Foto’s: Onwettige straatwedren eindig tragies vir ‘deelnemer’

Nooddienswerkers op die toneel. Foto: Verskaf

Nooddienswerkers op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn Man wat na bewering Sondag in die vroeë oggendure aan ʼn onwettige straatwedren in Kaapstad deelgeneem het, is dood nadat hy glo beheer oor sy motor verloor en gebots het.

Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid van veiligheid en sekuriteit, het die ongeluk omstreeks om 01:30 op 24 Mei in Ou Strandfonteinweg, tussen Klipweg en 5de laan, naby Ottery plaasgevind.

“Die motoris het tydens die wedren beheer oor sy motor verloor en verskeie verkeerstekens langs die pad getref,” het Smith Maandag gesê.

Die motor wat gebots het. Foto: Verskaf

Die motor wat gebots het. Foto: Verskaf

Die stad se verkeersdiens moes die pad sluit weens die aantal toeskouers wat op die ongelukstoneel saamgedrom het. Die man is omstreeks 03:00 dood verklaar.

Die man se naam en ouderdom is nog nie bekendgemaak nie.

Smith het sy medelye teenoor die man se familie en vriende uitgespreek.

“Dit is hartseer, want dié tragedie kon verhoed word. Ons kry baie kritiek van motorgeesdriftiges oor ons wetstoepassingpogings, maar ek hoop dat hierdie voorval mense van die gevare van onwettige straatwedrenne bewus sal maak. Daar was honderde toeskouers langs die pad toe die voorval plaasgevind het en ek sidder om te dink hoeveel erger die nagevolge sou wees as die toeskouers getref is,” het hy bygevoeg.

Verkeersbeamptes het op dieselfde dag in die Ottery-omgewing twee mense in hegtenis geneem vir roekelose of nalatige bestuur en 12 mense vir dronkbestuur. Altesaam 407 verkeersboetes is vir verskeie oortredings uitgereik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lappop, van die Ashoop ·

Hoekom maak die verkeersafdeling dan nie vir hierdie renjaers ‘n stuk pad toe oor naweke , laataand wanneer die verkeer minimum is , sodat hulle hul jage kan jaag onder wettige en meer veilige omstandighede vir die renjaers en die toeskouers nie.

Paplepel ·

Hulle stel nie daarin belang nie. ‘n Straatren is presies dieselfde ding as twee honde wat weerskante van ‘n heining staan en blaf. Dis die ou probleem van “myne is groter as joune”. Die Engelse noem dit sommer ‘n “P!$$!ng contest.” Sodra jy dit begin organiseer gaan soek hulle net ‘n ander straat om in te jaag.

zahn ·

Kan mens nie net probeer nie? Voor ons dit summier afskiet. Probeer jou indink in die jongmense se situasie. Hulle het regtig niks om te doen nie. Die wêreld verander, hulle lewe nou in ‘n aqnder tyd as ons. Ek moet sê, party van die karre lyk maar erg simpel, met die lae stoeltjies en al. Maar, ander lyk weer heel goed. Ek sal self so iets gaan kyk, in my opinie soms baie beter as “Stock car racing” wat in elk geval dood gereguleer word.

Charles ·

Dis waarvoor renbane is. Die mense wat so jaag, is nie professionele renjaers nie, en gevaar vir hulself en ander mense, omdat hulle hulself baie keer oorskat, om nie te praat van toeskouers nie. As iemand wil gaan jaag, moet hulle dit om ‘n baan gaan doen, nie openbare paaie nie. Daar is verskeie openbare renbane in SA vir amateur renjaers om hul ding te doen. Hier aan die Oos Rand, is daar 2 plekke vir die doel.

Pops ·

Ek stem saam met Charles, dit is waarvoor daar renbane is. En soos die opskrif lui, dit is ‘n onwettige straatwedren. Jy MAG NIE op ‘n openbare pad resies jaag of teen ‘n hoër snelheid as die spoedgrens ry nie. Daar is al hoeveel onskuldige mense beseer en selfs dood wat na hierdie renne gaan kyk het. Gaan na ‘n renbaan, daar kan almal hulself in ‘n veilige omgewing geniet!!

KAG ·

GEEN simpatie hier nie. Soveel onwettighede in ons samelewing deesdae dis om van naar te word. Dankie tog die persoon het nie onskuldiges beseer terselfdetyd nie. So moeg vir wetteloosheid in die land.

Peet Schabort ·

Daar sal nooit geleer word dat ‘n renbaan NIE randstene, bome, mure, geboue ens. het om in vas te ry nie.
Ons het in die omgewing van Evander ‘n ovaal grondbaan gehad waarop daar dan gejaag is. Ook tydrenne is onder streng reëls aan deelgeneem.
Dis van die redes wat aanbeveel word om jou as jongmens te geniet en van jou ‘n VEILIGE bestuurder te maak want jy leer om jou voertuig te ken. K53 kan maar gaan slaap vir die bestuursvernuf wat sodoende opgedoen word.
Die wagwoord is altyd: KEN JOU VOERTUIG ONDER ALLE TOESTANDE.

CHRISTA ·

Dit lyk asof so baie van ons motorbestuurders se breinselle so min is dat hulle nie kan verstaan hoekom ons spoedbeperkings op ons paaie het nie.

Chantelle ·

Ja jong en so het hierdie wat preek nog altyd net die straight en narrow geloop. Selfs nou nog hou julle by die 10 commandments ne? Don’t judge someone because they sin differently than you …. Just some food for thought.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.