[Foto’s] Oorsaak van haaie se dood bekend

Foto: Sharkwatchsa.com.

Drie witdoodhaaie het die afgelope week onder verdagte omstandighede aan die kus in die Wes-Kaap uitgespoel. Wat dié voorvalle egter so vreemd maak, is dat die haaie deur moordvisse doodgemaak is, spesifiek vir hul lewers.

Sharkwatchsa.com berig die eerste haai het 3 Mei op Franskraal se strand uitgespoel. Alison Towner, bioloog by die Dyer Island Conservation Trust, het gesê dit is die vyfde haaikarkas wat sedert 2012 in die Gansbaai-area uitspoel.

“Die haai wat hier uitgespoel het, is vroulik en is sowat 4,9 m lank. Sy weeg 1,110 kg. Daar is ʼn oop wond aan haar onderkant,” het Towner gesê. Die vis se lewer is weg.

Die tweede haai is 5 Mei gevind, ook op Franskraal. Dié keer was dit ʼn 3,4 m lange manlike haai met groot wonde aan sy sye. Dié haai se hart én lewer is weg.

Die derde haai het 7 Mei op Struisbaai uitgespoel. “Ons het nog nooit so iets gesien nie. Dis ʼn 4,2 m lange manlike haai en sy beserings strook met die vorige twee karkasse sʼn,” het Towner gesê.

Sy lewer is ook verwyder, maar hy het nog sy hart gehad. Daar is oorblyfsels van ʼn rob in sy maag gevind en ʼn punt van ʼn pylstertvis in sy kaak.

Die omvattende nadoodse ondersoeke het die meet van die haai, die onttrek van parasiete en stukkies weefsel, die meet en ondersoek van die wonde asook die ondersoek van die geraamte ingesluit. Al die organe van die visse is ook geïnspekteer, geweeg en gemeet.

Daar is bevind dat al drie haaie dood is as gevolg van moordvis-aanvalle. “Hierdie waarneming is ongehoord. Uit foto’s en genetiese en opsporingstudies weet ons dat dié haaie net vir rukkies hier by ons is. Ons kon elkeen van die haaie aan ons databasis koppel, maar van nou af is dit moeilik en ons weet nie hoe lank dit hulle sal neem om terug te keer nie, as gevolg van die druk wat die roofdiere in die area op hulle plaas.

“Dit is uiteraard ʼn baie moeilike tyd vir ons almal. Die natuur kan só wreed wees en die behendigheid van hierdie reusevisse is ongelooflik. Vir hulle om die skwaleenryke lewer te onttrek en die karkas net so te los, is ongelooflik,” het Towner gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dissie ·

Daar is ‘n baie interessante dokumentêr op Youtube oor spesifiek moordvisse wat die haaie so aanval deur hulle om te dop en te laat slaap, sodat hulle presies dit kan doen. Die haaie sal dan ook wegbeweeg vanaf die kus, aangesien hulle ‘n meganisme het om ander haaie te waarsku.

Simone de Villiers ·

Kan jy moontlik die link aanstuur? Sal graag wil kyk.

cor ·

Seker verkoop die moordvisse die haai lewers aan china vir moetie, soos die renoster horings ,donkie velle, leeu pote en tande. Wonder maar net snaakse goed gebeur deees dae

Hannah ·

Ek het vanoggend op Daily Mail in Engeland dieselfde storie gelees. Verstommend hoe die Skepper natuur saamgestel het.

Cobus ·

Verstommend dat mense wat hulself as Christene sien voorwaardes wil stel oor watter meganismes God dan nou mag gebruik of nie mag gebruik het nie om alles om ons te skep.

Rusco ·

Maak die haaie slimmer soos in deep blue sea ja die haaie kan in n trans gaan as jy aan sy neus vryf en op sy,sy flip die orkas is baie meer intelligent as die haaie as hy n walvis se klein kan verdrink of sky van sy moeder is die orka super intelligent

Brenda du Toit ·

Baie dankie vir hierdie omvattende berig. Die witdoodhaai is reeds ‘n paar jaar gelede deur Wilfred Chivell, eienaar van Marine Dynamics en stigter van die Dyereiland-bewaringstrust, verander na grootwithaai in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal). Hierdie is juis gedoen om die negatiewe persepsie wat gepaard gaan met hierdie ikoniese haaispesie te verander. Dit sal waardeer word as ons almal hierdie woord kan begin gebruik as sulks. Saam kan ons ‘n verskil maak en ons oseane beskerm.

N Lourens Reitz ·

Cor dit was nou skerp.Lekker gelag vir daai opmerking.
Cobus daarom is Hy God (soewerein) wat alles rondom ons geskep (werkwoord) en geskape het..

Jaco Prins ·

Lyk my dit was ‘n geval van; “toe die kat weg is, is die muis baas” nou dat die moordvisse terug is , is die great whites nie so great nie. DIt sal intressant wees om te sien hoe die ekosisteem reageer. Kyk gerus die video oor die terugkeering van Wolwe na Yellostone National Park in die VSA.

Marius Meyer ·

Hmm…dalk n Chinese ‘moord vis’ wat nie meer vinne versamel nie maar meer kry vir die lewer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.