Foto’s: Paul Kruger se nuwe grafbeeld ‘iets groots’

Die nuwe borsbeeld op pres. Paul Kruger se graf in die Kerkstraat-Wes-begraafplaas, vervang die oue van veselsglas wat in Julie verniel is. Foto: Morné van Rooyen

Die beeldhouer van Paul Kruger se nuwe grafbeeld het dit reggekry om die laaste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek uit te beeld soos hy nog nooit vantevore gesien is nie – in ʼn eietydse konteks.

Só het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Woensdag op die 193ste herdenking van Kruger se geboortedag tydens die onthulling van die granietbeeld deur Jacques Müller in die Kerkstraat-Wes-begraafplaas in Pretoria gesê.

“Ek dink Jacques het iets hier reg gekry om in ʼn tyd van afbreek, van vandalisme en agteruitgang van monumente te sê: Kom ons bou iets nuuts.”

Langner het aan die klein groepie belangstellendes vertel hy het in Julie met verbasing van die skending van die ou beeld kennis geneem. “Die oggend toe ek dit daar in my bed [op Facebook] sien, het ek vir [die FAK-projekbestuurder] Johan Jansen van Vuuren gewhatsapp.

“Daar is so baie fopnuus deesdae, ʼn mens weet nie of dit een van [die Amerikaanse president Donald] Trump se grappe is nie,” het Langner geskerts. “En Johan-hulle was baie vroeg die oggend hier in Kruger‑begraafplaas en het gesien dis nie fopnuus nie; dis waarheid.

“Die beeld is beskadig en die grafsteen was nog beskadig van ʼn vorige geleentheid van vandalisme. Ek het vir Johan gesê: ‘Kyk net of julle die kopbeeld kan opspoor’. Hulle het vir die sekuriteitswagte hier gevra en die eerste wag het gesê: ‘Nee, dit is rommelhoop toe’. En dan kry ʼn mens so ʼn nare gevoel.”

Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het die beeldhouer van die nuwe grafbeeld, Jacques Müller, geloof dat hy “iets hier reggekry het om in ʼn tyd van breek, van vandalisme en agteruitgang van monumente te sê: ‘Kom ons bou iets nuuts.’”

Langner het vertel Jansen van Vuuren het ʼn sekuriteitsbeampte, Ellena Magape, teëgekom wat gesê het sy het die beeld opgetel en in ʼn geboutjie op die perseel geplaas.

Kort daarna het die FAK saam met die Krugergenootskap en die Erfenisstigting met ʼn restourasieprojek van die graf begin.

Langner het vertel hy was verbaas oor hoeveel reaksie die FAK op hul Facebook-inskrywing oor die skending van die beeld gekry het. “Die reaksie het gewys hoe baie simboliek Paul Kruger nog in ons eie dag het.

“Baie mense het aangebied om die beskadigde kopstuk te herstel, maar net een persoon het na vore gekom en gesê hy is nie net bereid om die kopstuk te herstel nie; hy sal vir ons ʼn beeld kap uit graniet en uit marmer. En dit is Jacques.”

Die FAK het egter nie sy aanbod dadelik aanvaar nie. “Ons het Jacques se werk gaan naspoor, want dit is ʼn kosbare graf. Dis ʼn kosbare deel van ons erfenis. Ons het toe besef Jacques het die talent, die opleiding en die agtergrond om dit te doen.”

Müller se bydrae is tweedelig. Hy het eerstens die ou glasveselkopstuk herstel. Die FAK sal dit op 26 Oktober tydens ʼn spesiale geleentheid aan die Voortrekkermonument skenk.

Die beeldhouer Jacques Müller sê die graniet waaruit hy die beeld geskep het, “is eie aan Afrika en ’n metafoor vir die hardheid en ongenaakbaarheid van die kontinent. Kruger was ook hard. Hy was in die oorlog al van kleins af. Daar is dus ’n simbiose tussen hom en die materiaal.” Foto: Morné van Rooyen

Langner het gesê die FAK skenk dit spesifiek aan die monument om meer as een rede. “Oom Paul was ʼn seun van die Groot Trek. Hy was in ʼn sekere sin ʼn vergestalting van die Groot Trek-ideale. Oom Paul hoort in die Voortrekkermonument.

“En daardie kopstuk is ʼn Afrikanerkopstuk; dit behoort nie aan die FAK, die Krugergenootskap of die Erfenisstigting nie. Dit behoort aan Afrikaners. So dit is eintlik baie positief dat dit só kon uitwerk dat ons dit kon heel maak en dat dit sy plekkie kan kry in die Voortrekkermonument.”

Langner het vertel Müller het eers deeglike navorsing gedoen voor hy die nuwe beeld geskep het. “Hy het gaan kyk na [die beeldhouer] Coert Steynberg se beeld van Paul Kruger wat by die Krugerhek by die wildtuin staan. Hy het ook Jan F. Celliers se gedig oor Paul Kruger gelees.

“En Jacques het gesê: ‘Kom ons maak ʼn beeld van Oom Paul soos hy nog nie gesien is nie. Kom ons doen dit uit graniet, want vir enigeen wat honger is, ʼn vandaal, het graniet nie waarde nie.

Wilna de Bruyn van die tydskrif De Kat het die nuwe marmerblad op die graf namens hul uitgewer, Elzilda Becker, onthul. Die tydskrif het dit geskenk. Foto: Morné van Rooyen

“‘Kom ons maak ʼn swaar beeld uit marmer en graniet dat ʼn ou baie borde mieliepap moet eet voor hy hom weer kan omgooi.’ So dit is nogal ʼn stewige, swaar beeld. Ek dink dit is amper hier 300, 400 kg,” het Langner gesê.

“En u sal ook sien die graniet wat hy gebruik het, het nogal ʼn redelike blink in en [op sekere tye] skyn die son direk op daai beeld en soos die son draai, lewe Oom Paul se gesig op ʼn vreemde manier.

“Uit die gedig en uit Coert Steynberg se werk het Jacques ook gesê Kruger was nie ʼn persoon vir fieterjasies nie; Oom Paul vergestalt eenvoud en krag; rotsvas. En die beeld wat op die graf was, het die serp en die baie medaljes gehad …

“Jacques het gesê: ‘Kom ons beeld weer daai rotsvaste man van eenvoud uit’. En ek dink Jacques het ʼn meesterwerk hier neergesit, ʼn groot nalatenskap.”

Langner het Müller persoonlik vir die beeld bedank. “Jacques, ek dink dit is iets groots wat jy gedoen het. [Hy] is die eerste Afrikanerbeeldhouer naas Coert Steynberg wat uit klip uitkap. Dit is ʼn fyn werk om te doen.”

Die tydskrif De Kat het ‘n nuwe marmerblad vir die graf geskenk nadat die oue enkele jare gelede geskend is. Dis vervaardig van Waterbergse marmer omdat die vorige, Rustenburgse marmer onverkrygbaar geword het. Foto: Morné van Rooyen

By dieselfde geleentheid het Wilna de Bruyn van die tydskrif De Kat die nuwe grafblad onthul namens hul uitgewer, Elzilda Bekker, wat in die buiteland is.

Langner het vertel Becker het aangebied dat De Kat vir die blad sal betaal, maar die blad was van Rustenburg-graniet, wat nie meer vervaardig word nie. “En dit is juis daaruit gemaak omdat Oom Paul se plaas, Boekenhoutkloof, in die distrik Rustenburg is, maar in die Waterberge is daar amper ʼn soortgelyke graniet en teen baie hoër koste het hulle toe daai graniet gekry.”

Hy het gesê hy was by toe Becker kom toesig hou het dat die nuwe blad nes die oue gemaak word. “Elzilda kan nogal presies wees,” het hy geskerts, “en ek was hier toe sy vir Stone Dynamics [van Potchefstroom] se graveerder gesê het: ‘Hoor hierso, daai lettertipe wat hulle gebruik het, hulle gebruik dit nie meer vandag nie. Daai krulletjie, daai draaitjie, daai buiging moet presies so wees.’

“En hulle het dit presies so gemaak dat ʼn mens dit so na moontlik aan die oorspronklike kon doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Eish ·

Groot waardering aan Jacques Müller vir die groot liefdesdaad en almal betrokke.
Ons mag nooit hul vergeet wat aan ons geleen is om die toekoms te spoor nie.

Derick ·

Is dit ‘n “bordbeeld” op die eerste foto, of borsbeeld?

Tania Heyns ·

Dagsê Derick

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Hans ·

Dankbaar dat n nuwe borsbeeld en blad gemaak kon word. Dank aan al die betrokkenes wat dit moontlik gemaak het.

honourable member ·

Nie eers geweet sulke beelde bestaan nog nie. Ons geskiedenis word mos nie meer erken nie.

Carlien ·

Ek hoop en bid dat hierdie pragtige beeld nie ook onder boosdoeners gaan deurloop nie.. Ons geskiedenis verdien om bewaar en gerespekteer te word..

Mrs H ·

Interesant hoe die lafaard kriminele van “Kruger Rande” hou. Sou baie mooi wees as een van die grootste Kruger Rande (Bullion) op die beeld se bors gedeelte ingewerk was. Sal die beeld dan agter bulletproof glaskas moet sit vir SA se bloeddorstigge empowerment seekers! Hahaha.

Alida ·

Dit is n pragstuk maar niks verhinder die vandale om n blik verf daaroor te gooi nie. Dit is mos n 3de wereld land hierdie waar alles wat mooi en goed is verwoes moet word.

Marisa ·

Ek wonder ook hoe lank gaan hierdie standbeeld bly staan sonder skade

Nettie ·

Maar behoede nou die een wat dit waag om iets aan enige een van die 100’e Mandela staanbeelde in die land te doen!!! Ek was lankal lus om ‘n blik bloedrooi verf te gaan koop en dit oor die Mandela-standbeeld in my dorp te gaan gooi.

Ockie ·

Baie dankie vir hulle hulp en moeite met die herstel van die grafsteen beeld, Maar dit lyk nie soos paul kruger nie.

John Samuel ·

Welgedaan!!! Dit vertoon Ongelooflik mooi, iets om op trots te wees…

Johannes ·

Aan almal wat bygedrae het tot hierdie geleentheid en die herstel van Pres. Kruger se graf – ‘n duisend dankies vir wat julle vandag gedoen het! Ek is trots om ‘n Boere-Afrikaner te wees! Welgedaan!

Stuiwer ·

Wat is ‘n Boere-Afrikaner? ‘n Afrikaner met ‘n plaas?

Peet J ·

Dalk is die foto misleidend maar President Paul Kruger het nie naastenby so gelyk nie, ek wonder wie kan dit wees.

Albatros ·

Die beeld en beeldhouer lyk vir my nogals baie na mekaar.

Blikke ·

Genade !!!! Kan ons ou volkie dan nie eers oor n beeld saamstem nie….in pleks daarvan om dit te waardeer en te sien as erfenis.
Geen wonder ons kom nerens met die aanslae teen ons nie

Andile ·

Die Kruger kop is marmer en ook die ondersteuning maar die blad wat De Kat geskenk het is graniet, nie marmer soos in die berig nie.

Lag maar ·

Ek is jammer, maar dit is nie n baie mooi beeld nie. Dit lyk weird…..

Anoniem ·

Muller “die eerste Afrikanerbeeldhouer naas Coert Steynberg wat uit klip uitkap”? Het Laurika Postma, die (Afrikaner) beeldhou(dst)er, wat verantwoordelik was vir onder andere die standbeeld van pres. Paul Kruger in Krugersdorp, nie ook uit klip gekap nie?

wolla ·

Kon geld en materiaal gespaar het om die ou sonder baard te maak. Sou ook meer hip gelyk in vandag se tyd.

Oudste ·

Ai tog, sit ek by myselwers en skud my kop in ongeloof oor al die derms wat hier geryg word oor die beeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.