Foto’s: Pta-nooddienste het hande vol met hope buitebande wat brand

Die buitebande wat brand. Foto: Verskaf

Die Tshwane-nooddienste monitor ʼn erge brand wat in Centurion ontstaan het en veroorsaak het dat meer as ʼn duisend ou buitebande aan die brand geslaan het.

Johan Pieterse, woordvoerder van die nooddienste, het Sondag gesê die brand het Saterdag omstreeks 18:30 in die Sunderland Ridge-omgewing uitgebreek waar meer as ʼn 1 000 buitebande in ʼn oop veld op hope geplaas en gestoor is.

“Spanne van twee brandweerstasies in die omgewing was regdeur die aand op die toneel om te verseker dat die brand nie verder na ander hope buitebande, wat sowat 20 meter van die brand af is, versprei nie,” het Pieterse gesê.

Volgens Pieterse is die buitebande in ʼn oop stuk veld gestoor wat geoormerk is om as ʼn skietbaan gebruik te word.

“Die stad se omgewings- en landboubestuur sal ondersoek instel oor die wettigheid van hoe die bande gestoor is,” het hy gesê.

Hy het gesê die nooddienste sal op die toneel bly totdat die brand, wat na verwagting nog ʼn paar dae gaan smeul, heeltemal onder beheer is.

Die oorsaak van die brand is nie bekend nie en geen beserings is aangemeld nie. Daar is wel ʼn hondeherberg direk langs die stoorplek geleë. Al die honde is egter na ʼn veilige hawe geneem en is ongedeerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

BBIDL ·

Is jy ‘n kenner?

‘n Vinnige Google search bewys dat dit nogal algemeen is en dat jou stelling oningelig is.

Daan Erasmus ·

Motorbande brand nie vanself nie. Moet nie alles glo wat Google of Die Huisgenoot sê nie.

Cherokee ·

Julle stel opnuut en buitendien keer op keer teleur. Geen, absoluut geen sin vir besigheid! Verkoop dit aan die betogers! En maak die prys hoog genoeg om die teer weer te vervang.

Nettie ·

Cherokee, ek hou elke dag meer en meer van jou (kommentaar).

Patrys ·

Die oorsaak van die brand is (nog) nie bekend nie maar vermoedelik vanself ontvlam ?

BBIDL ·

Ja Patrys

Dis nog winter. Gras is droog. Daar lê glasstukke en botteltjies oral rond. Veldbrande en “tire-fires” kan spontaan plaasvind, veral nou dat dit begin warmer word.

lizell ·

Het ek reg gelees….wou hulle n skietbaan maak langs n shelter vir heel waarskynlik reeds getraumatiseerde honde?

Se maar net 1 ·

Diereherberg is nie dieselfde as ‘animal shelter’. So ek dink dit is mense se troeteldiere waarvan die eienaars met vakansie is.
Die diere is nie getraumatiseerd nie.

Lola ·

Daar is ‘n skietbaan alreeds. Ek wonder ook oor die honde herberg en die skietbaan so na aan mekaar. Dit is nie die eerste keer dat die bande brand nie. Verlede ook gebrand en toe was dit opsetlik aan die brand gesteek. En ons almal sit met hengse sinus allergiee vanoggend………..

bianca ·

dit is verkeerdelik as n diere herberg beskryf, die honde wat daar is, is opgeleide sekuriteits honde, en dit is hulle ‘huis’ as hulle van diens af is.

Vra maar net ·

Het dieselfde plek nie laas jaar ook deurgeloop nie?

Lerato ·

Daar moet ‘n manier gevind word om hierdie bsnde nuttig te herbruik

christa ·

hoekom word ou bande gestoor? Wat kan daarmee gedoen word? Bande moet vernietig word en nie daar gestoor word om in verkeerde hande te beland vir brandstigting nie.

mons ·

Gaan kyk bietjie hoeveel huise het in die laaste twee weke afgebrand. Komplex in Sunninghill, Twee huise in Benoni AH. 1 in Germiston. 1 in Endicot Springs. 5 houthuise in Eloff Delmas. Waterfront in Warmbad. Toeval?

Diklizzy ·

Ek werk by ‘n bandeversoler. Ons berg ongeveer 10 000 (ja, tien duisend) bande van verskillende groottes ter eniger tyd in ins store en werwe. Daar het nog NOOIT bande “vanself” aan die brand geslaan nie. Nie eers met glas ook wat ook al wat as vergrootglas dien nie. Die regering het al ‘n aantal jare terug’ n wetsontwerp goedgekeur vir die herwinning van band karkaste. Doen julleself ‘n guns en gaan kyk bietjie wat gaan nou by die ou Redisa bergingsplekke aan. Nadat Redisa tot niet gemaak is weens wanbestuur gaan dit nou EERS lekker onder staatsbestuur. Ons betaal per bandkarkas wat ek aankoop, per band wat ek versool en per band wat ek verkoop, ‘n fooi aan die staat, m. a. w 3 keer vir dieselfde band. Wonder waar eindig al daai geldjies van my 1000 plus versoolde bande per maand…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.