[Foto’s] NSRI-basis onbruikbaar ná brand

Foto: NSRI

Foto: NSRI

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se tydelike basis in Kommetjie naby Kaapstad is onbruikbaar ná ʼn brand vroeg Saterdagoggend.

“NSRI Kommetjie is Saterdagoggend om 00:09 ontbied na ʼn brand by die Shell-vulstasie in Kommetjie uitgebreek het,” het stasiebevelvoerder Ian Klopper in ʼn verklaring gesê. “NSRI Kommetjie het hier ʼn tydelike seereddingsbasis terwyl die permanente gebou in Kommetjie opgerig word.”

Kaapstad se brand- en reddingsdiens was reeds besig om die brand by die wassery langs die seereddingsbasis te blus. “Die vlamme het deur die plafon na ons reddingsbasis versprei.”

Die NSRI het hitteskade, waterskade, en skade weens vallende puinstukke aan hul toerusting in die basis opgedoen.

Die wassery is verwoes en die skeidingsmuur tussen die wassery en die NSRI se basis is struktureel onveilig verklaar weens hitteskade, het Klopper bygevoeg.

“Nadat die brand geblus is, het ons vrywilligers al die toerusting begin skuif en teen Saterdagmiddag om 12:00 was die grootste deel van die toerusting na ons vrywilligers se onderskeie huise geskuif, waar spasie in motorhuise gemaak is. Ons doen alles in ons vermoë om so veel as moontlik van die toerusting te red, maar van die toerusting is ongelukkig in die brand verwoes,” het hy gesê. “Weens strukturele skade sal ons nie na die gebou kan terugkeer nie. Ons is dankbaar dat ons seereddingsvaartuie nie in die gebou was nie. Dit is onlangs na motorhawens geskuif wens konstruksiewerk om ʼn deel van die dak van die Shell-vulstasie op te knap.”

Die brand het vermoedelik ontstaan weens ʼn elektriese fout in die aangrensende wassery, maar die ondersoek duur voort.

“Ons het Saterdag gebeurlikheidsplanne van stapel gestuur om ons bates en toerusting veilig in een plek te bewaar en een van ons vrywilligers het sy hele motorhuis, wat deel is van sy gesinswoning, aangebied waar die toerusting vir ʼn onbeperkte periode gestoor kan word.”

NSRI Houtbaai en NSRI Simonstad is op bystand om NSRI Kommetjie met enige seereddingsnoodgevalle by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.