Foto’s: ‘Olé olé’ weerklink in Kaapstad

Foto: GB Jordaan

Hulle mag dalk seer lywe gehad het ná hul klipharde kwarteindstryd teen Kenia, maar die Blitsbokke het vir hul tweede agtereenvolgende beker-eindstryd gekwalifiseer toe hulle Frankryk met 21 – 14 geklop het.

En waar hulle verlede week in Dubai met die louere weggestap het, het hulle nou die kans om iets soortgelyks in hul eie agterplaas te vermag.

Die Blitsbokke was egter vandag met 7 – 0 agter teen ’n begeesterde klomp Fransmanne wat probeer het om die Suid-Afrikaners fisiek te oordonder.

Foto: GB Jordaan

Maar die verskil tussen ’n span wat gereeld wen en een wat net af en toe aan die wenkant is, is dat jy aansienlik meer vertroue in die eersgenoemde het.

En goeiste, tans dink ʼn mens nie rêrig aan verloor wanneer jy die Blitsbok-superhelde in aksie sien nie.

Reeds ’n minuut of wat nadat die sirene vir rustyd geloei het, het Ruhan Nel gaan druk ná skitterende werk vooraf deur Seabelo Senatla en JC Pretorius.

Foto: GB Jordaan

Die spanne het met ’n gelykoptelling gaan asem skep en die Suid-Afrikaanse ondersteuners in die volgepakte Kaapstad-stadion het vrolik en bly rondgedans. En hoe dan anders: Hul span se voetbôl-vaardighede is deesdae iets om te aanskou.

Pretorius het kort ná rustyd die Franse verdediging soos ’n wafferse kulkunstenaar geflous, terwyl Shakes Soyizwapi met puik individuele werk die finale spyker in die besoekers se doodskis was.

  • Die Blitsbokke speel nou in ’n herhaling van verlede week se eindstryd teen Nieu-Seeland. Die Kiwi’s het met Fidji in hul halfeindstryd afgereken.
  • Die eindstryd begin om 18:56.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Ongelooflik hoe belangrik ‘n top-afrigter en administrasie is. Ons spelers het die talent, maar ai, politiek laat ons in die steek. Ek verwag dat die Engelse gaan klippe kou in die komende krieket wedsstryde, want ons het weer kwaliteit in beheer

Dubbelloop ·

Mens kan sien dat hierdie blitsbokke goed afgerig word. Powell is uitstekend. Die spelers speel ook as n span. Ek hoop regtig hulle kan die finaal ook wen hier op eie bodem. Go bokke go.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.