[Foto’s] Polisie fnuik gewapende rooftog in Limpopo

Rooftog by Jane Furse in Limpopo op 3 Desember 2016 Foto: SAPD, Limpopo

Rooftog by Jane Furse in Limpopo op 3 Desember 2016 Foto: SAPD, Limpopo

Die polisie in Limpopo het Saterdag ʼn gewapende rooftog op ʼn transitovoertuig in Jane Furse gefnuik.

Drie verdagtes, onderskeidelik 27, 32 en 33 jaar oud, is Saterdagmiddag in hegtenis geneem en verskeie het op die vlug geslaan toe beamptes reageer het op ʼn wenk oor ʼn moontlike kontant-in-transitorooftog in die gebied.

“Die voertuig van G4S-sekuriteitsmaatskappy, wat kontant kom afhaal het van ondernemings by die plaaslike winkelsentrum, was klaarblyklik hul teiken,” het lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Beamptes en ʼn polisiehelikopter is na die gebied ontplooi. Die lede het die verdagte voertuig opgemerk en wou dit voorkeer, maar die verdagtes het op die polisiebeamptes begin skiet,” het hy gesê. “Die beamptes het teruggeskiet. Twee verdagtes is beseer en is in hegtenis geneem. Hulle is na ʼn hospitaal geneem.”

Volgens Ngoepe het die derde verdagte homself by Polokwane-polisiestasie oorgegee.

“Nie een van die beamptes is beseer nie,” het hy bygevoeg.

Een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is, was uit op borgtog in verband met ʼn saak van ontvoering en poging tot moord wat by Westernberg buite Polokwane aangemeld is. Die tweede word glo verbind met verskeie kapings.

“Die beamptes het beslag gelê op ʼn AK47-geweer met een magasyn en agt patrone, ʼn 9 mm-pistool en ʼn voertuig wat vroeër in Bosbokrand in Mpumalanga gekaap is.”

Die verdagtes staan tereg op aanklag van sameswering tot ʼn gewapende rooftog, die besit van ʼn gesteelde voertuig en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Meer inhegtenisnemings word verwag.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale kommissaris, het die lede van die gemeenskap bedank dat hulle die polisie bygestaan het om dié misdaad te verhoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marianne ·

Uitstekend!!!goeie werk….hou so aan….hoop nou net nie hulle loop môre weer vry rond nie….

Raai Raai ·

kom uit die tronk en gaan maar net aan waar hy opgehou het……vat die skuim na n eiland en los hul daar, verwyder hul net uit die samelewing uit. Want ons sal net nooit ontslae raak v d gemors nie….

voertsek ·

Ja daar moet geld wees vir delms en party tyd kom ons hoop dat die sapd gereed is vir die soortgelyke gevalle en dankie tog daar is nie lewensverlies van onskuldige mense nie maar nou ja of geregtigheid gaan geskied is n ander storie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.