[Foto’s] Pta-inwoners stik aan rook ná afvalhoop vlam vat

Brandbestryders by die Garstkloof-stortingsterrein. Foto: Jonisayi Maromo / ANA

Brandbestryders is hard aan die werk om ʼn brand by ʼn ongebruikte stortingsterrein in die ooste van Pretoria in bedwang te bring. Die brand veroorsaak sedert Sondag heelwat rook in die omgewing.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het Donderdag gesê die brand het by die Garstkloof-stortingsterrein in Moreletapark uitgebreek.

“Een van die twee rye opgesnipperde tuinafval het begin rook afgee nadat ʼn brand onder die hoop ontstaan het. Die oorsaak van die brand is in dié stadium onbekend. Daar word egter vermoed dat die brand spontaan ontstaan het,” het Pieterse gesê.

“Spontane ontbranding word veroorsaak deur ʼn kombinasie van hoë temperature in die middel van ʼn rommelhoop wat gepaard gaan met hittegolf-weerstoestande soos wat Sondag ervaar is.”

Pieterse het gesê weens die intense hitte en ʼn sterk wind het die brand deur die hele stortingsterrein se komposhope versprei en die reuserookwolk veroorsaak.

Volgens Pieterse is werkers Maandag na die terrein gestuur. “Hoewel die brand self onder beheer is, kon die rook nog nie merkbaar afneem nie aangesien die hoë volume vlambare materiaal op die terrein steeds smeul.”

Nagenoeg 100 brandbestryders en nooddienswerkers van die Tshwane-nooddienste en omliggende metro’s tesame met Working on Fire werk onverpoosd om die situasie onder beheer te hou. “In hierdie stadium is daar geen bedreiging dat die brand na omliggende eiendomme kan versprei nie,” het Pieterse gesê.

Storting van vullis is in 2014 by die Garstkloof-stortingsterrein gestaak nadat die terrein sy toelaatbare hoogtegrens bereik het. As standaardpraktyk het die Tshwane-metro die rommel begrawe. Die metro het toe begin om die terrein te gebruik om tuinafval te verwerk om kompos te maak. Dit is deel van die metro se program om herwinbare afvalmateriaal te skei en te hergebruik soos vereis word deur die land se nasionale afvalstrategie.

Cilliers Brink, Pretoria se waarnemende burgemeester, het inwoners gerusgestel dat die rook nie giftig is nie aangesien dit kompos is wat smeul. Inwoners wat egter gesondheidsprobleme ervaar kan by die Erasmuskloof-brandweerstasie aanklop vir behandeling.

Inwoners word versoek om hul vensters en deure dig te hou om die kanse van rookinaseming te beperk. Kinders en bejaardes, veral diegene met asemhalingsprobleme, word versoek om binnenshuis te bly.

Nooddienste sal deurentyd op die toneel wees totdat die brand heeltemal geblus is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gits ·

Ek is uit my hart uit dankbaar vir die manne wat onverpoos voort werk. Ek is egter ongelukkig met die vure wat doodgeslaan word (en ek praat nie van die letterlikes nie); dis al asof die Metro die onvermoë om antwoorde te gee oor ‘n bepaalde besluit waarin die meeste inwoners nie geken is nie, onder die mat probeer invee. Vrae wat gevra moet word: is daar behoorlik ondersoek ingestel na die impak van so ‘n groot klomp komposhope midde-in ‘n paar woongebiede? Kon sulke vure voorsien word? Wat die woordvoerder goedsmoeds hier uitlaat is dat die ‘spontane ontbranding’ voorafgegaan was deur ‘n hele paar weke se klagtes oor ‘n ontsettende stank. Dit is kwansuis deur die Groen Skerpioene ondersoek, en nuus is tong-in-die-kies aan die inwoners by drukink van die plaaslike koerant verkoop dat dit net ‘n fragment van hulle verbeelding is. Ek, vir een, saam met letterlik honderde inwoners wat klaarblykli op die ‘verbeeldingsvlug’ is, ruik iets stink. En ek praat nie net van die fisiese stank en rook waarin ons gehul is nie…

Stinkgogga ·

Ek stem saam , daar word gewoonlik hard gespook om die probleme ongedaan te maak wanneer hul opduik, waarvoor ek baie dankbaar is . Maar sou voorsorg nie beter gewees het nie? Probleem in ons land is egter die lewensuitkyk van “as die son skyn, dan lek hy mos nie.” So waarom bekommer oor wat dalk mag gebeur?

Klankie ·

Dankie aan die brandbestryders, maar die oorsaak vir die brand kan nie so ligtelik opgeneem word nie… Ek stem heelhartig saam dat daar klagtes nou al vir baie lank is oor die onaangename reuk in die area en dat die klanke weggepraat is. Om kompos in so grootmaat te kweek, beteken daar word giftige gasse vrygelaat. Die feit dat rommel toegegooi is, laat nog ‘n vraag onstaan, watter rommel. Watter giftige gasse is reeds vrygelaat nou al vir maande. Watter gesondheidsstudies is gedoen en gaan gedoen word. Hierdie is area waar mense bly, so daar is reels en regulasies van wat mag en nie mag nie. Is hierdie reels gevolg? As ‘n plek vanself aan die brand slaan, gaan daar duisende rooi ligte op. Hoe veilig is dit. Daar is reeds mense wat gekla het dat hul neuse bloei. Wie gaan die mediese rekeninge betaal en erger nog wat as daar permanente mediese skade is? MM ondersoek hierdie saak asb. verder. Vullis in Pretoria oor die algemeen is ‘n groot probleem. Mense word aangeval en beroof by die ander vullishope. Daar word ook skielik verwag mense wat erfbelasting betaal, moet ‘n verdere R150 per maand betaal vir “city cleaning” projek. Of mense dit kan bekostig of nie (bv. pensionarisse), hulle moet dit betaal. Gaan die geld werklik gaan vir werk skepping, as huidige vullisprobleme nie beheer kan word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.