Foto’s: Piepklein perdjie ‘’n wonderwerk’

River die piepklein miniatuurperdjie (Foto: Verskaf)

ʼn Piepklein miniatuurperdjie wat by geboorte net ʼn bietjie hoër as ʼn standaardliniaal was, het reeds talle harte gesteel by die perdestalle in Witbank, Mpumalanga, waar sy woon.

River-Crystal, soos die klein vulletjie gedoop is, was net 32 cm hoog toe sy op 30 Junie by Riverview Stables gebore is. Yolandie Kemp Bezuidenhout, River se eienaar, vertel aan Maroela Media hul drumpel word behoorlik deurgetrap nadat die nuus bekend geword het van River se geboorte.

Bezuidenhout sê River-Crystal is die kleinste vulletjie wat nog by die stal gebore is. Sy en haar man, Pieter Bezuidenhout, kan nie verklaar waarom River so klein is nie. “Ons het nog nie genoegsame bewyse dat River moontlik die dwerg-geen het nie,” verduidelik sy.

Met River se geboorte was Bezuidenhout se heel eerste gedagte dat sy van kant gemaak sal moet word. “Ek het na die dingetjie gekyk wat daar lê en nie eers eintlik geweet of dit ’n perdjie is of nie,” vertel sy.

Die pasgebore vulletjie het gelê en roggel. Sy is met baie water in haar longe gebore en kon skaars asemhaal.

Volgens Bezuidenhout kon sy ook sien dat daar iets skort met River se beentjies. Sy kon nie self opstaan nie.

“Ek was op pad om die veearts te bel toe Pieter my dringend terugroep. Dit is toe ek omdraai dat ek sien hoe baba opstaan en na haar mamma toe loop om te drink. Die trane het net begin rol,” vertel Bezuidenhout.

Hulle het die water in haar longe probeer uitklop en haar beentjies verbind om haar te help loop.

River geniet haar mens-ma se soentjies (Foto: Verskaf)

Bezuidenhout vertel dat sy in daardie stadium getwyfel het of River die eerste twaalf ure gaan oorleef. Sy was verstom toe sy die volgende dag sien hoe dié klein vegtertjie agter haar ma aanhardloop. “Ek het net daar en dan besluit dat ek vir haar gaan baklei. Ek het ook besef dat dit ’n lang en duur proses gaan wees,” sê sy.

Nou byna drie weke later groei River nog by die dag, hoewel sy steeds met haar beentjies sukkel. Dit kos ’n fortuin om dié vulletjie se beentjies te versorg. Bezuidenhout vertel dat hulle met die hulp van plastiekpype en verbande haar beentjies vir tyd en wyl versterk.

’n Dokter het hulp aangebied om stutte vir River se beentjies te maak. River se beentjies het egter steeds gesukkel met dié stutte en ’n meer langtermynoplossing moes gevind word.

Volgens Bezuidenhout kan ʼn kenner uit die VSA vir River “skoene” maak wat intussen kan help om haar bene meer stabiel te maak, maar X-strale van haar bene moet gestuur word om dit te kan doen.

“Ek het met my hande in my hare gesit omdat ek nie vir River se X-strale kon betaal nie. Die koste het net al hoe meer opgehoop. Ek was moedeloos,” vertel sy.

Bezuidenhout vertel dat haar hoop weer opgevlam het toe ’n ortopeed van Marx en Malan in Witbank aangebied het om uit die liefde van die saak stutte vir River se beentjies te bou. “Hy het hoegenaamd nie in geld belang gestel nie. Al wat hy in ruil wou gehad het, is om enige tyd die vrymoedigheid te kan hê om vir River te kom kuier,” sê sy.

Intussen kan River nie haar mens-ma uitlos nie en loop sy heeltyd agter Bezuidenhout aan om soentjies en drukkies te kry. Alhoewel ’n lang pad van herstel nog voorlê, voel Bezuidenhout heel positief oor die toekoms. “Jy kan nie help om haar lief te kry nie. Almal het my aangeraai om haar eerder van kant te maak, maar sy het ons almal verkeerd bewys. Sy is ’n klein vegtertjie,” sê sy.

“Perdjies van haar grootte oorleef gewoonlik nie. Sy is ’n wonderwerk.”

Besoek die Riverview Stables se Facebook‑blad om uit te vind hoe jy dié vulletjie kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Adel ·

Kosbare ou dingetjie. Dankie aan die Bezuidenhout’s wat nie moed opgegee het nie en ook almal wat help met die kostes en maak van die skoene wat gedra moet word. Julle is dierbare mense!!

Annie2 ·

Yolandie, dankie dat julle na haar kyk. Sy is net ‘n bondeltjie liefde. Ek sal haar op soen. Mag sy mooi gesond word
en lank lewe. Te kosbaar vir woorde.

Suzette Geringer ·

Wat ‘n oulike perdjie – Yolandie ek is so bly jy het besluit om vir River die vegtertjie te baklei. Sy is pragtig.

Maretha Pirow ·

Kyk asb op youtube na die vlg artikel: “Mini dwarf pony who could barely walk finally gets to to run.” Klink asof hulle dieselfde probleem het. Hoop dit kan help.

Sandra ·

Dit is waar, ja. Hulle het y vir haar ook spalkies aan gesit waarmee sy omtrent 6 maande mee geloop het.

Helene ·

River is n pragtige perdjie. Sou ook vr haar baklei het. Dankie aan almal vr n tweede kans.

River ·

Nou is ek aan die grens en kan nie ophou nie. Ding is net ek is by die werk. Die trane wil eenvoudig nie ophou loop nie.

Hanlie ·

Mooiste ou dingetjie. Kruip sommer dadelik in mens se hart in. Dankie Yolandie dat jy so mooi na die ou liefieding kyk.

Hansie Slim ·

Dis nou ‘n goeie storie vir ‘n slag!!!
Ek is nie ‘n Facebook persoon nie maar as daar ander maniere is om ‘n bydrae te maak….
Groete uit Switserland.

daleen ·

Dis te oulik, koester haar en dankie vir haar mens-ma wat haar so mooi oppas & troetel, die trane loop

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.