Foto’s: Onnie in hospitaal ná brand by skool

Foto: Verskaf deur ER24.

ʼn Onderwyseres moes Maandag na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer word nadat ʼn brand by Erasmia Primary School in Centurion uitgebreek het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê toe hul paramedici by die toneel opdaag, het die provinsiale brandweer reeds die brand geblus.

“Paramedici het die juffrou, vermoedelik in haar 40’s, ondersoek en gevind dat sy ligte rookinaseming opgedoen het. Sy is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer vir verdere behandeling,” het Meiring gesê.

Volgens Meiring was daar gelukkig geen leerders by die skool ten tyde van die voorval nie.

Die Laudium-rampbestuurseenheid het op Facebook laat hoor net die mediasentrum van die skool het glo gebrand, maar ʼn amptelike beraming van die skade is nog nie bekendgemaak nie. Die oorsaak van die brand is in dié stadium ook nog nie bekend nie.

Die polisie ondersoek die voorval.

ʼn Woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.