Foto’s: Pakhuis brand by Paardeneiland

(Foto verskaf deur JP Smith)

Kaapstad se nooddienste is Saterdagoggend omstreeks 01:35 ontbied na die nywerheidsgebied van Paardeneiland waar ʼn brand uitgebreek het.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê eenhede van Milnerton- en Brooklyn-brandweerstasies is ontplooi. Hulle het op ʼn gebou in Wessexstraat afgekom wat in ligte laaie gestaan het.

“Bykomende hulpbronne is dadelik ontbied en altesaam 10 brandweerwaens en nege watertenkwaens is uiteindelik ontplooi vanaf Brooklyn, Milnerton, Soutrivier, Roelandstraat, Goodwood en Belhar.

“Die brand het uitgebreek in ʼn pakhuis wat gebruik word om houtprodukte te stoor. Brandbestryders het gespook om die brand onder beheer te kry en omliggende strukture te beskerm,” sê Smith.

Die gespesialiseerde Bronto Skylift-hyser is ook na die toneel ontbied en brandbestryders kon ook uit die lug uit die brand bestry.

“Alhoewel die brand net ʼn paar ure later onder beheer gebring is, het die houtplate wat in die verskillende pakhuise op mekaar gestapel is, bly smeul. Spanne het deur die loop van die oggend die puin en houtplate nat gehou. Kleiner spanne is steeds op die toneel.”

Geen verdere eiendom is beskadig nie, ondanks die feit dat die brand uitgebreek het in ʼn gebied waar die geboue naby aan mekaar geleë is.

“Die vermoë om in ʼn noodgeval dadelik soveel hulpbronne te kan ontbied, is ʼn groot verligting. Dit is telkens ʼn bevestiging dat die voortgesette belegging in ons brandweerdiens ʼn waardige belegging is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.