[Foto’s] Onverwagse sneeukombers vir SA

Sneeu tussen Elliot en Barkly-Oos in die Oos-Kaap. Foto: SAPD

Sneeu in November in Suid-Afrika is beslis nie ʼn algemene verskynsel nie, maar dit is wel die prentjiemooi gesig wat talle Suid-Afrikaners vanoggend begroet het.

Sneeu het Woensdagnag oor plekke in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat voorgekom en op sommige plekke het die sneeu só dik gelê dat paaie gesluit moes word en voertuie uit die sneeu gesleep moes word.

Talle sneeufoto’s is op sosiale media gedeel onder meer in gedeeltes van die Drakensberge, asook in Underberg, Clarens, Fouriesburg, Elliot en Matatiele. Gedeeltes van Lesotho het ook deur die nag sneeu gekry.

Jacqueline Modika, ʼn voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het Donderdag aan Maroela Media gesê hoewel ʼn laedruk-stelsel, wat gewoonlik bewolkte weer en reën meebring, nie ʼn ongewone verskynsel in November is nie, is die intensiteit van die stelsel wat tans oor die land beweeg wel ongewoon. “Hierdie stelsel wat ons tans ervaar is ʼn bietjie laat in die seisoen en dit is ongewoon om so intense verlaging in temperature te ervaar dat ons nou só ʼn aansienlike hoeveelheid sneeu sien val,” het Modika gesê.

Sneeu tussen Elliot en Barkly-Oos in die Oos-Kaap. Foto: SAPD

Sy het gesê die SAWD verwag egter nie enige verdere beduidende sneeuval nie, hoewel nog ligte sneeu deur die loop van die dag oor bergagtige gebiede in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag kan word. “Die stelsel sal teen vanmiddag begin lig en teen die naweek die land verlaat. Ons voorspel dat temperature teen die naweek weer sal begin om vinnig te styg,” het sy gesê.

Sy het gesê daar kan vandag ook reën oor die oostelike dele van die Oos-Kaap en die suidelike dele van KwaZulu-Natal verwag word. Sterk wind van tussen 50 tot 60 km/h word ook vir die sentrale gedeeltes van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes verwag, asook die noordelike dele van die Oos-Kaap en noord-oostelike dele van die Wes-Kaap.

Kol. Michelle Matroos, ʼn polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, het in ʼn verklaring bevestig ongeveer tien voertuie het Woensdagnag op die R58 tussen Elliot en Barkly-Oos vasgeval, hoewel geen beserings aangemeld is nie. Padskrapers is Donderdagoggend gebruik om paaie in die gebied oop te skraap en op plekke tussen Barkly-Oos en Lady Grey is daar ook ys op die paaie aangemeld. Motoriste word aangeraai om versigtig te wees wanneer hulle paaie in dié gebied gebruik.

Snow Report SA het talle foto’s van die sneeu op sy amptelike Facebook-blad gedeel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wit Kersfees ·

Sjoe kans vir ‘n Wit Kersfees en jy hoef nie Europa toe te gaan om dit te beleef nie. Die eerste sneeu het reeds eergister ook in Oostenryk begin val!!!!!

Connie ·

Ongelooflik. My valley daai. In November. Alhoewel dit het al 25 Desember ook kapok. Dis so mooi. Het dit so lanklaas beleef.

Marianne ·

Dank die Here!!! Sneeu bring verligting, dit smoor kieme, dit smelt en gee water.
U hoor ons gebede. Groot is U naam.

CHRISTA ·

Hannes, ek sê ook ek dink die slim mense wat so praat van “global warming” sit op ‘n “light globe” wat aangeskakel is en DIS die “warming” wat hulle onder hulle voel!

Kom Ons Boks ·

“An Inconvenient Truth” van Al Gore lyk nou baie vir my na “A Convenient Lie”. Sneeu neerslae bring gelukkig baie vogtigheid wat dan die dam vlakke in Oos Kaap effe behoort te help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.