Foto’s: Politieke leiers trek ook hul kruisies

Pres. Cyril Ramaphosa spreek die media buite die Hitekani Primary School in Soweto toe nadat hy klaar gestem het. (Foto: Twitter via @MYANC)

Politieke hoës van verskillende politieke partye het Woensdag saam met die res van Suid-Afrikaanse kiesers in toue ingeval om in die sesde nasionale demokratiese verkiesing te stem.

Pres. Cyril Ramaphosa en sy vrou, dr. Tshepo Motsepe, het by die Hitekani Primary School in Soweto hul kruisies getrek. Ramaphosa is deur ʼn skare joernaliste en verslaggewers ingewag. Nadat hy sy stem uitgebring het, het hy die media buite die stemlokaal toegespreek.

“Ek is opreg nederig oor die wonderlike opkoms wat ek hier sien. Daar is ʼn tasbare opgewondenheid, daar is ʼn wonderlike gevoel en dit is ʼn gevoel vir demokrasie. Dit is ʼn stem vir ons demokratiese stelsel wat ons oor die afgelope 25 jaar opgebou het. En nou, 25 jaar later, het ons steeds ʼn nasie wat bruis van selfvertroue en opgewondenheid om te kan stem,” het Ramaphosa gesê.

Adj.pres. David Mabuza het ook reeds sy stem uitgebring by ʼn stemlokaal in Barberton, Mpumalanga. David Makhura, premier van Gauteng, het vroegoggend in Centurion gaan stem voordat hy Ramaphosa na sy stemlokaal in Soweto vergesel het.

Blade Nzimande, minister van vervoer, het in Johannesburg gestem. (Foto: ANA)

Toe Blade Nzimande, minister van vervoer in Johannesburg gestem het, het verslaggewers van die geleentheid gebruik gemaak om die minister oor die omstrede e-tolstelsel in Gauteng te pols. Nzimande het gesê e-tol was egter nie een van die sleutelkwessies in aanloop tot die verkiesing nie.

“Ons loop dinge vooruit. Ek het geen idee hoe die kabinet gaan lyk nie, maar ek dink een van die prioriteite van [die departement van] vervoer is om die kwessie oor e-tol te finaliseer na die een of ander kant toe,” het hy gesê.

Nzimande het bygevoeg Suid-Afrika moet homself afvra hoe hy die bou en instandhouding van sy padinfrastruktuur gaan finansier. “Die kern van die e-toldebat is hieroor – is dit die regering of is dit die gebruikers? Die regering het ʼn gemengde benadering gevolg deur te sê hy sal die infrastruktuur instel en van daardie infrastruktuur moet deur gebruikers betaal word,” het hy gesê.

In Seshego in Limpopo het EFF-leier Julius Malema saam met sy vrou, Mantwa, gaan stem. Fikile Mbalula, die ANC se verkiesingshoof, het sy ongelukkigheid uitgespreek omdat Malema van die geleentheid gebruik gemaak het om ondersteuners buite die stemlokaal toe te spreek.

Malema het partylede bedank vir hul ondersteuning met die onlangse afsterwe van sy ma. Mbalula het egter op Twitter hieroor uitgevaar en gesê wat Malema doen, “is onwettig”.

Die OVK het egter hierop gereageer dat partyleiers wel hul ondersteuners buite kiesstasies mag toespreek solank dit nie die bedrywighede van die stemlokaal ontwrig nie.

DA-leier Mmusi Maimane neem ‘n foto saam met ondersteuners buite ‘n stemlokaal in Gauteng. (Foto: Twitter via @MmusiMaimane)

Mmusi Maimane, leier van die DA, het in Dobsonville, Soweto, gaan stem voordat hy vir Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat, na Capital Park in Pretoria vergesel het waar Msimanga gaan stem het.

Maimane was in ligte luim waar hy verslaggewers in Pretoria toegespreek het. “Kom ons gaan in groot getalle na die stemstasies, kom ons stem vir hoop. Kom ons gee verandering ʼn kans. Die keuse is eenvoudig – óf jy kies korrupsie óf jy kies hoop. Ek vra nie mense om met my te trou nie, ek vra hulle om te stem vir verandering en om die beste, mees bekwame regering aan bewind te bring,” het hy gesê.

Die opposisieleier het gesê hy is vol vertroue dat die mense van Suid-Afrika hom die mandaat sal gee om die land te lei. “Ek is vol vertroue. Ons soek verandering, ons soek ʼn skoon regering. Ek is optimisties.”

By die Killarney Country Club in Johannesburg het voormalige pres. Kgalema Motlanthe op sy beurt gesê hy is vol vertroue dat die ANC weereens hierdie verkiesing sal wen en hul mag sal behou. Hy het aan verslaggewers buite dié stemlokaal gesê daar is geen behoefte vir ʼn koalisie in Gauteng nie, want die ANC gaan wen.

“As dit sou gebeur dat ons in Gauteng verloor, sal ons dit van daar af neem, maar vir nou sal die ANC wen,” het hy gesê.

Motlanthe en sy vrou, Gugu, het geduldig langer as ʼn uur saam met ander kiesers in die ry gewag om te stem. Die twee het met ander kiesers gesels en grappies gemaak terwyl hulle hul beurt afgewag het.

Patricia de Lille, leier van die Good-party, het reeds vroegoggend in Pinelands in Kaapstad gaan stem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Ja en wat gaan van die 9de Mei af verander in Suid-Afrika ??

dinkhardop ·

tot siens Suid-Afrika. Dit was goed om jou te ken . Een dag lank lank gelede

Adam ·

CR reken die mense is net so opgewonde as in 1994 oor die nuwe era wat sal volg en Zuma reken mense begin nou demokrasie verstaan. Uiters komies!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.