Drie mense is beseer nadat hul voertuie Dinsdagoggend twee perde op ʼn besige pad in Rooihuiskraal, Centurion, getref het.
Werner Vermaak, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het omstreeks 06:00 op die R55-pad tussen Sandton en Pretoria plaasgevind. “Drie voertuie het die perde getref en gerol,” het Vermaak gesê.
ʼn Man in sy 20’s was op pad na Pretoria toe hy ʼn perd tref wat in die middel van die pad gestaan het. Hy het beheer oor sy voertuig verloor, waarna dit verskeie kere gerol het. “Volgens ooggetuies het ʼn tweede voertuig, wat in die rigting van Sandton gery het, sowat 500m verder die tweede perd getref. Dié voertuig het ook verskeie kere gerol en op sy dak tot stilstand gekom. Die bestuurder van die tweede voertuig is ʼn man in sy 30’s,” het Vermaak verduidelik. Al twee perde is op slag vrek.
Die derde motoris het die perde nie in die pad sien lê nie, en het een getref. waarna sy voertuig ook verskeie kere gerol het.
“Die drie bestuurders het wonderbaarlik slegs snywonde en kneusplekke opgedoen,” het Vermaak gesê.
Die pad is gedeeltelik vir verkeer gesluit terwyl die polisie die toneel opgeruim het.
“Al twee perde is op slag vrek.” REGTIG kan dit meer kras gestel word. Hulle is op slag DOOD!!
Dit is ongelukkig korrek, wanneer na ‘n dier verwys word, sê mens hy vrek. Klink verskriklik, maar dit is nie verkeerd nie. Wonder net hoe die arme diere op die pad gekom het…
Maar as daar n epidemie of siekte onder n boer se vee uitbreek praat ons van veevrektes.
of :
As my perd laasnag die tydelike met die ewige verwissel het, gaan ek sê hy is oorlede of , hy’t gevrek? Waar is die Taalmanne ?
Cathy is heeltemal reg. Moet byvoeg, ek sal eerder se my kat of hond is dood. Dan weer, wanneer ek na ‘n mens verwys, sal ek eerder “sterf” gebruik, in plaas van dood. Moordenaars moet na my mening vrek.