Foto’s: Oos-Kaapse kleuters veilig gevind

Die seuntjie is agter ‘n sandduin gevind waar hulle op klippe op die grond gelê het. Foto: SAPD

Die Oos-Kaapse polisie het Donderdagoggend bevestig dat al drie vermiste kleuters van Motherwell teen gisteraand veilig gevind is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê nadat Linandle Zenzile (3) Woensdag omstreeks 14:25 by ʼn steengroef tussen Uitenhage en Motherwell gevind is, het die soektog na Othandwayo Zenzile (3) en Nande Nombewu (3) voortgeduur.

“Omstreeks 19:00 was lede van die Motherwell-polisie besig om die gebied om die steengroef te fynkam, toe lt.kol. Jesvin Arends en AO Francois Marais ʼn kind se stemmetjie agter ʼn sandduin gehoor het. Othandwayo en Nande is gevind waar hulle op klippe op die grond gelê het. Hulle was omtrent 7km weg van hul huis af,” sê Naidu.

Al drie kinders is in ʼn hospitaal in Uitenhage opgeneem waar hulle medies ondersoek word.

“Dit was oorweldigend om te sien hoe gemeenskappe van regoor die metro hul hulp aangebied het om hierdie kinders op te spoor. Mense het reguit van die werk af gekom en by die soektog aangesluit,” vertel genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-groepering.

“Ons is net bly die kinders is nou veilig en met hul ouers herenig. Ons doen ʼn beroep op ouers om ekstra versigtig te wees en seker te maak hulle weet ten alle tye waar hulle kinders is. Kinders wat so jonk is, kan nooit onder ʼn volwassene se oë uitgelaat word nie.”

Maroela Media het vroeër berig Linandle, Othandwayo en Nande het Dinsdagmiddag in ʼn oop stuk veld naby hul huis gespeel. Nadat die kleuters omstreeks 15:00 nie meer gewaar is nie, het hulle ouers in die omgewing na hulle begin soek. Die polisie is omstreeks 22:00 ontbied toe die kleuters teen daardie tyd steeds nie gevind was nie en ʼn volskaalse soektog is van stapel gestuur.

Volgens berigte het die kinders se ouers gesê die kleuters het vermis geraak nadat hulle ʼn bees gejaag en toe verlore geraak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

ZAR ·

Prys die Heer! Ek is baie dankbaar hulle is veilig gevind! Ek kan my net indink hoe verheug die ouers is.
Ons is saam met julle bly.

shannon ·

Ek dink die berig merk dit duidelik – die polisie het die kleuters gevind.

lanie ·

Dankie aan almal wat help soek het. Klein kindertjies speel en besef nie hulle dwaal af nie.

Delia ·

Dankie tog. Pragtige fotos. Dankie SAPD.
Julle dien julle gemeenskap.

Essa ·

Dankie tog!! Puik optrede deur SAPD én die gemeenskap om die brawe mannetjies betyds te vind. So baie kon verkeerd gaan. Dankie MM vir die vinnige opvolg – goeie nuus is so welkom.

JO ·

Wonder waars al die tannies wat direk gespring het na mensehandel?

Aapstert ·

Dit is ongelukkig die tye waarin ons leef maar hierdie is ‘n wonderwerk wat die Here vir ons gewys het alles is nie verlore nie, ons moet nie moed verloor nie.

Blom ·

Ek het ook sommer so hartseer gevoel toe ek die hulle so sien lê op die klippe. Hulle was ‘n hele nag so alleen! Elkeen ‘n skoen ook verloor en so in die veld geloop. Net so bly hulle is veilig!!

Morrie ·

Dankie Abba Vader dat U die kindertjies veilig gehou het. Aan almal wat help soek het ook dankie. Hier word gereeld gekerm oor hoe swak ons polisie dienste is, moenie altyd veralgemeen nie. So bly om nuus te lees met n goeie einde.

Lizelda ·

Hierdie kinders het n hele paar Engele gehad om hulle veilig te hou. Ek is so dankbaar hulle al 3 is veilig en aan almal wat help soek het. Maar ja, ouers kan nie hulle kinders vir n sekonde sonder supervisie laat nie.

Paul ·

Dit is die beste nuus van die dag.Ons wonderlike Vader het Sy groot genade hand oor hulle gehou.Geseend is almal wat gehelp het met die soektog.

minx ·

Dankbaar dat hierdie kinders lewend gevind is!
Terselfdetyd is ek ook dankbaar dat ek sommer hieruit ‘n “wakeup”call” kon kry,ons as ouers besef nie altyd hoe klein ons kinders eintlik nog is nie.
Hou daardie kinders styf vas mammas!

Marius ·

So bly hulle is gekry! Jy kan net dink hoe erg dit vir hulle moes wees om so sonder hulle mammas die nag in die veld te moes deurbring. Hoop hulle het somer n groot bord lekker kos en baie sweeties gekry.

Mads ·

Dankie tog hulle is veilig.

Goeie werk SAPD asook almal wat betrokke was.

Ouers pas julle kinders op.

Elizabeth ·

Dankie Here, hulle veilig, kinders sal maar kinders wees? Altyd opsoek na avontuur. Maar ongelukkig in vandag se lewe waar niks meer veilig is nie, kan jy hulle nie meer n oomblik alleen laat nie. Dankie Polisie .

Wonderlik ·

Dit is wonderlike nuus, baie dankie aan almal wat help soek het.

VanAfrika ·

Aag jiine tog, ons eerste “outing” op ons eie. ek sou nou graag wou hoor wat hulle vir mekaar gesê het toe hulle agterkom hulle het verdwaal en dat hulle nou sonder kos gaan slaap op n bed vol klippe. En wat het hulle gedoen toe die nag oor hulle toesak en daar is geen ligte nie, veral nie daar waar hulle was nie, stik donker dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie.
Ek het ook al verdwaal en dit was nie my ma se skuld nie. Ek was/is geneig om te sit en droom en kon ure op n plek sit en na dinge om my kyk, of as iets my in n winkel venster fasineer het. Gelukkig het my ma altyd geweet om terug op haar spore te loop en dan het hulle my altyd gekry waar ek sit en droom het☺Het ook eendag saam n maatjie weg geloop toe ek in graad twee was. My ma het tot die polisie gekry om my te soek. Gelukkig het hulle my dieselfde aand gekry. My seun het ook eendag in n winkel sentrum weggeraak. Het by ons gestaan by die atm, toe ons weer kyk toe is hy skoonveld. Het op sy eie na die speelplek geloop wat meeste sentrums het. Hy was toe net vier jaar oud. Kinders doen vreemde dinge en ouers se oë moet altyd oop wees. Mens let nie altyd op nie, ouers moet maar oë agter hul koppe ook hê

Gesiggie ·

So dankbaar dat die kinders veilig is, dankie aan almal wat gehelp soek het na hul… ouers jul moet ten alle tye weet waar jul kinders is, ons lewe in n onveilige Suid-Afrika, n mens kan sien hul was moeg en uitgeput…. net bly hul is veilig.

Wielspore ·

Baie bly die kinders is veilig!
Die kinders is nie te blameer vir hulle optrede, avontuur is deel van hulle ontwikkeling daarom is voltydse toesig nodig. Kinders van 3 jaar mag nie op hul eie gelaat word nie.

Henk ·

Prys God. Die ENIGSTE LEWENDE GOD wat sy hand oor alle kindertjies hou.

AllTheRichesIcanHold ·

Vries my bloed nou in my are. Dankie tog hulle is veilig. Ek het ook n (amper) 3 jarige. Dis asof die kindertjies op daardie ouderdom aktief soek na maniere om hulself te verongeluk.

Johanna ·

So dankbaar die kleuters is veilig. Die mense wat verantwoordelik is hiervoor moet beslis aangespreek word. die kleuters kon duidelik nie hulle pad huistoe vind nie en het verdwaal. Ek hoop die ouers leer uit hierdie ervaring.

Tanya ·

Ek hoop die ouers word gestraf al is dit om na kinder te kyk vir 3 maand lank en ander ouers leer uit hulle foute

Sê maar net 1 ·

Praat van agterlosigheid. Die ouers het iewers opleiding nodig om hoe om na kleuters om te sien. Of ten minste agter ‘n heining te laat speel onder iemand se wakende oog. En daar gaan diegene wees wat nou weer sê hul is arm en het nie heinings nie. Die ma werk en bla bla bla. Maak ‘n plan. Die liewe Vader het mens verstand gegee, gebruik dit. Geen verskoning as dit kom by kinders omsien nie. Hoe verdwyn al 2 onder die gemeenskap se oë uit so ver?

Rina Kotze ·

Dankie Here vir U beskerming.

Ouers, pas asb julle kinders op???

Gerda ·

Aller eer aan die Here. Ek het gister nadat ek die berig gelees het, sommer agter my rekenaar gesit, en ‘n skietgebed opgestuur, om vir die Here te vra om hulle veilig te bewaar. Ek het weereens besef dat gebed krag het.

Hettie ·

Foeitog. Ek wonder wat het deur die ou kindertjies se gedagte gegaan toe hulle nie die pad terug huistoe kry nie. AMAZING

Gemaskerde Sopbeen ·

Eendag lank lank gelede was daar ook ‘n beeswagtertjie wat verdwaal het…..Uiteindelik het hy in ‘n vreemde land “president” geword………..maar is nou nog verdwaal….

Nettie ·

‘n Stywe drukkie aan elkeen van daai drietjies, dan ‘n lekker bord warm kos of sop, ‘n lekker warm was van die lyfie ………………….. en dan boude wat vuurwarm geklop word (en sommer die ma/toesighouer ook ‘n veeg of twee gee) sodat hulle sal leer om NOOIT, OOIT OOIT weer agter ‘n dwalende bees aan te hardloop of om die kinders wat in hulle sorg geplaas is, sonder toesig te laat speel in ‘n oop stuk veld nie.

Lizelle ·

Well done aan die Polisie, lekker om n artikel te lees wat hoop bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.