[Foto’s] Opgradering van Pta-waterpype in volle swang

Die pype is besig om gelas te word. Foto: Verskaf

Die pype is besig om gelas te word. Foto: Verskaf

Nagenoeg 30 werkers is besig om onverpoosd aan die geskeduleerde instandhouding en opgradering van die watertoevoernetwerk in die ooste van Pretoria te werk om ʼn langdurige wateronderbreking te probeer vermy.

Jeannie du Plessis, skakelbeampte van dié projek, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die hoofwatertoevoer is Dinsdagoggend afgeskakel en dat die herstelwerk, langs Rubensteinweg in Moreletapark, volgens plan verloop.

“Dit het ʼn ruk geneem vir die twee hooftoevoerpype, met ʼn deursneë van 1,2 m, om leeg te loop. Daarna is stukke van die ou pype uitgesny wat tans vervang word met nuwes wat vooraf vervaardig is. Die sweiswerk gaan nou begin om die dele te las en dit kan geruime tyd duur. Die pype moet deeglik gelas word om lekkasies op dié belangrike lyne te voorkom,” het sy verduidelik.

Die laswerk kan sowat 36 uur duur waarna die pype behoorlik getoets gaan word voordat die watertoevoer weer aangeskakel word.

Buurte wat geraak word, is onder meer La Montagne, Wilgers, Murrayfield, Garsfontein, Silverton, Villiera, Rietfontein, Val-de-Grace, Kilner Park, Meyerspark, Lynnwood Glen, Lynnwood Park, Faerie Glen, Queenswood, Brummeria, Constantiapark, Waterkloof Glen, Moreletapark, Menlyn en Alphenpark.

Du Plessis het gesê dit is moeilik om te sê watter gebiede reeds sonder water is, omdat al dié woonbuurte nie op dieselfde manier aan die stelsel gekoppel is nie. “Van die woonbuurte is direk afhanklik van watertoevoer van die hooflyn en dié woonbuurte kan reeds ʼn wateronderbreking ervaar. Ander woonbuurte is met reservoirs gekoppel en kan nog watertoevoer hê totdat die reservoirs leeg is.”

Die Tshwane-metro se departement van water en sanitasie het vroeër gewaarsku dat verskeie buurte in die ooste van stad van Dinsdag af met tye sonder water kan wees. Inwoners is aangeraai om water op te gaar en te stoor. Die werk is vir 48 uur vanaf Dinsdagoggend om 06:00 geskeduleer.

Du Plessis het gewaarsku dat as die watertoevoer weer aangeskakel word, sommige woonbuurte steeds tekorte kan ervaar aangesien nagenoeg 20 reservoirs weer vol water moet tap. “Dit kan tot en met twee dae duur vir die reservoirs om soos normaal te funksioneer, afhangende van hoeveel water in dié tydperk verbruik word.”

Sy het ʼn beroep op inwoners gedoen om geduldig te wees en spaarsamig met water te werk.

Vir ʼn volledige lys van buurte wat deur die wateronderbrekings geraak word, besoek die munisipaliteit se webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Dis goed om te sien dat naas naamsveranderinge van strate en plekke is instandhouding ook op die lys.

neelsie ·

Laat my dink aan projekte jare gelede, glo my, dis harde werk met deeglike beplanning.
Dankie , lyk na vooruitgang.

Johann ·

Intussen SPUIT water onverpoost uit n gat voor Hoerskool Menlopark se.sport ingang????

Johann ·

Terloops. Dit wil voorkom asof daar skielik ENORME finansiele”aanpassings” van der tien duisende op Munusipale Rekeninge voorkom; met.min tot geen feitelike verklarings? My verwysing Monumentpark area? Areas in Centurion.

Lance ·

Pype word vervang ….wonderlik ….net jammer die plek lyk soos n ontplifing as hulle eers weg is ….gate klippe stokke wortels word netso gelaat ….wie kom fit nou haal of mooi en netjies maak …vra seker te veel ne

Rusty Angel ·

Dit grief my vanaand, dat mense so ondankbaar kan wees en selfs KLA as die Munisipaliteit noodsaaklike ((instandhouding)) doen, Ek is seker die opruimingswerk is 2 de prioriteit nou en om die sisteem so gouas moontlik in werking te kry. Dit wil voorkom of dit maak nie saak “DO” of DONT” Jy sal nooit almal kan tevrede stel nie.

Daar is ense wat deur die nag in die koue werk vir ons, Dankie Tshwane!

Johanna Botha ·

Dis omdat daar nooit PREVENTATIVE maintenace gedoen is op die rusty pype nie Angel, nou loop dit uit op n krises weer. By my skoonsus maak hulle al dieselfde pyp reg elke week vir 8 maande en die sypaadjie lyk soos n slagveld …pype wat uitsteek, sement ringe wat rondle in die modder n boom wat gedeeltelik al omval …jy weet daar is net geen vakmanskap as ek so kyk dis n gespoeg en plak want dis nogsteeds nie reg nie . So ja baie dankie vir julle probeer Tshwane maar dit is maar regtig n patetiese poging om minste te se ….8 maande se ek jou , genade daar is tog ander werk wat agterwee bly teen die trand. It’s crisis management op sy heelbeste glo my !

Jaco Grobler ·

Teen ‘n relatiewe lae koste kon hulle ‘n ‘bypass’ gedoen het wat water verskaffing vir slegs ‘n kort periode sou onderbreuk, en toegelaat het vir ‘n goeie herstel sonder die druk van ‘n 48 uur skedule maar nee wat, laat eerder derduisende mense eerder sonder water en verhoog die risiko van ‘n onvoldoende herstel. Ek sien ook sommer ‘n paar veiligheidskwessies op die foto’s. Sirkus.

Stella ·

Regtig mense. Hou op kla. Het jul niks anders om te doen nie. Wat van dis ongelooflik dat dit gedoen is. Baie goeie kommunikasie en bitter min gevolge van “geen” water aan meeste gebiede. Natuurlik sou preventative maintenance beter gewees het maar dis nou gedoen. ONS HET WATER. Kan dankaarheid dalk bietjie meer seevier as die geklaery…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.