Foto’s: Nuwe tuiste vir ʼn nes luislange

ʼn Allemintige 47 jong luislange is Sondagoggend in Dinokeng, ʼn 18 000 hektaar natuurreservaat noord van Pretoria, vrygelaat. Foto: Verskaf.

ʼn Allemintige 47 jong luislange is Sondagoggend by verskillende plekke in Dinokeng, ʼn 18 000 hektaar natuurreservaat noord van Pretoria, vrygelaat.

Dit volg nadat ʼn beskermde Suider Afrikaanse luislangwyfie in November van die De Wagensdrift-plaas naby Cullinan verwyder is.

“Die eienaar het ons laat weet die slang is eintlik welkom op sy grond, maar sy werkers het gedreig om haar dood te maak, daarom het hy gedink dit is beter dat sy na ʼn veiliger plek geskuif word,” sê Nico Engels, lid van die Highveld- herpetologiese vereniging, wat gereeld slange van verskillende persele in Gauteng verwyder.

“Ons het haar halfpad opgekrul in ʼn erdvarkgat gevind waar sy oor 52 eiers gelê en waak het.”

Engels sê die luislang het 28 kg geweeg en was 4,3 meter lank. Hy skat sy was so ongeveer 15 jaar oud.

Volgens hom is dit een van die min slangspesies wat na hulle eiers omsien.

“Dié slange sal gou in die oggend uitgaan om warm te bak en dan weer terugkeer na hulle eiers waar die wyfie om dit sal opkrul om dit warm te hou totdat die eiers uitbroei.

“Ons het dié luislangwyfie se eiers onmiddellik na ʼn broeikas geneem en haar ʼn regte spa-behandeling gegee. ʼn Paar bosluise is van haar verwyder, maar verder was sy baie gesond. Sy is ʼn week later in die Dinokeng-natuurreservaat vrygelaat.”

Engels sê net vyf van die eiers het nie uitgebroei nie. Die jong slange was oud genoeg om na Dinokeng geneem te word nadat hulle drie etes gehad het en vir die eerste keer vervel het. Die slangetjies is nou so tussen 40 en 50 cm lank.

luislange-01

Etienne Gouws en Nico Engels saam met Suider Afrikaanse luislangwyfie wat in November saam met ‘n nes van 52 eiers uitgehaal het. Foto: Verskaf.

Volgens Engels sal die luislange eerder konfrontasie met mense vermy, maar kan hulle geweldig seer byt as hulle vasgekeer voel of hulself moet verdedig.

“Party mense beskou die slange as ʼn bedreiging vir hul wild en kleinvee, maar ek dink stropers en ander roofdiere kan veel meer skade aanrig.

“Die slangspesie eet gewoonlik nie meer as twee of drie bokke per jaar nie en hou boonop peste soos rotte onder beheer. As jy egter voel jy en die slang kan nie op dieselfde plek woon nie, moet jy eerder ʼn professionele slangvanger kry om die slang vir jou te verwyder. Moet hulle asseblief net nie doodmaak nie.”

Die slangspesies se verspreiding het oor die jare sigbare agteruitgang getoon. Hoewel die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur die slang as ʼn niebedreigde spesie beskou, ag Cites hierdie luislang wel as bedreig en is die spesie onderhewig aan ʼn handelsbeperking.

Engels sê in sy werk as ʼn professionele slangvanger kry hy nie gereeld oproepe om luislange te verwyder nie. Dit is eerder die giftige wipneuskobras en likkewane wat hy amper daagliks moet verwyder.

“Ek kry minstens een oproep per dag. Sondag ná die vrylating van die luislange het ek ook ʼn pofadder uit ʼn tuin gaan haal en twee wipneuskobras van verskillende persele in Kameeldrift-Oos verwyder.”

Engels sê daar word baie opleidingswerk gedoen om mense se houding jeens slange te verander. “Ons het ʼn groot netwerk van opgeleide mense wat slange kan verwyder. Een van hulle kan beslis binne 15 minute by jou huis, perseel of plaas wees om ʼn slang te verwyder.

“Selfs die giftige outjies het ook ʼn doel in die lewe. Hulle help ons juis om teengif vir slangbyte te vervaardig,” voeg hy by.

  • Lesers wat ʼn slang wil identifiseer of laat verwyder kan by Mike Perry, ʼn kenner van slangbyte en slangverwydering, se Facebook-groepe aansluit. Nico Engels kan by 071 677 2186 geskakel word. Hy verwyder slange gratis maar verwelkom donasies.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Arsène ·

Daai eiers lyk nes mosbolletjies.
Bly ma slang en die kroos is veilig.
Dinokeng – jy sal my ongelukkig nie siennie

Willie ·

Te oulik, dankie dat jul die slang gered het… hulle het ook n doel in die natuur te vervul..

Welgedaan ·

Welgedaan aan die bewaarders van die natuur. Ongelukkig sal baie van hierdie slangetjies nie oorleef nie want hulle het baie vyande, siektes affekteer hulle ensovoorts.

Baie mense, soos ek ingesluit, is egter Ouma Beskuit bang vir slange en benodig skoon onderklere nadat ‘n slang gewaar is.

Leeutjie ·

Ja nee…in hierdie geval sal ek maar die onderklere moet weggooi!!!

Abe ·

jean,
Ja, pragtige diertjies. Alhoewel CITES die Suid – Afrikaanse spesies (sebae) nie as bedreig lys nie, waarsku hulle tog dat hulle habitat baie beperk word namate boswereld uitgeroei word.
Mens moet alles moontlik doen om hulle te beskerm.

LD ·

Sjoe! Dis omtrent baie slangetjies daai! Dit sou darem maar iets vreesliks wees as ek op so nessie afkom in die veld wat net-net uitgebroei is! Natuurlik is ek net so bang vir enige slang en het al perongeluk ñ klein luislang dood gemaak omdat ek nie regtig slange ken nie en hom verwar het met die berg adder aangesien hul patrone op die lyf amper dieselfde gelyk het. Het sleg gevoel toe iemand my inlig en sê maar dis eintlik net ñ klein luislang gewees! Ai… wens iemand kon hier op ons klein dorpie in Limpopo eendag ñ praatjie kom hou oor watse slange in die omgewing giftig is en watter nie, aangesien ek op ñ plaas bly en nogal baie slange kry. Ek ken wel die Mosambiekse spoegkobra wat baie baie hier gekry word, swart mamba, groen mamba, boomslang, pofadder, nagadder en bergadder en die ander gevaarlike een wat ons nog net 2 keer hier gekry het is die vinesnake. Maar dit sal goed wees om hulle almal goed te ken en nie net dood maak as dit nie nodig is nie!

Cherokee ·

Dit is nooit nodig nie. Kyk jy ooit die program ‘Snake City’ op TV? Ek het, maar dit was nie hier nie, ‘n klein pofadder in die sitkamer gevang en kilos ver in die veld gaan vrylaat.

VanAfrika ·

Ek het al n geel luislang om my nek gehad om my seun, toe nog klein, te beindruk. Hulle het gedink dis awesome dat hul ma wat skuit bang was, die slang om haar nek het. Moet sê dit was nie so erg nie want sy het doodstil gelê en die seuns het saggies aan haar gestreel dat sy eintlik haar kop rustig op my arm gelê het.
Maar bygesê, as ek n plaasboer was het ek lankal n hele kas van hulle in my huis aangehou, moordenaars/krimele is vreeslik bang vir satan se kind.

Mickey ·

Dit is wonderlik om te sien dat slang se kind n nuwe huis in die Dinokeng area gaan he.
Baie dankie aan die span wat hul groot gekry het en die ma los gelaat het.

Blommie ·

Van Afrika,

Ek stem 100% saam jou.
Ek is nou nie n slang mens nie. Maar ek glo aan leef en laat leef, Soveel as wat ons n reg het om asem te haal het hulle, ongelukkig dring ons hulle habitat in en nie anders om nie.

Willie ·

Die berig laat mens dink aan wat so jaar of wat terug gebeur het.
Het na ‘n kalf gaan soek wat nie huis toe gekom het nie, net so voor son onder.
Die 4 honde het ook saam gegaan, soos gewoonlik, op pad langs die boonste lyndraad het die luislang uit die gras gepeul en die een hond gevang.
Dit gebeur so vinnig dat voordat jy kan sien het dit klaar gebeur. Dis net slang en hy druk die hond (Labrador) binne sekondes mors, mors dood. Hoor net bene kraak.
Bloed peul oral uit. Dit het so 2m van die draad af gebeur, jy skrik jouself boeglam as die ‘ding’ uit die gras peul, amper onder jou voete.
Nie een van die honde het die ‘ding’ geruik, gehoor of gesien nie.
Lang storie kort, buurmanne het kom help om die ‘ding’ te vang en in ‘n sak te gooi. Maak ‘n meelsak vol.
Die een buurman, het die ‘ding’ daar ver in Marakeli gaan vry laat.
Die ‘ding’ was so op 5,5m. lank 2 manne moet die sak optel om op die bakkie te laai.
‘Bottomline’ moenie met die goed neuk nie, hulle is baie gevaarlik en blits vinning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.