ʼn Tydelike ongevallesentrum is op die been gebring nadat ʼn brand gister by die Swartland-hospitaal in Malmesbury, Wes-Kaap, gewoed het.
Leensie Streicher, woordvoerder van die hospitaal, het bevestig die brand het by Saal A begin wat tans gesluit is vir opknappingswerk. Dit is egter nog nie duidelik wat die oorsaak van die brand was nie.
Maroela Media het vroeër berig inwoners het vertel hoe hulle ʼn geluid soos ʼn ontploffing vanaf die hospitaal gehoor en gesien het hoe dik swart rook by die gebou uitborrel. Dit het brandbestryders glo ongeveer twee uur geneem om die vlamme te blus.
“Die eerste oproep aan die brandweerdienste was 16:15,” het Streicher gesê. “Die pasiënte in Saal B is onmiddellik ontruim as veiligheidsmaatreël. Die brand het na die noodgevalsentrum en teaters versprei voor dit onder beheer gebring kon word. Die kraamsaal en pediatriese sale het geen skade opgedoen nie, maar is tans sonder elektrisiteit.”
Streicher het gesê niemand is in die brand beseer nie.
Pasiënte is gisteraand na ʼn kerksaal en gemeenskapsaal verskuif en sal onderskeidelik na die Stellenbosch-hospitaal, Paarl-hospitaal, Wesfleur-hospitaal in Atlantis, LAPA Munnik-hospitaal in Porterville, Radie Kotze-hospitaal in Piketberg en Vredenburg-hospitaal oorgeplaas word. Sommige pasiënte is ontslaan.
“Die Malmesbury Gemeenskapdagsentrum sal gebruik word as tydelike noodgevalsentrum vir alle plaaslike mediese noodgevalle,” het Streicher gesê.
Die oorsaak van die brand word ondersoek.
sal die hospitaal ooit weer bruikbaar gemaak kan word? wat n swaar slag vir almal, veral due armes, om nou hulle siekes op buurdorpe by hospitale moet kry. sterkte aan almal.