[Foto’s] Pippie se ma glo sy sal weer loop

Pippie-Kruger

Foto: Facebook/Anice Barnard Kruger

“Dit gaan elke dag al hoe beter en sy word al hoe ouliker – sy’s ʼn regte klein snip!” Só sê Anice Kruger, ma van Isabella Kruger, beter bekend as Pippie.

Pippie het op Oujaarsaand 2011 derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen nadat ʼn bottel vuuraansteekjel ontplof het.

Pippie vier in Junie haar sewende verjaardag, maar is volgens Anice nog nie gereed om skool toe te gaan nie. “Sy kan nog nie loop of sit nie, so ek sien om na haar deur die dag. Ek doen gereeld oefening met haar wat ek by rehabilitasie geleer het, en ons vra ook kort-kort ’n fisioterapeut om na haar vordering te kyk.”

Pippie hou baie van speel en Anice meen dat sy só ook baie leer. “As ons vir haar sê: Maak vyf soentjies, dan maak sy vyf soentjies. Daar is kort-kort ʼn nuwe naampie wat sy leer en groot woordjies wat sy leer. ‘Bobbejaan’ was een van die woordjies wat sy nou die dag geleer het. Sy maak al ʼn klomp woordjies – so, dit kom. Dit gaan maar stadig, maar alles sal gebeur op die regte tyd.”

Anice glo vas dat Pippie weer gaan loop. “Ons sien net hoe sterk sy word en elke dag behaal sy ietsie kleins – hoe sy nog iets probeer en nog ʼn woordjie sê. Ek gaan haar nie aanjaag nie – alles sal op die regte tyd gebeur.”

Pippie is baie lief vir perde en volgens haar ma is sy die gelukkigste as sy naby ʼn regte perd kan wees. “Sy kan al soos ʼn perd maak en sy roep hulle dat haar tongetjie so klap.” Anice sê hoewel Pippie nie skool toe gaan nie, is sy lief daarvoor om met maatjies en haar boetie te speel. “Sy gaan slaap met ʼn glimlag en staan ook op met een.”

As dit kom by operasies en ander mediese prosedures wat Pippie dalk nog moet ondergaan, is Anice nie seker nie. “Ons kan nie vooruit sê wat gaan gebeur nie. Alles gebeur dus met tyd, maar daar is ʼn plekkie agter op haar kop wat ons graag wil regmaak omdat dit heeltyd stukkend skuur. Ons gaan nou in Januarie by die dokter uitkom om te hoor wat is die volgende stap.”

Dit gaan baie goed met die hele gesin en Anice sê hulle is reg vir die nuwe jaar. “Ons het lekker vakansie gehou en nou is dit weer tyd vir die nuwe jaar. Dit gaan regtig baie goed.”

Lees alle vorige berigte oor Pippie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Nakkie ·

Ag jinne, baie sterkte. ‘n Ma van so kindjie wat ekstra hulp nodig het is ‘n baie spesiale ma.

Hettie ·

Baie bly om van Pippie te hoor dat sy elke dag vorder en vorder. So goed om haar glimlag te sien! Prys Die Here! Hou so aan om haar gelukkig te maak.

MCS ·

Sterke Pippie, jy is werklik n bewys dat ons n almagtige Vader, Seun en Heilige Gees dien! Mag God jou bystaan elkedag van jou lewe!

Tascha ·

Pippie is die mooiste dogtertjie ten spyte van haar beserings mens kan amper vir Jesus uit haar gesiggie sien straal. Ek kry skoon hoendervleis! Meisietjie hou jy en jou Mamma-hulle net styf aan die liewe Vader se hand en elke dag sal Hy sorg vir alles wat julle mag nodig hê, jy is PRAGTIG!!!

Elizabeth ·

Ek is so bly om te lees hoe Pippi vorder. Dankie vir die fotos. Mens wonder baie kere hoe dit gaan…

lZ ·

Dis so lekker om te hoor dat dit goed gaan met Pippie. Hierdie klein meisietjie het so diep in my hart gekruip. Dankie vir die pragtige fotos. Baie sterkte en gee asb vir haar ‘n stywe drukkie.

annette olivier ·

So pragtige pop. Jy vorder awesome en kyk net hoe mooi!!! Baie liefde. So bly sy word sterker by die dag.

broos ·

Hierdie kleine mensetjie is ‘n massiewe yslike groot inspirasie soos min!! Bly glimglag poppie kind en dankie vir die positiewe wat jy uitstraal xx

AM ·

Pippie is pragtig. Ek stem saam Tascha, n mens se oé is die vensters na jou siel, ek het ook aan die Here gedink toe ek na haar ogies gekyk het. Anice, jy is n wonderlike Ma. Van jou navorsing oor die kloon van die vel, enduit tot waar julle vandag is. Ek bewonder jou. So dankbaar vir ons Liewe Heer.

hettie ·

Moet net asseblief net nooit moed verloor nie Sy het al so ver so goed gevorder en sopragtig groot geword Vasbyt hoot

Merrilynn ·

Pragtige Pippie! Jy is regtig ‘n klein wonderwerk! Voorspoedige nuwejaar vir die hele Kruger gesin, mag 2016 ‘n jaar propvol seën vir julle wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.