Foto’s: Pres. Kruger se graf deur vandale geteiken

Foto: Verskaf

Vandale het die graf van pres. Paul Kruger in die Heldeakker in Pretoria geteiken.

Groot skade is aangerig deur die borsbeeld op sy graf te vernietig. Vandale het ook in 1995 die graf verniel en die oorspronklike marmerbeeld beskadig. In die proses het die groot grafblad ook seergekry – die krake lê steeds oor die Hollandse boodskap: “Gestorven in Ballingschap te Clarens, in Switzerland”. Kort ná die voorval is die beskadigde marmerbeeld met ’n bronsbeeld vervang.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), het gesê pres. Kruger is op 14 Julie 1904 in Clarens, Switserland, oorlede en op 16 Desember 1904 in die Heldeakker te ruste gelê. Meer as 20 000 mense het die begrafnis bygewoon.

Langner het gesê die FAK was, in samewerking met die Ou Presidensie Historiese Vereniging, betrokke by die beveiliging van pres. JH Brand se familiekerkhof in Bloemfontein. Die afgelope naweek is die heining onthul tydens die 130ste herdenking van pres. Brand se sterfdag op 14 Julie 1888.

“Skaars is een president se graf beveilig, of ’n ander president se graf word verniel. Die wyse waarop Afrikanererfenisse geteiken word, is kommerwekkend. Ondanks die departement van kuns en kultuur se standpunt dat standbeelde en monumente nie beskadig moet word nie, ontbreek die politieke wil om die vandalisme van Afrikanererfenisse stop te sit.

Foto: Verskaf

“Dit plaas groter druk op kultuurorganisasies om met beperkte geldbronne self in te gryp om Afrikaners se historiese erfenis, soos die beeld en grafsteen, te herstel en te beveilig,” het Langner gesê.

Die Tshwane-metroraad is verantwoordelik vir die bestuur van die Heldeakker. Die historiese begraafplaas is die laaste rusplek van verskeie historiese figure, onder andere koningin Victoria se kleinseun, prins Christian Victor, Jopie Fourie, Andries Pretorius, genl. Louis Botha, Afrikaanse digters soos Eugène Marais en Jan FE Celliers, asook voormalige eerste ministers HF Verwoerd en JG Strijdom.

Diegene wat die FAK wil ondersteun om die beeld te herstel, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

leser ·

die vandale ken nie suid afrikaanse geskiedenis nie, ons mag nie aan hulle raak nie, maar ons erfenis word wyd en suid verwoes
al word daar gewapende wagte in die helde akker ontplooi, sal vandale nog steeds maak wat hulle wil, die helde akker is ‘n redelike groot area

Santie ·

Of die standbeelde nou gefandaliseer word of nie…..die geskiedenis is reeds geskryf. As mens in oorsese stede toer, sien mens die ou katedrale, kerke en standbeelde vanaf die 1400’s nog pragtig en mooi daar staan. Hulle verstaan bewaring. In Suid Afrika sou al daardie glans en glorie al afgebreek gewees het. Hier is daar net afbreek en brand. Tragies.

Casper Labuschagne ·

Ons doen self meer skade aan ons geskiedenis, erfenis, kultuur, simbole, standbeelde en historiese geboue deur ons volkome verslawing aan die bevrediging van die “eie ek” in die hedendaagse kultuur van verbruik en plesier. Wat afgebreek en gebrand word, is bloot die mindere skade, ons onbetrokkenheid, onbewustheid, onkunde en gebrek aan volkstrots is wat die eintlike diep skade veroorsaak. Bewaring is ‘n persoonlike plig en nie die werk van iemand anders nie.

Gert ·

Viva vir die FAK! Uiteindelik is daar ‘n organisasie wat omsien vir die Afrikaner se geskiedenis.

leon ·

Dankie aan die FAK.

Afrikaners wat erns het met ons erfenis moet uitspring en die plekke/simbole onderhou en beskerm.

marous ·

Verwyder alles wat deur die Afrikaner opgerig of aangebring is dadelik self . Gooi dit in ‘n smeltkroes en maak daardeur seker dat die haters nie hul hande daarop kan le nie . Vergeet gesprek en onderhandeling , die gespuug is klaar gedoen .

Casper Labuschagne ·

Nee, of eerder ja, dit is ‘n gebrek aan politieke wil. Maar nie soseer by die staat as by die kroniese gebrek aan politieke asook kulturele wil of selfs volkstrots by die Afrikaner self nie. ‘n Straatblok van Krugerhuis in wat eens Kerkstraat was, maar nou WF Nkomo straat is, is die Heldeakker waar Kruger ter ruste gelê is. Enkele jare gelede was die Heldeakker so vervalle, gevandaliseer en oorgroei met onkruid dat ‘n Indiër mediese dokter wat ‘n nabye winkel besit, gesê het dat dit nie toegelaat kan word dat ‘n rusplek vir dooies so verval en ontsier kan word nie. Hy het toe op eie inisiatief begin om die Heldeakker in stand te hou en is later bygestaan deur die Moslemgenootskap in Pretoria.

En waar was die Afrikaners? O, hulle het seker rugby gekyk want dit gaan net oor rugby, braai en plesier vir vandag se nasate van die Afrikaner. Persoonlik het ek al tot die oortuiging gekom dat die Afrikaner nie sy standbeelde, sy geskiedenis en sy verlede verdien nie en daarom kan al die monumente en standbeelde maar netsowel tot niet gemaak word en vervang word deur simbole vir ander gemeenskappe wat dit wel sal waardeer.

Ek self het dertig jaar gelede die Krugerhuis sowel as Heldeakker besoek en elke jaar sê ek dat ek ‘n punt daarvan gaan maak om weer daar te kom. Maar dat ek hoegenaamd al daar was is meer as wat 99% van die ander Afrikaners kan sê.

Peet Schabort ·

Jy is reg Casper. Wys my ‘n museum wat onafhanklik is van die staat of politieke knoeiery dat ons kan gesels oor goed wat ook tans by my is en waarvoor ek ‘n plek soek. Let wel, nie net bewaring maar ook uitstalling al is dit op ‘n roterende basis. Definitief NIE in privaatbesit maar volksbesit.

Casper Labuschagne ·

@Peet, ek het self huidig daardie selfde dilemma om ‘n kosbare meubelstuk te probeer red wat al vanaf die Groot Trek in die familie van Casper Jeremias Labuschagne (veldkornet by Bloedrivier en Senator van die Republiek Natalia) af kom en nou deur ‘n jonger geslag as oudtyds asook as ‘n armlastige artifak beskou word wat nie by hul nuwerwetse dekor en selfbeeld van hedendaagse Suid Afrikaners eerder as Afrikaners inpas nie. Waar die meubelstuk gestoor word is dit ook nou deur ‘n vloed beskadig. Maar waarheen om daarmee te gaan want ek vertrou allermins nie die museums nie?

vissie ·

Ja, en waar is die ou broederbonders, FAK , FW stigting ens. wat altyd bakhand staan om kwansuis die Afrikaner belange te bevorder. Skandelik

Casper Labuschagne ·

@Vissie, vir elke monument, elke gedenkplaat, en die hoeksteen van elke groot gebou wat vandag staan, was dit eens ingelyf waar ‘n dominie uit die skrif gelees het en ‘n gebed gedoen het, waar hooggeplaasdes toesprake gegee het en waar daar ‘n groot gehoor was insluitende ‘n klomp omies met swart skoene en sulke snaakse hoedjies. Waar is al daardie mense vandag, noudat die monumente en hoekstene verniel en afgebreek word? Waar is hulle nou, of het dit alles dalk nooit regtig saakgemaak nie en daarom is daar vandag so min wat bereid is om te bewaar?

Anoniem ·

Vandalisme kan n mens nou glo dat daar nie eers respek is vir ontslapes in die land nie !!!

Geelheksi ·

Geen respek nie…want kleins af het hul ouers hulle nie reg geleer nie.
Maar wat so wonderlik is…buitelanders sien en hoor van hierdie dinge…en selfs hulle is besig om hul opinie oor S.A drasties te bevraagteken. Is dit wat die wereld wou he toe hulle aandring op gelykheid? Moord…vandalisme…
verkragting…kinder pornagrafie..human trafficking…dwels? En dan…die afbreek van n land se geskiedenis, landslied en vlag.

humor ·

Casper ek wens jou woorde kan die sg. moderne Afrikaner bereik en dat dit tot hul verstand sal deurdring.

jaco ·

Tydens die latere apartheidsjare, toe die regerende Nasionale Party darem al begin het met ‘hervorming”, was die Broederbond en die FAK die NP se groot meelopers. Waarskuwings aan hulle oor die chaos waarheen hulle “hervorming” sou lei, het op dowe ore geval. En nou huil die einste FAK wat so lekker help “hervorm” het oor dinge nou so erg skeefloop. Vreemd, want dis dan waarteen hulle gewaarsku is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.