[Foto’s] Panayiotou in PE-hooggeregshof

Moordbeskuldigde Christopher Panayiotou in die Port Elizabeth-hooggeregshof saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke (middel) en Sinethemba Nenembe (26 Julie 2016) Foto's: Raahil Sain/ANA

Moordbeskuldigde Christopher Panayiotou in die Port Elizabeth-hooggeregshof saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke (middel) en Sinethemba Nenembe (26 Julie 2016) Foto’s: Raahil Sain/ANA

Die moordbeskuldigde Christopher Panayiotou het Dinsdag vir die eerste keer in die hooggeregshof in Port Elizabeth verskyn.

Panayiotou, met ʼn splinternuwe haarstyl, het vlugtig in die hof verskyn saam met sy twee medebeskuldigdes, Sizwezakhe Vumazonke en Sinethemba Nenembe. Hy het ontspanne voorgekom en geglimlag terwyl hy met sy regspan gepraat het.

Panayiotou word daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein was agter die ontvoering en moord van sy vrou Jayde in April verlede jaar, omdat sy glo ʼn “finansiële las” was. Jayde was ʼn onderwyseres.

Die staat voer aan hy het ʼn uitsmyter by sy Infinity-nagklub, Luthando Siyoni, betaal om Vumazonke as ʼn sluipmoordenaar te huur wat Jayde sou ontvoer en vermoor.

Die staat voer aan Nenembe het Vumazonke bygestaan om die vermeende sluipmoord uit te voer.

Siyoni het intussen ʼn artikel 204-getuie geword, wat beteken dat hy kwytgeskel is van vervolging indien die hof tevrede is dat hy eerlike getuienis gelewer het.

In die reeds ingewikkelde saak, is ʼn vyfde verdagte, Zolani Sibeko, vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem en hy het reeds in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn vir sy beweerde aandeel in die saak.

Klagtes teen die beskuldigdes sluit in sameswering om moord te pleeg, moord, ontvoering, onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie en roof met verswarende omstandighede.

Panayiotou staan ook tereg op ʼn bykomende aanklag van dwarsboming van die gereg.

Regter Dayalin Chetty het die saak Donderdag tot 25 Augustus uitgestel vir ʼn voorverhoor-konferensie.

Die hofsaak sal na verwagting in Oktober ʼn aanvangs neem.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Vabond? Daar is veel beter beskrywende woorde in die Afrikaanse taal as dit.
So, die een wat die sluipmoordenaar laat aanstel het word vrygestel as die staat hom glo, selfs al hy hy die moordenaar gesoek, gevind en gehelp. Destyds het die boksermoordenaar van Bret Mynmagnaat ook vryskelding gekry sonder rede om te dink dat die staat werklik met vervolging geslaag het.

Theresa B ·

Ek hoop nie die regstelsel vaal ook vir Jayde soos met Reeva nie. Hulle moet vir altyd agter tralies bly sonder enige parool. Want dit lyk vir my dis nou hoe dit deesdae werk. Jy pleeg moord, gaan sit in die tronk en kom vinnig uit en gaan aan met jou lewe. Die rukkie agter tralies beteken niks eintlik nie.

Frederik ·

Die rukkie agter tralies beteken nie noodwendig niks nie. Die hang af van baie dinge. ‘n ANC lid sal nie maklik in die organisasie bevorder word tensy hy/sy ‘n tyd agter tralies was nie.

Cherokee ·

Ag tog Theresa, vaal is ‘n kleur… so valerige kleur.

Boesman ·

Dalk ‘n dom vraag, maar hoekom word sake alewig UITGESTEL?

Amanda Van Vuuren ·

27 Julie, My pa is n afgetreede polisieman, hy se goeie speurwerk vat sy tyd…well done manne!
Mag die ‘wewenaar’ nooit weer die buitelug sien, nadat hy finaal gevonnis is nie en nou bedoel ek absolute lewenslank, sonder die opsie van parool!!
Sy vlg verskyning in n houtkis, verassings plek toe!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.