[Foto’s] Oorstromings ná swaar reën in Pretoria

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Swaar reën het Maandagmiddag chaos in die ooste van Pretoria veroorsaak, waar paaie en parkeerterreine in Silver Lakes oorstroom het en motors op laagwaterbrûe vasgekeer is.

Kgoloselo Mahlangu, ʼn voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het aan Maroela Media bevestig dat die weerdiens berigte van oorstromings in die gebied ontvang het, maar kon teen Maandagmiddag nog nie die omvang van die skade bevestig nie. “Ons wag vir meer inligting voor ons werklik kan bepaal of daar skade was en wat die omvang daarvan was,” het Mahlangu gesê.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Volgens berigte op sosiale media het dit meer as 100 mm in Silver Lakes gereën, maar Mahlangu kon dit ook nie dadelik bevestig nie. “Ons wag nog vir inligting oor presies hoeveel dit daar gereën het. Ons verwag dat dit nog tot minstens 18:00 in die gebied sal reën en inwoners kan nog ʼn bykomende 5 tot 10 mm reën te wagte wees,” het sy gesê.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê noodwerkers is na ʼn toneel ontbied waar twee motors op ʼn laagwaterbrug vasgekeer is en die insittendes op die motors se dakke moes klim om uit die water te kom. Omstanders het egter vinnig hand bygesit om die mense van die motors se dakke te help.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

“Daar is ʼn paar laagwaterbrûe en kelders wat oorspoel het en van die vlaktes is onder water. Ons is tans besig om die gebied te monitor en sal help waar nodig,” het Pieterse gesê. “Motoriste word aangeraai om weg te bly van laagwaterbrûe of enige gevaarsituasies af. Ons verstaan daar is nog reën aan die kom en tans reën dit oor die grootste dele van Pretoria. Ons is nietemin baie dankbaar vir die reën wat ons so desperaat nodig het.”

Die onderstaande foto’s van die vloedwater in Silver Lakes is op sosiale media gedeel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

thea ·

Hi almal julle moet asb steeds WATER spaar. Hul se vaaldam net 25 persent vol. Reen van nou gaan nie na vaaldam nie-hoop glo, vertrou Ons Vader sal laat reen waar dit moet dankbaar vir dit. Lekka naweek. Groete almal. Ry mooi en kom veilig tuis ne…..

Buitestander ·

Jammer julle waarsku mense van die oorstroomde laagwaterbruge.
Ons gaan nou weer ‘n paar cowboys kry wat kan wys hy/sy kan met hulle 4X4’s daar deur ry en niks oorkom nie.
Ken geen verskil tussen gevaar en bravaheid nie. Sterkte manne wie kan deur die diepste waterstrome ry veral as jy ‘n dissel masien het.

VW Kewer ·

Ai dit laat my terugdink na 17Des1966 toe ek met my bruid die nag deur die Tugelarivier ‘geswem’ het met my VW Kewer min wetende dat die pad gesluit was vir selfs viertrekvoertuie. In die 6volt ligte het donker gedaantes stroomaf beweeg. Daardie donker gedaantes was boomstompe!!
Buitestander, ‘n “dissel masien” oftewel ‘n dieselenjin kan maar gaan slaap vir daardie kewerenjin wat agter sit en met ‘n goeie rubber die enjin beskerm teen oorstroming. Vra my, ek weet want ek is letterlik deur diep waters met daardie VW Kewer.

Penellope Jones ·

Wonderlike nuus – hoop net die waters loop riviere en damme toe!

Van ·

ja ek hoop ook so en dat die water nie by ‘n stukkende waterpyp erens die pad sal afloop veld toe nie

Willem vd Berg ·

Stuur asb v ons boere ook v daardie vloede liewe Heer.

Pretorianer ·

Vloede rondom Silverlakes en in die ouer woongebiede soos Lynnwood en Menlopark is die grond onder bome nie eers nat nie!

Marie Cloete ·

Ek is dankbaar vir die reën waarmee die Here ons aarde seën. Hy sal die droë dele ook nog seën met genadewater! Amen!!

Lance ·

Baie van die afvoerpype is geblok omdat dit nie skoongehou word deur die Tshwane stadsraad nie en het toe oorstroom

popeye ·

Dankie vir die fotos, dit roep vae herinneringe van ‘n verre verlede op van wat reën (water) in my wêreld is…..baie dankbaar vir PTA of is dit TWNE?

Ruben van Water Kloof Glen ·

Ons is dankbaar dat dele van Pretoria, Gauteng, Vrystaat en die Kruger Wildtuin goeie lewensgewende reën gekry het, by ons het skaars 1mm geval , soos ”Pretorianer” ook noem, maar hoop op reën later in die week, asook veral vir die landbougebiede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.