Foto’s: Ontmoet die 30 vroue wat om Mej. SA-kroon meeding

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie word weer vanjaar in Kaapstad aangebied.

Die 30 finaliste wat gaan meeding om vanjaar die kroon by die huidige Mej. SA, Lalela Mswane, oor te neem is Maandag amptelik bekendgestel.

Die diverse groep vroue sluit onder andere ʼn eiendomsagent, ʼn korporatiewe prokureur, ʼn veearts, onderwysers, modelle, entrepreneurs en regstudente in.

Gauteng het 13 finaliste opgelewer, die Wes-Kaap vyf en KwaZulu-Natal vier terwyl die Oos-Kaap deur drie vroue verteenwoordig word, die Vrystaat en Noordwes deur twee en Limpopo deur een.

Voormalige beoordelaar en Mej. SA 2015, Liesl Laurie-Mthombeni, liggaamspositiwiteitsaktivis Tracey-Lee Lusty Horwitz, sakevrou Koo Govender, modeontwerper Khosi Nkosi, sakevrou en bekroonde redakteur Makhosazana Zwane-Siguqa, en aktrises Simoné Pretorius en Thando Thabethe het vanjaar in die beoordelaarstoele gesit om dié groep finaliste aan te wys.

Volgens Pretorius was die lang ure wat dit geneem het om die 30 finaliste te kies bewys daarvan dat dit ʼn sterk groep vroue is wat meeding.

“Ek voel ongelooflik geëerd om op die beoordelaarspaneel van Mej. SA te wees. Ek volg die kompetisie vandat ek ʼn klein dogtertjie was en was nog altyd so geïnspireer deur die manier waarop hierdie vroue hul platforms gebruik om verandering te beïnvloed.”

Govender sluit by Pretorius aan en sê vanjaar se beoordeling was ʼn “streng en robuuste proses” omdat die kaliber vroue wat ingeskryf het volgens haar “in ʼn liga van hul eie” is.

“Om op hierdie paneel te sit is iets wat ek nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek verstaan dat dit ʼn groot werksonderhoud is en ek moedig altyd die deelnemers van die kompetisie aan om dit so te hanteer,” sê Laurie-Mthombeni oor haar betrokkenheid.

Tien finaliste sal op 13 Junie uit dié groep gekies word wat dan aan die eindronde sal deelneem.

Die 30 finaliste is:

  • Alyssa Smith (24) van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal is ʼn korporatiewe prokureur wat spesialiseer in private ekwiteitfondsvorming. Sy het aan die Universiteit van die Vrystaat en Varsity College studeer en hou van dans, reis, poësie, mentorskap en om baie tee te drink.

Alyssa Smith. (Foto: Verskaf)

  • Anarzade Omar (23) is van Crown Gardens, Johannesburg, Gauteng. Sy het ʼn BA in strategiese kommunikasie aan die Universiteit van Johannesburg behaal en werk tans as ʼn sosialemediabestuurder by ʼn digitale bemarkingsagentskap.

Anarzade Omar. (Foto: Verskaf)

  • Ayanda Thabethe (22) is van Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Sy is tans besig met ʼn graad in dieetkunde en menslike voeding. Sy sê sy kyk altyd net na drie TV-kanale – Cartoon Network, The Food Network en eNCA en maak soms asof sy haar eie kookprogram het wanneer sy alleen in die kombuis is.

Ayanda Thabethe. (Foto: Verskaf)

  • Ayanda Tloti (24) kom van Sterkspruit in die Oos-Kaap en verteenwoordig dié provinsie hoewel sy tans in Johannesburg woon. Sy het ʼn BA-graad in tegnologie in beeldende kunste en het al die geleentheid gehad om uitstallings by museums en kunsgalerye aan te bied.

Ayanda Tloti. (Foto: Verskaf)

  • Bethany Damonse (24) kom van Gqeberha in die Oos-Kaap – en verteenwoordig dié provinsie – maar doen tans haar gemeenskapsdiensjaar as veearts in Pretoria. Sy geniet die veelsydigheid wat die lewe bied en is ʼn nuuskierige mens wat altyd nuwe resepte of staproetes soek.

Bethany Damonse. (Foto: Verskaf)

  • Bianca Bezuidenhout (23) kom van Kaapstad. Sy het haar BA-graad in bemarkingskommunikasie aan die AAA School of Advertising verwerf. Sy is ʼn heeltydse vrywilliger, ambassadeur en bemarkingsbestuurder van ʼn niewinsgewende organisasie genaamd Forward Foundation en ook die eienaar van ʼn swemdragmaatskappy genaamd She Succeeds.

Bianca Bezuidenhout. (Foto: Verskaf)

  • Boniswa Mapisa (27) woon in Alberton in Gauteng en is in haar finale jaar van ʼn LLB-graad by Unisa. Sy het haar eie YouTube-kanaal waar sy raad gee oor haarsorg en sy het ook haar eie reeks haarsorgprodukte.

Boniswa Mapisa. (Foto: Verskaf)

  • Chuma Matsaluka (24) kom van Nyanga in Kaapstad in die Wes-Kaap en is ʼn modemodel en inhoudskepper wat aan die Universiteit van Kaapstad studeer het. Sy is tans besig met ʼn honneursgraad in antropologie. Sy hou daarvan om na dokumentêre misdaadrolprente te kyk, roomys te eet en kosmarkte te besoek.

Chuma Matsaluka. (Foto: Verskaf)

  • Fortunate Mabeleng (25) is van Potchefstroom en het ʼn graad in forensiese wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Sy werk as ʼn tutor en deeltydse ontvangsadministrateur en is tans besig om as ʼn forensiese beampte opgelei te word. Sy is mal oor koffie en sê sy is altyd baie stiptelik.

Fortunate Mabeleng. (Foto: Verskaf)

  • Itumeleng Parage (22) kom van Jabavu in Soweto, Gauteng, en het haar BA-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi. Sy is’n ywerige leser, geniet dit om te kook, is lief vir byna alle musiekgenres en sê haar rolmodel is Michelle Obama.

Itumeleng Parage. (Foto: Verskaf)

  • Keaoleboga Nkashe (26) is van Itsoseng, in die Ngaka Modiri Molema-distrik in Noordwes, maar woon tans in Hongkong waar sy ʼn nagraadse student, vryskutmodel en kleuterskoolonderwyseres is.

Keaoleboga Nkashe. (Foto: Verskaf)

  • Lebogang Mahlangu (26) is van Soshanguve in Tshwane, Gauteng, en werk vir ʼn multinasionale maatskappy as ʼn verkrygingspesialis. Sy het ʼn BSc-graad in voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy werk tans aan ʼn inisiatief genaamd TalkEat wat gesprekke met denkleiers aanmoedig en maaltye tydens elke regstreekse Instagram-gesprek wat aangebied word, skenk. In 2021 is 45 000 maaltye geskenk.

Lebogang Mahlangu. (Foto: Verskaf)

  • Lehlogonolo Machaba (25) is van Oskraal in Noordwes. Sy is ʼn modemodel, LGBTQI-aktivis en het ʼn nasionale diploma in mode van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie verwerf. Sy beskryf haarself as ʼn swart transgender vrou wat dit geniet om haar ware self te wees.

Lehlogonolo Machaba. (Foto: Verskaf)

  • Lisanne Lazarus (26) is van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal en het ʼn graad in uitsaaijoernalistiek aan die Durbanse Universiteit van Tegnologie voltooi waar sy ook die dekaan se meriete-toekenning ontvang het. Ná kerk op Sondae is haar gunstelingmaaltyd krapkerrie.

Lisanne Lazarus. (Foto: Verskaf)

  • Luvé Meyer (25) kom van Brackenfell in die Wes-Kaap. Sy het ʼn BA-graad in gesondheidswetenskap en maatskaplike dienste en ʼn honneursgraad in sielkunde aan Unisa behaal en is ʼn heeltydse model en kleinsake-entrepreneur.

Luvé Meyer. (Foto: Verskaf)

  • Luyanda Zuma (20) kom van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal en is ʼn internasionale model, entrepreneur en ʼn finalejaar performance-student by Afda. Een van haar grootste begeertes en langtermyndoelwitte is om soveel as moontlik hawelose vroue van die strate te verwyder en beter lewensomstandighede vir hulle te voorsien.

Luyanda Zuma. (Foto: Verskaf)

  • Misqah Snyders (26) kom van Kensington in Johannesburg, Gauteng, is ʼn LLB-gegradueerde van die Universiteit van Johannesburg en tans besig met ʼn BSc in inligtingstegnologie aan Eduvos. Sy besit ʼn klein aanlyn klerehandelsmerk en is mal oor alles wat met mode te doen het.

Misqah Snyders. (Foto: Verskaf)

  • Mphoentle Plaatjie (25) is van Waldrift, Vereeniging, in Gauteng. Sy het haar LLM-graad aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Sy is lief vir buitelugaktiwiteite, speletjiesaande saam met geliefdes en om heeldag in die bed na dokumentêre rolprente te kyk.

Mphoentle Plaatjie. (Foto: Verskaf)

  • Naledi Matabane (26) is van Tembisa in Gauteng. Sy het ʼn nagraadse diploma in rekeningkundige wetenskap en is tans ʼn leerling-ouditeur by ʼn groot ouditfirma. Sy sê sy is ’n grimeer-entoesias en geniet dit om tyd saam met familie en vriende deur te bring asook om na kookprogramme te kyk en nuwe resepte te probeer.

Naledi Matabane. (Foto: Verskaf)

  • Ndavi Nokeri (23) kom van Tzaneen in Limpopo. Sy het ʼn BCom-graad in beleggingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria behaal en werk tans vir ʼn batebestuursfirma in Kaapstad. Sy speel al sedert die ouderdom van ses netbal en het Limpopo vir etlike jare in die nasionale wedstryde verteenwoordig.

Ndavi Nokeri. (Foto: Verskaf)

  • Nompumelelo Mampholo (26) is van Diepkloof in Soweto, Gauteng, maar woon tans in Sandton. Sy is ʼn eiendomsagent en stigter en uitvoerende hoof van Conqueres Connect, ʼn afvalbestuur- en herwinningsoplossingsmaatskappy in jeugbesit.

Nompumelelo Mampholo. (Foto: Verskaf)

  • Nthabiseng Kgasi (26) is van Protea Glen in Soweto, Gauteng. Sy het ʼn bemarking-en-kommunikasie-graad sowel as ʼn honneursgraad in mediastudies aan IIEMSA (voorheen bekend as Monash Suid-Afrika) behaal. Sy werk tans as ʼn bemarker vir ʼn groot telekommunikasiemaatskappy en geniet dit om tyd in die buitelug deur te bring.

Nthabiseng Kgasi. (Foto: Verskaf)

  • Pearl Ntshehi (25) is gebore en getoë in Mamelodi, maar woon tans in Centurion in Tshwane, Gauteng. Sy is ʼn kandidaatprokureur en het BCom-regte studeer. Sy streef daarna om ʼn impak op die land se regbank te maak, het ʼn passie vir jeugontwikkeling en vroue in die regte en verkies om niefiksie te lees.

Pearl Kgasi. (Foto: Verskaf)

  • Shevon Periera (25) is van Roodekrans, Johannesburg. Sy het ʼn BCom-entrepreneurskap-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal en werk tans as ʼn model sowel as ʼn sakekonsultant by ʼn mediesefondsmaatskappy.

Shevon Pereira. (Foto: Verskaf)

  • Stacy Gossayn (25) kom van Viljoenskroon in die Vrystaat, maar woon tans in Pretoria. Sy het ʼn BSc-graad in menslike bewegingswetenskappe behaal en werk as ʼn chirurgiese ortopediese mediese verteenwoordiger. Haar liefde vir skoonheidsprodukte het daartoe gelei dat sy ʼn diploma in professionele grimeerkuns gedoen het. Sy is tans ook besig om ʼn diploma in sportvoeding te voltooi.

Stacy Gossayn. (Foto: Verskaf)

  • Tamsyn Jack (25) kom van Somerset-Wes in die Wes-Kaap en is ʼn entrepreneur. Sy het ʼn voedselwetenskapgraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en beskryf haarself as dapper en nuuskierig. Sy luister graag na poduitsendings terwyl sy regmaak vir die dag en dit is haar droom om die vroueregte-aktivis en aktrise Emma Watson te ontmoet.

Tamsyn Jack. (Foto: Verskaf)

  • Thulani Ndzotyana (24) kom van New Brighton in Gqeberha, Oos-Kaap, en werk as ’n senior kunstenaarsagent, sosialemediabestuurder en model. Sy is tans besig om haar BCom-regte te voltooi en is ʼn trotse Mamelodi Sundowns-aanhanger.

Thulani Ndzotyana. (Foto: Verskaf)

  • Tlotlo Mabiletsa (27) is in Mafikeng in Noordwes gebore, het in Pretoria grootgeword en het ʼn BSc-graad in mensfisiologie aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Sy woon nou in Fourways en studeer by ʼn internasionale farmaseutiese maatskappy in Johannesburg.

Tlotlo Mabiletsa. (Foto: Verskaf)

 

  • Tyhler Duimpies (23) kom van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap, het nagraadse kwalifikasies in bemarkingsbestuur en werk as ʼn bemarkingsvrywilliger. Sy luister graag na musiek in haar vrye tyd en sê dit is haar droom om eendag na Los Angeles te reis en die stad se helder ligte te ervaar.

Tyhler Duimpies. (Foto: Verskaf)

  • Zoey Seboe (22) is van Midrand in Gauteng. Sy werk deeltyds as ʼn model terwyl sy haar regsgraad by Eduvos voltooi. Sy beskryf haarself as selfversekerd en vriendelik. Haar ouma is haar rolmodel.

Zoey Seboe. (Foto: Verskaf)

Vir meer inligting, besoek: www.misssa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jack ·

Nee wat.politieke maskerade en net ‘n absolute tydmors.Die kompetisie val al vir die afgelope 20 jaar op die planke.Geen doel en geen meriete.Daar is beter dinge om te doen.

Misky ·

Heelwat “plastiek” vrouens onder die finaliste. Bianca my gunsteling.

Anonymouse ·

Ons het darem mooi vrouens in hierdie land! Luyanda Zuma lyk soos ‘n pop. Maar ek dink Shevon en Naledi het die meeste die Miss SA tipe voorkoms. Wonder hoekom party van hulle nie ‘glamour’ foto’s gedoen het nie — die swakker kwaliteit foto’s doen hulle ‘n onreg aan.

Frank ·

Anonymouse, ek dog dis ‘n skoonheidkompetisie? Demografie verspreiding het NIKS hier met die prys van eiers te doen nie

Vonkprop ·

Wat is die punt van skoonheidskompetisies deesdae? Ek bedoel wat is die nut van swemdrag, aandrag, op en af loop met forseerde glimlagte op ‘n verhoog en ‘n klomp danspassies as die eintlike doel vir hulle is om ‘n verskil op hulle medemens te maak? Dan antwoord hulle een vraag, iemand word gekroon en siedaar, hoor nooit weer van hulle na ses maande van kroning. Hier is ‘n paar slimkoppe. Gee eerder vir hulle projekte in hulle gemeenskappe en gebaseer oor hoe goed die projek ontvang is kroon ‘n Mej SA op dit. Skoonheid waarborg nie verstand nie.

Jean ·

Mens kan dieselfde sê van rolprente maak, sport ens. Hulle doen dit want hulle hou van dit.

Louise ·

Hierdie drie staan nogals uit vir my!
Tamsyn Jack, Shevon Pareira, Pearl Ntshehi

Louise ·

Almal baie mooi, my drie sal wees – Naledi, Shevon en Ayanda. Die een dame se gesig en hande pas nie bymekaar nie.

Blomme ·

En die wenner is. …… Nie eens meer opwindend of ń verrassing nie,!Politiek neem mos oral oor.

007 ·

Ek kan nie dink hoekom skryf ons mense nog in vir dit nie. Hulle gaan net weer verneder voel soos laasjaar en die jaar voor dit. Nie ‘n kans as die politici so inmeng en alles afdwing nie. Sterkte vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.