[Foto’s] Paartjie met hordes gekloonde kaarte betrap

Die bankkaarte waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

ʼn Klagte van huishoudelike geweld het tot die inhegtenisneming van ʼn Kaapstad-paartjie gelei nadat talle gekloonde bankkaarte onder meer in hul besit gevind is.

Kapt. Lloyd Ramovha, provinsiale woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, het Vrydag gesê die twee verdagtes, onderskeidelik 30 en 31 jaar oud, is Donderdag in Tafelsig in hegtenis geneem.

“Beamptes van die Tafelsig-polisie is na die paartjie se huis gestuur nadat klagtes van huishoudelike geweld aangemeld is. Hulle is ook ingelig dat die huis ʼn nes van verdagte aktiwiteite is,” het Ramovha gesê.

Die polisie het ʼn soek-en-beslagleggingsoperasie by die huis uitgevoer en op nagenoeg 700 beweerde gekloonde bankkaarte, sewe betalingstoestelle, ʼn .22 met ammunisie, verskeie paspoorte, ID-dokumente, rybewyse, elektroniese toerusting en vier gram kokaïen beslag gelê.

Die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad is by die ondersoek betrek aangesien daar vermoed word dat die paartjie waarskynlik betrokke is by ongerymdhede wat verbind word met ʼn nasionale sindikaat.

Die paartjie sal na verwagting Maandag in die Kaapstad-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies. Aanklagte van vervalsingsbedrog en uitgifte gaan bygevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Siek en sat vir die kriminele ·

Lewenslank, asseblief landdros. Die gemeenskap soek nie sulke bedrieërs op straat nie asseblief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.