Foto’s: Pta-dieretuin hoort steeds op jou besoeklysie

Pretoriase dieretuin (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die bestuur van die Pretoriase dieretuin het gerugte wat op sosiale media versprei word oor hoe vervalle die dieretuin geraak het, in die kiem gesmoor. In ʼn plasing wat op Facebook gedeel is, kla ʼn besoeker dat van die hokke leegstaan en vervalle is en dat van die diere nie drinkwater het nie of dat die water groen is. Die dieretuin het dié aantygings die afgelope week in ʼn verklaring weerlê.

Maroela Media het Woensdag die dieretuin besoek om self ondersoek in te stel of dié gerugte waar is. Ten spyte van uitdagings weens die Covid-19-pandemie is dié toeristebestemming steeds iets wat die publiek met vrymoedigheid kan oorweeg.

Die dieretuin spog met 209 soogdier-, 202 voël-, 190 vis-, 93 reptiel- en sewe amfibiese spesies. Besoekers kan hulle ook vergaap aan die eksotiese diere soos kangaroes, emoes en okapi’s. Daar is ook bedreigde spesies soos die witrenoster en westerse laeland- gorilla wat na aan’t uitsterf is. Besoekers kan ook die restaurant besoek, kinders kan hulself in die speelarea vermaak en die piekniekarea was tydens Maroela Media se besoek skoon en netjies.

Kos en water

Uriale eet vars kos wat sopas vir hulle gevoer is (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Tydens Maroela Media se besoek is gevind dat die diere in ʼn goeie toestand is en genoeg drinkwater in hul waterbakke of waterpoele het. Daar was hier en daar waterpoele wat groen en modderig voorgekom het, maar die meeste waterbakke was skoon en die water glashelder.

Die kameelperde eet blare uit die boom. Voor kan ‘n waterpoel gesien word waaruit hulle drink (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Craig Allenby, direkteur van die dieretuin, sê die gerugte dat die diere nie water het nie, is onwaar en die diere hét toegang tot drinkwater. Hy sê meeste van die waterbakke staan binne die geboue waarin die diere snags slaap en besoekers kan nie hierdie waterbakke altyd sien nie.

Die toestand van hokke

Die olifant in sy hok (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Volgens Allenby verstaan besoekers nie altyd die uitdagings wat die dieretuin het nie. Hy sê omdat die dieretuin 122 jaar oud is, sit hulle met stokou infrastruktuur en ook beperkte finansies om dit op te gradeer. Hy sê hulle is besig met projekte om van die hokke en besoekersgebiede op te gradeer nadat hulle finansiering van die departement van omgewingsake ontvang het.

Daar is ook tydens die besoek opgemerk dat gras en plante hoog in van die hokke staan. Hoewel besoekers geneig is om dit aan vervallenheid te koppel, sê Allenby dit is nie die geval nie. Hy sê die dieretuin probeer om ʼn replika van die diere se natuurlike habitat te skep. “Die hokke is nie vervalle omdat die gras heuphoogte staan nie, dit is om die diere meer tuis te laat voel.”

Die hok waarin die beer was, staan tans leeg (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Van die klagtes wat op sosiale media versprei is, was dat baie van die hokke leeg staan. Allenby bevestig dat daar wel hokke leegstaan, omdat van die diere weens ouderdom gevrek het of na nuwe tuistes oorgeplaas is. Hy sê die dieretuin kon nog nie nuwe diere aankoop nie, gegewe die Covid-19 pandemie.

“Ons is in die proses om van die hokke op te gradeer en sal daarna nuwe diere daarin plaas.”

Besoekersgeriewe en personeel

‘n Besoekersgebied (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Besoekersgeriewe en wandelpaaie is oor die algemeen skoon en netjies.

Daar is vier vullisdromme in die bestek van ‘n paar meter te sien (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Met die intrapslag ontvang die personeel jou met ope arms en hulle is oor die algemeen baie behulpsaam. Of jy nou ʼn gholfkarretjie wil huur om deur die dieretuin te ry of wil weet waar jy watter dier kan besigtig – hulle help jou vriendelik.

Een van die besoekers het aan Maroela Media gesê dis veral ʼn lekker opvoedkundige uitstappie vir mense met kinders.

Uitdagings weens Covid-19

Volgens Allenby het die Covid-19-pandemie die dieretuin swaar getref, omdat die dieretuin vir lank nie besoekers kon ontvang nie. Die instansie het eers in September, ná ses maande van afsondering, sy deure vir besoekers oopgestel. Hy sê die dieretuin ontvang nou ook minder besoekers omdat mense finansieel swaar kry weens die pandemie en ’n dieretuinbesoek as ’n luuksheid beskou word.

“Ons sit ook op die oomblik met beperkte personeellede wat weens die Covid-19-regulasies skofte moet roteer. Dit het egter geen invloed op hoe ons die diere versorg nie.”

Waarom moet jy nog die dieretuin besoek?

Jy kan ‘n gholfkarretjie huur en deur die dieretuin ry (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Allenby sê die dieretuin speel nog ’n prominente rol in terme van opvoeding en om die samelewing bewus te maak van natuurbewaring.

“Die dieretuin bied mense die geleentheid om diere te sien wat hulle nêrens anders sou sien nie. Kinders leer ook van kleins af van bewaring. As ons een kind kan inspireer, het ons reeds ’n verskil gemaak.”

Allenby sê daar word ook gereeld belangrike navorsing by die dieretuin gedoen wat tot die kennis van die Suid-Afrikaanse en internasionale navorsingsgemeenskap kan bydra. Die dieretuin werk ook nou saam met universiteite en bied navorsingsprogramme aan. Die dieretuin het ook skoolprogramme waarin skole die dieretuin in die week kan besoek.

Allenby sê aan die einde van die dag wil die dieretuin ook net ’n veilige ruimte vir gesinne skep om saam tyd te deur te bring en herinneringe op te bou.

Duidelike Covid-19-instruksies is op ‘n paar plekke op die terrein te sien (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die restaurant (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die dieretuin het tans een tier (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

‘n Zebra wei in sy kamp (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die dieretuin huisves selfs eksotiese diere soos kangaroes (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die akwarium en reptielgebied (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Witrenosters (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

‘n Waterpoel vol water is te sien in dié kamp waarin springbokke, elande en blesbokke wei (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die groot krokodil in die reptielgebied van die dieretuin, trek talle mense se aandag (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die dieretuin is oor die algemeen skoon en netjies (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Charles ·

Die persoon/persone wat sulke negatiewe gerugte oor die Pretoriase Dieretuin op sosiale media versprei weet nie waarvan hulle praat nie!!

jzjz05 ·

Net kwaatwillig ,dit is die mense wat ook so klae oor diere wat in opvoerings gebruik word.alhoewel die diere beter na gekyk word as wat hulle na hul troetel diere kyk.

Magda G ·

Het die Pta Dieretuin vooraf info ontvang dat hulle n besoek tewagte kan wees daarom is dit inderhaas skoongemaak. Hoekom staan daar dan nog bakke met water wat groen is en vd hokke wat nie skoon gemaak is nie? Vergeet om dit skoon te maak??? Vra maar net!!

JohanR ·

Is die dieretuin darem die een ligte punt van ‘n SA wat die ANC nog nie verwoes het nie. Is die akwarium nog daar? Dit was asemrowend.

ouMo ·

Net jammer jy moet deur ‘n taxi nes ry om daar uit te kom.

Rudolph ·

Dieretuine is die enigste tronke in die wêreld waar al die aangehoudenes onskuldig is. Geen onskuldige dier of mens hoort in ‘n hok, kamp, sel of ‘n pen nie. Daar is geen rasionele rede daarvoor nie. Dit is mishandeling om dit te doen

Boeing ·

Onthou julle dat die Bestuurder van die Diereuin in Pretoria in die ou Suid Afrika op ‘n stadium die voorsitter van ‘n wereldorganisasie van dieretuine was? Moet my nie name vra nie, kan nie meer onthou nie. Miskien kan iemand help.

DieKriek ·

Nee, ai toggie. Dis dan in dis middel van n misdaadgebied. Gaan jou motor ooit nog daar wees wanneer jy klaar gedieretuin het? Ek sal nie my voete daar sit nie, al is die diere hoe goed versorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.