Foto’s: Nóg sterftes in Oos-Kaap weens vloede

Port St Johns in die Oos-Kaap. Die dodetal in die provinsie staan reeds op sewe na die afgelope week se oorstromings. (Foto: Bantu Holomisa, via Facebook)

Drie skoolkinders in die Oos-Kaap het verdrink ná swaar reën ook dié provinsie vandeesweek getref het. Die sterftesyfer weens oorstromings in die Oos-Kaap staan nou op sewe.

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement het gesê twee van die kinders was van Bukazi naby Flagstaff en die ander een van Elubhacweni in KwaBhaca (voorheen Mount Frere).

Mali Mtima, woordvoerder van die departement, het gesê die kinders het gister verdrink.

Mtima het gesê Yanga Solubambo (13) en Aseza Mngcilo (13) het ná skool in ʼn dam gaan swem, maar in ʼn sterk stroom beland en verdrink. Polisieduikers het hulle liggame gevind.

Die 11-jarige Asiphe Buso het weens die swaar reën tuis gebly, maar is later gestuur om ʼn takie te gaan verrig. “Op haar pad het sy ʼn bruggie oorgesteek waar sy ongelukkig deur ʼn sterk stroom meegesleur is,” het Mtima gesê.

Mtima het gesê hoewel die voorvalle ná skool gebeur het, het die departement sy maatskaplike ondersteuningsdienste ontplooi om die kinders se gesinne te ondersteun.

Die Oos-Kaapse LUR vir onderwys, Mlungisi Mvoko, het die families gevra om saam met die departement te werk om te verseker kinders is veilig.

“Ons kan nie die belangrikheid van kinders se lewe genoeg beklemtoon nie. Om ʼn kind te verloor is enige ouer se nagmerrie. Ek hoop die ouers vind berusting in God in dié tydperk van rou.

“Die departement doen ʼn beroep op ouers om voorsorgmaatreëls vir hulle kinders te tref, terwyl swaar reën damme en riviere laat oorloop. Ons pleit by ouers om te verseker daar is toesig oor hulle kinders, veral ná skool. Ons gebede is by die families en ons hoop God vertroos hulle,” het Mvoko gesê.

Die LUR vir samewerkende regering in die provinsie, Fikile Xasa, het gesê vier ander sterftes is sedert swaar reën uitgesak het, ook in die provinsie aangeteken.

Skadebepalings word tans gedoen en nog geen besluit is geneem oor of die provinsie ʼn ramp moet verklaar nie.

In die Nelson Mandelabaai-metro het ʼn 21 maande oue baba in ʼn sloot geval en verdrink, terwyl ʼn 38-jarige vrou in die Emdumbirivier verdrink het. ʼn 12-jarige kind en ʼn 39-jarige vrou het in afsonderlike voorvalle verdrink toe hulle riviere probeer oorsteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

Al wat ons kan sê ons gebede is met julle. Baie sterkte aan die mense wat geraak is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.