Foto’s: Nóg ʼn NMB-vergadering deur geweld ontwrig

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê  ʼn groep van sowat 200 gemeenskapslede  het net voor 19:00 die ingange van die saal met brandende voorwerpe versper. Foto: Verskaf.

ʼn Openbare munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergadering wat Donderdagaand by Colchester se gemeenskapsaal gehou is, is ontwrig toe gemeenskapslede voorwerpe by die ingangshekke verband, klippe gegooi en afgevaardigdes binne die saal vasgekeer het.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê die vergadering, wat deur raadslede van Nelson Mandelabaai gelei is, het 18:00 begin, en net voor 19:00 het ʼn groep van sowat 200 gemeenskapslede die ingange van die saal met brandende voorwerpe versper.

Die gemeenskap het glo geëis dat die vergadering omgeskakel word in ʼn vergadering oor die grondkwessie. Volgens berigte het een man opgestaan in die vergadering en vir Jonathan Lawack, speaker van die Nelson Mandelabaai-raad, getart.

Die gemeenskap het glo daarna begin oproerig raak.

“Sewe voertuie is beskadig toe dit met stene en klippe gegooi is. Een Nissan NP200-bakkie wat aan die metro behoort, is ook met ʼn brandende voorwerp gegooi wat skade aan die sitplek veroorsaak het. Sommige van die vensters van die saal is ook met klippe stukkend gegooi,” het Beetge gesê.

Toe die polisie op die voorval reageer, was die eenheid vir openbare orde genoodsaak om rubberkoeëls te gebruik om die skare wat hul voertuie met klippe bestook het uiteen te jaag.

Polisiebeamptes het die hekke oopgedwing om die afgevaardigdes wat binne die saal vasgekeer was te bevry.

Teen 21:00 het sommige van die betogers na die N2 in Colchester beweeg waar hulle gepoog het om die pad met brandende bande te versper en klippe na verbygaande motors geslinger het.

“Nog nege voertuie en vier vragmotors is deur dié klipgooiers beskadig,” het Beetge gesê.

Die polisie kon daarin slaag om toe te sien dat die verkeer steeds vloei. ʼn 40-jarige man is in hegtenis geneem terwyl hy ʼn band na die N2 toe geneem het in die versperringsproses.

“As gevolg van die donker en die feit dat sommige straatligte nie gewerk het nie was verdere inhegtenisnemings nie moontlik nie, aangesien die klipgooiers van die ruie bosse langs die pad gebruik gemaak het om te skuil,” het Beetge gesê.

Die verdagte wat wel in hegtenis geneem is, sal klagtes wat met openbare geweld en beskadiging van infrastruktuur verband hou in die gesig staar en sal Maandag voor die Alexandria-landdroshof verskyn.

Maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-polisiëringsgebied, het ʼn beroep gedoen dat die straatligte herstel word en van die ruie bosse langs die snelweg gesnoei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jerry ·

Die wetstoepassers moet die opstokers wat die gemeenskappe tot wetteloosheid mobiliseer identifiseer, arresteer, aankla en voor die hof daag. Dit is tog duidellik dat die persoon wat in die vergadering opgestaan het en die speaker getart het, die opstoker is. Dit maak nie sin om net n persoon wat n motorband sleep te arresteer nie. Anargie is SA se voorland as wetstoepassers die opstokers wat die gemeenskappe tot wetteloosheid aanspoor, nie daadwerklik begin vervolg nie. Die opstokers is politici en raadslede en is tog maklik identifiseerbaar.

as ek mag vra ·

dis al hoe hulle gaan leer. niemand skuld n ander grond of n huis nie. as jy nie waardigheid het daar sonder nie, kan dit jou nie waardigheid gee nie. waardigheid kom met op opvoeding, ongelukkug nie met besittings nie.

Hanna ·

Verskonings, verskonings… Dis altyd die “lede van die gemeenskap” wat amok saai en die polisie met die eier op die gesig los. Einste “lede” wat absoluut niks tot die samelewing bydra nie. Las op die staat, maar ons “demand”!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.