Foto’s: Olifantkalf sterk goed aan ná strik-marteling

Fenya sterk goed aan by die Hoedspruit-olifant-en-ontwikkelingsentrum. (Foto: Facebook/Herd)

ʼn Olifantkalf wat bevry is uit ʼn draadstrik, is goed op die herstelpad. Die kalf, wat sedertdien Fenya gedoop is, was vermoedelik weke verstrengel en het nou ʼn veilige hawe by die Hoedspruit-olifant-en-ontwikkelingsentrum, oftewel Herd, gevind.

Fenya, omtrent twee en ʼn half jaar oud, is sowat twee weke gelede in ʼn private wildreservaat in die Phalaborwa-omgewing aangetref. Sy was stokalleen met geen teken van haar trop in sig nie.

Die draadstrik is om haar kop gevind. Sy het die strik minstens van die grond losgekry, maar as gekyk word na die toestand van die wonde wat die draad veroorsaak het, moes sy geruime tyd daarmee rondgeloop het.

Fenya smul aan haar bottel. (Foto: Herd/Facebook)

Herd gee sedertdien gereeld terugvoer oor die kalf se stadige pad na herstel – en die moeisame proses wat gevolg is om uiteindelik haar vertroue te wen. Honderde mense volg ook daagliks haar pad na herstel op sosiale media.

Vroeër die week het Herd op sy Facebook-blad aangekondig die kalf het bietjie meer energie en smul aan vrugte, gras en glukose. En deesdae ook ʼn olifant-gunsteling: maroelas. Fenya het haar ook al self begin natspuit.

Die wonde wat die strik veroorsaak het, kan steeds gesien word. (Foto: Herd/Facebook)

Sy was vroeër die week steeds baie swak en dr. Peter Rogers, ʼn veearts, het binneaarse behandeling toegedien om die olifant, wat sowat 400 kg weeg, ʼn verdere hupstoot te gee. Sy moes ook ʼn noodbloedoortapping ondergaan en was weens haar lang uithongering baie lusteloos.

Fenya is intussen na ʼn nuwe blyplek geskuif waar sy en nog ʼn weeskalfie genaamd Khanyisa mekaar van nader oor die heining leer ken het. Khanyisa is ook as weeskalfie na die sentrum gebring nadat sy in ʼn strik gevang is. Sy skakel deesdae goed in by die sentrum se Jabulani-trop.

“Olifante is ongelooflik sosiale wesens en die steun en vertroosting wat hulle binne familieverband aan mekaar gee is noodsaaklik vir hul welstand en groei. Om die twee wesies die kans te gee om ʼn band te smee terwyl hulle nog ʼn veilige afstand handhaaf gaan Fenya se rehabilitasieproses vergemaklik word en gerusstelling bied. Sy is al sowat twee maande lank, nadat sy in die strik gevang is, sonder haar eie trop,” sê die Herd-span.

Fenya ontmoet vir Khanyisa, ‘n kalfie wat ook in ‘n strik gevang is. (Foto: Herd/Facebook)

Aanvanklik het haar verdedigingsinstink en adrenalien haar aan die gang gehou, maar Fenya is sedertdien heelwat meer tuis en leer gaandeweg om diegene om haar te vertrou. Sy kom deesdae stadigaan nader om bas en gras te neem en bestee tyd in haar private tuin.

Herd sê omdat Fenya so beseer, wild en swak was, was dit aanvanklik die beste keuse om haar binnenshuis aan te hou waar verwarmers is sodat sy nie ekstra energie hoef te gebruik net om warm te bly nie. Teen Donderdag het die son lekker geskyn en Fenya kon ʼn ruk lank die wêreld buite verken.

Die kalfie begin stadigaan sterker word, maar is steeds nie buite gevaar nie. (Foto: Herd/Facebook)

Herd het egter gewaarsku Fenya is nog nie buite gevaar nie: Omdat sy so geweldig uitgehonger was, moet die span deurlopend verseker sy het genoeg energie om gewig op te tel en haar kragte op te bou.

“Sy het geen reserwes om op terug te val nie, wat elke dag ʼn tameletjie vir ons span maak.”

Fenya het vermoedelik weke lank met die draadstrik om haar kop geloop. (Foto: Herd/Facebook

Die span sê ná groot emosionele trauma en weens die gevoelige aard van olifantkalfies moet hulle deurentyd op hul hoede wees. Kalfies, veral dié wat intense trauma ondervind het, se toestand kan binne oomblikke versleg.

Herd het mense bedank vir hul voortgesette steun vir die projek – en al die goeie wense vir Fenya.

*Alle foto’s van die Hoedspruit-olifant-en-ontwikkelingsentrum. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.