Foto’s: Pta-ampswoning verkoop

Foto: Facebook.

Die ampswoning van Pretoria se burgemeester is Donderdag op ʼn veiling verkoop.

Dié huis is vir R5,1 miljoen verkoop. Die reserweprys vir dié herehuis was R4,8 miljoen. Die DA-beheerde administrasie, onder leiding van burgemeester Solly Msimanga, het op 28 September vanjaar tydens ʼn raadsvergadering ten gunste daarvan gestem om die burgemeesterswoning in Muckleneuk te verkoop en die geld te gebruik om basiese munisipale dienste te verbeter en meer huise vir armes te bou.

Msimanga het Donderdag in sy toespraak voor die veiling gesê die geld sal genoeg wees om sowat 52 RDP-huise te kan bou en dienste te verskaf. Die veiling is deur The High Street Auctions Co. waargeneem en het in Hyde Park, Johannesburg, plaasgevind.

Nadat die DA verlede jaar beheer van die metro oorgeneem het, het die nuwe administrasie met gesprekke begin om die huis te verkoop. Volgens die DA het die mees onlangse waardasie van die eiendom aangedui dat die huis vir ʼn minimum van R5 miljoen verkoop kan word.

Dit is ten spyte daarvan dat die vorige ANC-administrasie R12 miljoen bestee het om die huis op te knap. Die huis by St. Patricksweg 135 spog met vyf slaapkamers met twee en suite-badkamers, nog twee aparte volbadkamers, twee aparte gastetoilette, ʼn ingangsportaal, eetkamer, sitkamer, woonkamer, gesinsvertrek, ʼn ten volle toegeruste kombuis met ʼn opwaskamer en spens. Daar is ook ʼn studeerkamer op die grondverdieping en twee buitekamers vir personeel.

“Ek bedank die suksesvolle bieër omdat hy ons gehelp het om die mense van Tshwane te help deur hierdie eiendom van ons hande af te neem sodat ons op ons kernbesigheid kan fokus – om mense te help om ʼn beter lewe met waardigheid te leef,” het Msimanga gesê nadat die huis verkoop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ronel ·

Spandeer 12 miljoen net sodat die huis vir 5miljoen waardeer kan word. Wys net die wanadministrasie van die vorige munisipaltiteit. Mag hierdie verkoop en herstel van die stad (al is dit net gedeeltelik) as voorbeeld dien vir ander munisipaliteite.

Grassie ·

As daar kamtig 12 miljoen rand spandeer is om ‘n 5 miljoen rand huis op te gradeer was daar beslis ‘n baie groot bedrogspul aan die gang. Ek wonder of daar enige ondersoek daarna ingestel is. Die ANC-kaders het wragtig hierdie hele land se finansies, op alle regeringsvlakke, in die grond in geplunder soos net hulle kan. Geen wonder ons sit met rommelstatus nie.

Frikkie Geld en huis ·

Die vorige ANC Burgemeester het dan R 100 miljoen spandeer om sy kantoor in die stadsaal op te knap. Hoe’s daai vir diefstal ??

Niel ·

En wie moet pa staan vir die verskil van R7 miljoen plus die waarde van die huis voor opknapping? Iemand lag alweer lekker bank toe met R7 miljoen plus in sy gatsak. Met komplimente van SARS Bank.

Boet Fasie ·

Pragtig – en as hy by die volgende verkiesing uitval moet die belastingbetaler weer die hand diep in die sak steek vir ‘n ander ampswoning.

Leahim ·

Die anc is oppad uit die DA koalisie gaan Gauteng en die weskaap beheer na die volgende verkiesing dan is die Anc se rug gebreek afhangende van die eff wat nie die integriteit en lojaliteit het om vertrou te word nie gaan doen hopelik word die opposisie so sterk dat geen ooreenkoms aangegaan word met hulle nie.

DA wys hoe dit gedoen word ·

DIS nou hoe dit gedoen moet word. DANKIE DA!

bgj van der westhuizen ·

wel mense ek het vir julle nuus moet nie te gou vertrou die da nie hy is ook n wolf in skaap klere glad nie so goed as mense dink nie kyk maar net van die gerugte wat uit kom van die stad kaap stad en waar om moet daar huise vir hulle gegee wor d waar ek ook al werk moet ek my eie bly plek he en hulle loon is groot genoeg om dit te kan bekostig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.