[Foto’s] Passasiers ure op lughawe na kapingsalarm

Foto: ANA

Foto: ANA

Passasiers van SA Airlink se vlug SA8678, moes Maandag vir langer as vier ure op die Wonderboom-lughawe wag na ʼn vals alarm oor ʼn moontlike kaping.

Vlug SA8678 het 10:00 van die Kaapstad Internasionale-lughawe vertrek na die Wonderboom-lughawe, noord van Pretoria en was geskeduleer om 12:15 daar te land. Gerugte het om en by 12:00 die ronde begin doen dat die vliegtuig gekaap is.

SA Airlink het egter later bevestig die kapingsalarm is foutiewelik geaktiveer en al 72 passasiers en vier bemanningslede aan boord is veilig. Die vliegtuig het egter ʼn geruime tyd nadat dit geland het, op die aanloopbaan bly staan. Die vliegtuig is later nadergesleep voordat passasiers die vliegtuig kon verlaat.

Passasiers het hul familielede omhels en gesoen nadat hulle na die terminaal geneem is. Rofhiwe Mudau, ʼn passasier, het gesê nadat die vliegtuig geland het, het hulle op nuus gewag. “Passasiers het op die internet begin kyk en gelees die vliegtuig is gekaap. Die kaptein het later gesê die vliegtuig is nie gekaap nie, maar dat die vals alarm weens ʼn foutiewe sein veroorsaak is.”

Jacqueline Knott. Foto: ANA

Jacqueline Knott. Foto: ANA

Jacqueline Knott, ʼn matriekleerder aan boord van die vliegtuig, het gesê passasiers het paniekerig begin raak toe die kaptein aangekondig het die polisie is op pad. “Ons het ure lank gewag. Ons het net voor 12:00 geland en dit is nou 16:00,” het Knott gesê voordat sy die lughawe verlaat het.

Beamptes van die spesiale polisie-eenhede het op die lughawe toegesak kort nadat die kapingsalarm ontvang is. Die taakmag, beamptes van die polisie se lugvleuel, die Tshwane-metropolisie en paramedici was ook op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kaufman ·

Dit, tesame met die verwarring by SAUK en vele ander nuus stories, is moontlik n tegniek van die regering om verwarring te skep en nuus te diskrediteer. Dit is nie hoe so n geval veronderstel was om gehanteer te word nie.

Sarie ·

Dalk wil die skuldiges he ons moet dink dit is ook maar net ñ vals alarm die volgende keer. Lees Amerika het ons regering gewaarsku oor moontlike aanvalle in Julie 2016…

Freud ·

Die kaptein was in die kajuit en as hy weet hulle is nie gekaap nie kon hy mos vir die beheer toring so gesê het. Hulle het sekerlik tog die kaptein gekontak toe hulle die boodskap kry om uit te vind wat aangaan?
Hoekom nou ñ held sirkus ontplooi vir vals alarm?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.