[Foto’s] Pta-optog: ‘Geen toestemming vir memorandum’

Optoggangers by Kerkplein in Pretoria (7 April 2017). Foto: Jonisayi W. Maromo/ANA via Twitter

Die regering het Vrydag gesê hoewel ʼn hofbevel toestemming gegee het dat die Save SA-optog in Pretoria voortgaan, die presidensie nie toestemming gegee het dat ʼn memorandum by die Uniegebou oorhandig mag word nie.

Die sogenaamde “People’s March” wat deur Save SA gereël word, is byna gekanselleer nadat die Tshwane-metropolisie Donderdagmiddag gesê het daar is geen toestemming vir die optog gegee nie. Save SA het ʼn dringende aansoek voor die hof gebring om te verseker dat die optog kan voortgaan en die aansoek is toegestaan.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende polisiekommissaris, het Donderdagaand aanvanklik gesê hy is nie bewus van enige hofbeslissing oor die optog nie en enige optog in die stad sal sonder toestemming gedoen word en onwettig wees. Die SAPD het egter Vrydagoggend op sy Twitter-profiel gesê hy dra kennis van die toestemming wat verleen is vir die optog om gehou te word.

Intussen het die regering ʼn verklaring uitgereik waarin hy beklemtoon het dat Vrydag 7 April ʼn gewone werksdag is. “Die beplande optog en oorhandiging van ʼn memorandum by die Uniegebou, wat ʼn nasionale sleutelpunt is, vereis dat daar vooraf geskrewe toestemming van die presidensie ontvang moet word in ooreenstemming met die Wet op die Reëling van Byeenkomste. Die regering wil graag bevestig dat geen so versoek deur die direkteur-generaal in die presidensie ontvang is nie.”

Betogers op Atterburyweg in Pretoria (7 April 2017). Foto: Ernst Botha via Facebook

Die regering het betogers verder daaraan herinner dat hoewel dit hul grondwetlike reg is om aan massa-aksies deel te neem, sulke protesaksies binne die raamwerk van die wet gedoen moet word. “Diegene wat beplan om aan die optogte deel te neem, moet dit op die aangewysde roetes en op ʼn vreedsame wyse doen. Optoggangers moet hulself weerhou van enige vorm van intimidasie, die verwoesting van eiendom of uitlokkende aksies wat geweld kan aanhits.”

Daar is op sosiale media bespiegel dat die reën in Pretoria sal veroorsaak dat minder mense sal opdaag om aan die optog deel te neem as wat aanvanklik verwag is, maar lede van die publiek het reeds vroegoggend met plakkate en Suid-Afrikaanse vlae opgedaag om die optog te steun.

Optoggangers by Kerkplein in Pretoria (7 April 2017). Foto: Jonisayi W. Maromo/ANA via Twitter

Op die brûe by Lynnwoodweg, Atterburyweg, Garsfonteinweg en Rigelrylaan het betogers in groepe saamgedrom en plakkate omhooggehou, terwyl motoriste wat onder op die snelweg verbygery het hul toeters geblaas het. Op Kerkplein het optoggangers en aktiviste van Save SA saamgedrom en “Zuma must fall” gedreunsing.

Die SAPD het inwoners op Twitter gewaarsku verskeie strate sal deur die optog, wat van 10:00 tot 15:00 plaasvind, geaffekteer word. Die optog sal van Kerkplein tot by die Uniegebou beweeg. Strate wat geaffekteer sal word, is Madiba, Lillian Ngoyi, Sisulu, Du Toit, Nelson Mandelarylaan, Edmon en Hamilton. Madibastraat en Hamiltonstraat is heeltemal gesluit omdat die busse wat die optoggangers vervoer daar geparkeer sal word.

Volgens die SAPD sal metropolisiebeamptes al langs die roete ontplooi word om die optog te monitor.

Die regering het gesê hy sal die publiek deur die dag op hoogte hou van die vordering van die optogte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bangmaakkultuur ·

Whaaaaaaa ek kan so lekker lag vir die clowns. Nou dat daar WITMENSE by betrokke is nou is dit illegal alhoewel daar aansoek daarvoor gedoen is en alles volgens die wet gedoen is. Toe die swartes die UNIVERSITEITE afgebrand het en almal me klippe bestook is was dit ook ILLEGAL en wat is aan hulle gedoen? Een of twee is in hegtenis geneem en weer vrygelaat. Die polisie en regering maak die WITTES BANG< en leef op die VREES Van wittes, wittes is bang om in hegtenis geneem te word, hulle is bang om aangeval te word, ONS is nou GENOEG gedreig,ons is NIE meer so bang soos julle dink nie. Hoekom is alle SWART MARCHES wettig en een march wat deur wittes ondersteun word is skielik ONWETTIG? GO for it .. moenie dat die ANC en useless polisie julle bangpraat nie, hulle het gestaan en kyk hoe studente mekaar slaan en met bakstene gooi, vir die POLISIE moet julle nie bangwees nie . .hulle koes en hardloop vinniger as die betogers~!~!

John ·

Demokrasie maar geen memorandum sal oorhandig mag word nie. Miskien kan oom De Klerk sy opwagting maak en dit in ontvangs neem namens sy base.

Pierre ·

Wonder of daar geskrewe toestemming gekry word vir plaas moorde? Seker maar.

Andre ·

As daar nie toesteming vir n optog gegee word nie is dit onwettig is die ander 120 optogte elke dag dan wettig

staan saam ·

ek is bly dat diegene wat by die optog was hulle mening kan lug oor die swak president zuma ons is keel vol van hom dis tyd wat hy moet waai hy het ons land in n krisis en hy verstaan self nie die belangrikheid daarvan nie.kom ons verenig suid afrikaners teen zuma en sy opvolgers

w ·

Presidensie vra vrede sonder verwoesting te saai. Zuma en sy trawante het ANC ondersteuners geleer van onverdraagsaamheid en geweld en plundery. Vandag kon hul sien hu beskaafde opgevoede mense optree?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.