Foto’s: Olifant rol voertuig met gesin in

Die gesin het ongedeerd van die voorval afgekom (Foto: Verskaf)

ʼn Gesin van Mtunzini, KwaZulu-Natal, het Sondag amper hul moses teëgekom toe ʼn olifant hul voertuig bestorm en omgedop het.

Die voorval het die middag in die iSimangaliso Wetland Park in KwaZulu-Natal plaasgevind.

Volgens Bheki Manzini, woordvoerder van die park, was die gesin onderweg na Kaap Vidal.

“Die olifant het die motor met die gesin – onder wie twee volwassenes en twee kinders –  met sy tande omgestamp. Die motor het gerol en op sy sy beland. Die gesin was in die motor vasgekeer,” het Manzini bevestig.

Die gesin was onderweg na Kaap Vidal toe die olifant die motor bestorm het (Foto: Verskaf)

Parkbeamptes het op die voorval gereageer en die gesin uit die motor bevry. Al die gesinslede het gelukkig ongedeerd van die voorval afgekom.

“Hoewel sulke voorvalle nie ’n algemene gebeurtenis in die park is nie, wil ons besoekers waarsku om altyd waaksaam te bly en ’n afstand van minstens 50 meter van wild te hou, veral die groot vyf. Konflik tussen mens en dier ontstaan aangesien hierdie diere wild is en vrylik in die park rondloop.”

Volgens Manzini ondersoek die park se bestuur die voorval.

“Daar sal geen verdere stappe teen die betrokke olifant geneem word nie.”

Die olifant het die motor met sy tande omgestamp (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Mariana ·

Ek is bly olifant is ongedeerd. Mense dink nie as hulle die wilde diere se habitat betree nie. Jammer vir gesin maar het simpatie vir die diere.

Cherokee ·

Goed so dat geen verdere stappe teen die olifant gedoen sal word nie. LOL…

ROELOF ·

Hoekom nie die verdomde olifant aankla vir beskadiging van eiendom?

Dries ·

Dit gebeur baie maklik. Die Olifante loop in die pad waar die plantegroei langs die pad baie dig is. Karre agter hulle ontsenu hulle en hulle kan nie dadelik uit die pad gaan nie. Die motoriste raak dan ongeduldig en probeer hulle aanjaag en gaan te naby aan hulle

Dries ·

Dan gee hulle die ander olifante wat agter in die trop aankom dan die geleentheid om agter die voertuie in te beweef. Dan is die gort gaar. Die motoriste is dan tussen die olifante

Suzette ·

Wonder watter stappe kan nogal oorweeg word vir oom Ollie…. Dis eintlik skreeu snaaks

007 ·

Ek hou ook nie van Ford’s nie. Weet presies waardeer Oom Olifant moes gaan, die goed lek net olie op sy pad.

Waarnemer ·

“Daar sal geen verdere stappe teen die betrokke olifant geneem word nie”
Die olifant behoort voor die hof gebring te word en aangekla te word vir :
1)Poging tot moord.
2)Opsetlike beskadiging van eiendom.
3)Intimidasie.
en vir ten minste 5 jaar gevonnis word in C nax Pretoria sentraal.

Marius ·

Die Olifant het niks verkeerd gedoen nie. Die mens betree die wild se gebied en moet waaksaam en versigtig wees. Hou jou afstand. Nader is definitief nie beter nie.

Psyggie ·

Daar sal geen verdere stappe teen die betrokke olifant geneem word nie.”
Klassiek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.