en hul nasionale eweknieë doen niks. Hulle ignoreer ons korrespondensie en ons versoek om dringend in te gryp,” sê Brauteseth.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, sê AfriForum het Donderdag dringende hofstukke uitgereik om onder meer te versoek dat alle mense wat gerepatrieer word, die reg moet hê om hulself te kan isoleer.

“Mense word teen hulle sin en dikwels onder ongerieflike of selfs gevaarlike omstandighede in kwarantyn gehou en boonop moet belastingbetalers hiervoor opdok, terwyl hulle meestal in hul eie fasiliteite en op hul eie koste kon selfisoleer. Ons hoop dat die hofsaak ons sal help om ’n oplossing te vind wat die belange en veiligheid van al die betrokkenes sal verseker,” sê Bailey.

Maroela Media het ’n navraag aan die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid gerig oor die kwessie by die Coastland-hotel, maar wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Willem ·

Weereens ń bewys die staat gee niks om vir sy burgers maar ons belasting geld is goed genoeg vir hul vet salarisse

marius ·

Klagtes val op dooie ore . Stuur die fotos die hele wereld vol en dagvaar die rook uit elke een wat ‘n vinger naby die vrot pastei het . Die hantering van die wat vir die skyn in weelde ontvang is , asook die geld spoor sal meer as genoeg wees om te slaag .

Ansie ·

As jy nie daar daar doodgaan van die koronavirus nie sal ander peste jou doodmaak.

Amanda ·

Dis uiters swak, dis n vuil gemors, duidelik die standaard van ons nuwe Suid Afrika. Lyk soos ons land se totale agteruitgang. niks is meer op standaard nie.

Sarel ·

Kan daar vasgestel word wie aandeel in die fasiliteite het en wie finansiële voordeel geniet.

Adam Adriaan ·

Bewys weereens dat die oordeelsvermoeë en standaard van die ANC en sy kaders laat veel tewense oor.

Alida ·

Ja wel vir sommige mense is die geriewe n luukse maar nie almal van ons boer soos varke nie.

Anel ·

Die een plek is ‘n hispitaal en die ander plek’ ‘n hotel. Nou hoe kan mens in so hispitaal behandel word sonder om van siektes dood te gaan. En wie bly in sulke hotelle! Word die pkekke ooit gebruik of staan dit leeg of is our people maar tevrede om in sulke plekke te bly? En ons moet daarvoor betaal! Laat die mense huis toe gaan! Hierdie hele storie is om ons regte weg te vat.. Komunisme op sy beste. Ek voel al so vuil en is al so keelvol om orals waar ek kom te moet staan en was asof ek vuil is. As ek siek is bly ek by die huis. Dis logies. Ek het ook nie koors nie. Ek sal ook mos by die huis bly!!!

Rhona ·

Ek sal graag wil weet of staatsbeamptes en regerings lede wat die land inkom ook in sulke strafkampe onder kwarantyn geplaas word. Of kry hulle 5* behandeling in vakansieoorde en hotelle? Dis ‘n skreiende skande. Ek sal nie eens dat my diere so ‘n plek betree nie wat nog bly. But what goes around, comes around soos die Engelse sê. Die Afrikaners glo God slaap nie. Die ooste glo in karma. Dus, boet, sal hulle boet. WWJS?

Anoniem ·

Gaan huistoe en plaas jouself daar in selfisolasie. Die hof het so beslig, dus mag die staat jou nie in hul strafkampe aanhou nie.

Jaco ·

wat is die ras van hierdie mense? as hulle wit is, dan is dit seker maar ok om so behandel te word. seker maar deel van die ewige straf vir apartheid. maar as hulle nie wit is nie, is hierdie behandeling ‘n skande. Dan is our people darem baie lelik met our people.
Maar nou ja, swart polisie het ‘n swartr man in Alexandra so erg aangerand vir lockdown reels oortree dat hy dood is en daar het ook maar bitter min van gekom. swart politieke partye en organisasies het nie eens gekla nie. So dalk is slegte behandeling van die hele land se mense nou die norm. dalk is ons almal nou “our people”

Die Wolf ·

Is daar nie nie n hofuitspraak dat jy nie gedwing kan word om in hulle kwarantyn hole geplaas te word nie. Verbeel my dat dit so is.

Anoniem ·

Ja Afriforum het daardie hofsaak gewen. Hierdie mense moet huistoe gestuur word.

Nico ·

Die president en sy makkers lewe in veel beter omstandighede.

OW ·

Dit wys maar net weer watter swak dienste op munisipale vlak gelewer word.Hierdie land het ‘n ooraanbod van OGP’S wat sulke toestande moet voorkom wat wetlik verplig word om roetine inspeksies by alle voedsel persele uit te voer bv hotelle,restaurante,plekke van huisvesting ens.Die bewyse is genoeg om dit by Raad op Gesondheidsberoepe aan te meld en die munisipaliteit is, en bly aanspreeklik en verantwoordelik in wie se jurisdiksie sulke toestande voorkom.

Kobus ·

Wat het hulle anders verwag? Hulle het tog seker ook nie verwag om in ‘n 5ster hotel tuis te gaan met room service en allee nie?

Jack ·

Die groepe se samestelling is seker nie verteenwoordigend van die nasionale demografie nie. Feit bly die anc het die reels neergele en kan nie eers toesien dat dit toegepas word nie.

AmY ·

Wat is dan nou die probleem?
Dis mos SA se standaarde hierdie…
As ek dalk die virus moet opdoen, sal ek een bitter bekommerde vrou wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.