Foto’s: Prentjiemooi sneeutonele in KZN

Sneeu tussen Himeville en Bulwer, KwaZulu-Natal (Foto: Karmen Britz via Reënval SA, Twitter)

Inwoners in KZN het van Saterdag af deurgeloop onder bibberweer weens ’n kouefront wat die provinsie getref het.

ʼn Kouefront wat Donderdag die Wes-Kaap getref en bittere koue, sneeu en beduidende reënval tot gevolg gehad het, het teen Vrydagmiddag na die Oos-Kaap en die sentrale binneland beweeg. Dié weerstelsel het KwaZulu-Natal Saterdag getref.

Sosialemediagebruikers het talle foto’s op Facebook en Twitter gedeel van prentjiemooi landskappe en berge wat bedek is onder ’n sneeukombers.

Inwoners in Hilton, noord van Pietermaritzburg, was veral opgewonde oor ligte sneeu wat in dié klein dorpie geval het, aangesien dit nie ’n alledaagse verskynsel vir hulle is nie. ‘n Inwoner van Hilton het op Twitter geskryf dat dit die eerste keer in 28 jaar se tyd in dié dorp sneeu.

Die Hilton Quarry Centre het op sy Facebookblad gesê die sneeu was ’n “magiese gebeurtenis”.

’n Besoeker aan die sentrum het op dié blad geskryf dit is die eerste keer – in al die jare dat sy in Hilton woon – dat dit in dié dorp sneeu.

“Die kinders het vir die eerste keer in die sneeu gespeel. Dit was my heel eerste sneeubalgeveg. Die kind binne my het weer na vore gekom,” het die besoeker geskryf.

Inwoners in Mooi Riviere, Dargle en Kokstad het op sosiale media gesê hulle het ook ligte sneeu ontvang.

Sneeu is op die Sani-pas in die Drakensbergreeks aangemeld, Bulwer en Impendle in die Underberg-omgewing en verskillende dele in die Middelland-omgewing.

Volgens die Durbanse verkeersdienste kan die N3-snelweg in die Ixopo-gebied in die Middelland en ander dele van die provinsie weens die sneeu geraak word. Motoriste word aangeraai om versigtig op die paaie te wees.

Sneeu in Kokstad (Foto: Lindien Olivier via Reënval SA, Twitter)

Die KwaZulu-Natalse verkeersdepartement het gewaarsku dat die R612 by die Edwaleni-heuwel met sneeu bedek is. Motoriste moet ook versigtig op die N2 rondom Kokstad beweeg.

Eskom het Saterdag ’n waarskuwing uitgereik dat inwoners in KwaZulu-Natal moontlike kragonderbrekings die naweek kan ondervind weens die gure weersomstandighede.

Eskom sê in ’n verklaring die kragnetwerk in die provinsie is onder groot druk weens die stormweer. Herstelwerk van infrastruktuur word ook deur gure weersomstandighede moeilik gemaak.

Sneeu in Himeville en Bulwer (Foto: Karmen Britz via Reënval SA, Twitter)

“Ons vra dat kragverbruikers geduldig moet wees en die nodige proses volg om enige tegniese kragprobleme in hul gebied aan te meld,” sê die kragvoorsiener in ’n verklaring.

Prentjiemooi sneeutonele in Wartburg (Foto: Isolde Mopsie, Paul Hillerman via ReënvaI SA, Twitter)

Kersfees in Underberg (Foto: Louzelle Kellett via Reënval SA, Twitter)

Sneeu in Hilton (Foto: Zizikazi MaDlamini Fakade via Reënval SA, Twitter)

Inwoners was opgewonde oor die sneeu in Hilton (Foto: Brad via Twitter)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.