Foto’s: Onsekerheid, vreugde terwyl leerders aanmeld vir klas

Marisha Hermann, ‘n leerder aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Gr. 7- en 12-leerders in Suid-Afrika is nou amptelik terug op die skoolbanke nadat die skole in Maart noodgedwonge gesluit is weens die Covid-19-pandemie. Dié leerders het egter vanoggend na ’n heel ander skoolomgewing teruggekeer as waaraan hulle gewoond is.

“Die onsekerheid is duidelik op hulle gesiggies te bespeur. Hulle is vreesbevange,” het Frik Greyling, skoolhoof van Laerskool Pierneef in Pretoria, Maandagoggend aan Maroela Media gesê. Die skool se gr. 7-leerders het vanoggend vir die eerste keer teruggekeer hoewel die onderwysers reeds twee weke gelede by die skool aangemeld het om vir dié dag voor te berei.

By dié skool het gr. 7-leerders vanoggend in rye gestaan sodat hulle temperatuur nagegaan kon word. Een leerder met ’n hoë liggaamstemperatuur is noodgedwonge huis toe gestuur, vertel Greyling.

Die dra van maskers is nou verpligtend by Laerskool Pierneef met klasse in kleiner groepe van 20 leerders elk verdeel sodat ’n afstand van 1,5 m tussen leerders gehandhaaf kan word. Die leerders bly ook heeldag in dieselfde klas met onderwysers wat van klas tot klas wissel.

Leerders aan die Laerskool Pierneef sit in blokke op die rugbyveld. (Foto: Verskaf)

Wanneer die pouseklok lui, moet leerders in rye na die rugbyveld beweeg waar die veld in blokke afgesper is sodat leerders ’n gesonde afstand van mekaar af kan sit en hulle toebroodjies geniet. Diegene wat gedurende pouse op die rugbyveld wil beweeg, word toegelaat om dit te doen. Dít natuurlik sonder om naby ’n maat te kom.

“Dit is die meeste mense wat ek in ’n lang tyd gesien het,” het een leerder verduidelik toe ’n onderwyser vra waarom hy so benoud lyk. “Ek dink nie die sielkundige aspek van die leerders word in ag geneem nie,” verduidelik Greyling. Hy erken dat hy nog nooit omstandighede van dié aard in sy loopbaan as skoolhoof beleef het nie.

By die Gereformeerde Skool Dirk Postma in Pretoria moes die gr. 7-leerders gedurende pouse in ’n sirkel sit en hulle toebroodjies eet terwyl elkeen se masker aan ’n wasgoedlyn in die son hang.

“Dit is ook nodig vir die kinders om vir ’n rukkie sonder die masker asem te haal,” het Erik Visser, skoolhoof verduidelik. Dié laerskool het reeds verlede Maandag heropen.

“Dit is baie vreemd vir die kinders. Die maskers was vir hulle lekker aan die begin, maar dit raak lastig. Dit is haalbaar in dié stadium, maar dit is moeilik. Die kinders sukkel om gewoond te raak.”

Die skoolbanke by die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Ook die ouer leerders sukkel met onsekerheid te midde van hulle terugkeer skool toe. “Dit is lekker om terug te wees, maar dit is baie vreemd,” het Tiffanie Heymans, ’n matriekleerder aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria, aan Maroela Media gesê. Dié skool het vanoggend vir die eerste keer vir gr. 12’s heropen.

Die skool se klasse is ook noodgedwonge in kleiner groepe verdeel sodat ’n afstand van 1,5 m tussen die meisies gehandhaaf kan word. Die matrieks se temperatuur is ook vanoggend nagegaan.

“Ons is nie gewoond om so skool te gaan nie. Dit is baie weird,” erken Heymans.

Matriekleerders aan die Hoër Jongenskool Paarl. (Foto: Verskaf)

Die Hoër Jongenskool Paarl in die Wes-Kaap het reeds verlede week hul matrieks terugverwelkom.

“’n Mens kan sien dat dit vir hulle lekker is om terug te wees saam met hulle maats hoewel die ‘normaal’ wat hulle die afgelope paar jaar geken het, nou skielik verander het,” het Willem Erwee, hoof van bemarking by die skool, verduidelik.

Volgens Erwee dra dié skool se seuns die afgelope week nie net maskers nie, maar ook plastiekgesigskerms. Die regte afstand word ook ten alle tye gehandhaaf.

“In die koshuis word kamermaats soos ’n gesin hanteer en kan hulle nader aan mekaar kom. Hulle temperatuur word wel soggens en saans nagegaan,” verduidelik Erwee.

By die skool hardloop die matrieks gedurende die dag op die skoolterrein om energie te verbrand.

“Gelukkig is jong kinders gewoond aan verandering en baie aanpasbaar. Hulle kort net leiding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jenny ·

Ek haat hierdie maskers.
As gevolg van my gehoorprobleem het ek liplees aangeleer en nou sukkel ek om te kommunikeer.
Ek wonder hoe gaan baie van die kinders wat ook met liplees beter hoor die onderwysers ordentlik hoor.

Faraway ·

Ek wonder . . .
As DUUR beskermde klere wat selfs jou bene en voete ook bedek in hospitale gebruik en gedra MOET word deur verpleegsters en Dokters om hulle te beskerm , hoe kan ons veilig voel MET NET HANDE WAS EN MASKERS?

TRP ·

Ek sluk bitter hard aan die knop in my keel elke keer wat ek hierdie tipe fotos sien, dit is eenvoudig nie normaal nie. Dit is so hartseer.

Anoniem ·

Ja Thelma, hierdie situasie is nie normaal vir kinders nie en ek het ook maar ‘n knop in my keel.

Pappa Beer ·

Ek stem Jenny, almal klink skielik soos Zet, “brubbel brub blub plub brrubbrub”, vertaling: ” hi daar, gaan dit goed”? Kyk bietjie mooi na die foto’s , arme kinders wat nie meer kinders mag wees nie. Hulle kan nie self dink, besluit of redeneer nie, hulle moet doen wat die “masker mense” se hulle moet. Daar is n ironiese beeld, veral in Suid Afrika, wat geskep word, “apartheid was verkeerd, kom ons hou ons jong boompies apart van mekaar.” Verstaan my ASSEBLIEF nie verkeerd nie, hierdie virus moet beveg word met alle mag MAAR, hoekom moet kinders in afgesperde blokke sit? Die sogenaamde regering is so opgevang in hulle eie magstryd tussen “wie is die baas cyril of kopdoek” dat die covid tweede sitplek moet vat.

Alida ·

Dit is winter ek duisende kinders en volwassenes gaan verkoue/griep kry maar die regering gaan alles aan Covid19 toeskryf. Dit is belaglik. Hulle moes die inperking 1 Junie tot 1 Augustus gemaak het dan was daar geen bohaai nie. Dan sou die skole genoeg tyd gehad om die water by skole aan te bring. Daar het 27 jaar verloop en steeds het sommige skole nie spoeltoilette en lopende water nie. Skandelik!!!

netekalleen ·

Hoeveel klas gaan gegaan word na die rye se temp klaar gemeet is?

Sarel ·

Die kinders kan ook eendag die deel van die Geskiedenis vir hulle kinders vertel. Wonder net of dit in die Geskiedenis aangeteken sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.