[Foto’s] Pta se eerste burger help opruim ná optogte

Solly Msimanga, Pretoria se burgemeester, het Donderdag die middestad se strate ingevaar om opruimingswerk te doen. Foto: Verskaf

Solly Msimanga, Pretoria se burgemeester, het Donderdag die middestad se strate ingevaar om opruimingswerk te doen. Foto: Verskaf

Solly Msimanga, Pretoria se burgemeester, het Donderdag self die middestad se strate ingevaar om opruimingswerk te doen nadat daar Woensdag skade aangerig is tydens wydverspreide optogte.

Verskeie winkels se ruite is gebreek en geplunder en strate in die middestad is met rommel besaai toe duisende betogers aan massaprotesoptredes deelgeneem het.

Ondersteuners van EFF het onder meer betoog dat pres. Jacob Zuma uit sy amp verwyder word. Die DA het betoog ter verdediging van Suid-Afrika se demokratiese instansies en burgers versoek om saam te staan om die Grondwet te beskerm. Nog ʼn organisasie, Save South Africa, het buite die Pretoria-landdroshof betoog, waar hofverrigtinge oor die bekendmaking van die veelbesproke staatskaping-verslag plaasgevind het.

Die polisie en metropolisie het hul hande vol gehad toe deelnemers aan die EFF-optog van die beplande roete afgewyk en in verskeie strate betoog het.

Msimanga het Donderdag, voor die opruimingswerk van stapel gestuur is, op die Sammy Marksplein bevestig inligting is van die Tshwane-metro se wetstoepassingsowerhede ontvang dat daar tydens die betogings onder meer skade aan eiendom aangerig is.

Hy het die voorvalle veroordeel en gesê vernietigende protesoptredes is nie in die gees van demokrasie nie.

“Die vandalisme, plundering en minagting van wetstoepassingsowerhede sal nie geduld word nie. Ons moedig plaaslike wetstoepassers aan om die nodige stappe te doen teen diegene wat verantwoordelik is vir gedrag wat nie demokratiese betogings bevoordeel nie,” het Msimanga gesê.

Msimanga het gesê hoewel sekere optredes betreurenswaardig is, het nie alle protesoptredes in die middestad egter met sporadiese vernietiging en geweld gepaardgegaan nie. “Ons is tevrede dat wetstoepassers alles in hul vermoë gedoen het om die skade wat aangerig is te beperk, te midde van drie ongekende optogte. Maar, soos in die geval van massaprotes in die algemeen, is daar plekke wat slordig gelaat is.”

Hy het beloof om sy deel as burgemeester te doen om te verseker dat die stad se netheid herstel word.

Msimanga het gesê die metro sal maniere ondersoek om te verseker dat onwettige optredes nie in die toekoms herhaal word nie en dat protes binne die perke van die Wet op Byeenkomste geskied.

Hy het inwoners en sake-eienaars bedank vir hul geduld tydens die betogings en hulle aangemoedig om alle voorvalle van geweld en gepaardgaande skade aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Alida ·

Gee vir no 1 ‘n besem en water om te help. Dit is mos volgens hom demokrasie !!!!!!!!!!!!!

Mix ·

Solly jou yster!!!! Baie dankie vir die daad by die woord voeg!

Sarie ·

Wàt ‘n pragtige voorbeeld.. As elkeen wat deelgeneem het aan die optogte hand sou bysit, is die strate & dinge in ‘n japtrap weer opgeruim & skoon…

hans ·

Nou maak hy kamtig skoon,oor n week weer, enso gaan dit aan .Die probleem bly.As hy die kriminele agter tralies kan sit dan eers sal ek vir hom hande klap.

Kiepie ·

Hans, dit is nie sy werk om krimenêle te vang en agter tralies te sit nie. Die Polisie staan ook in Pretoria, net soos in elke ander streek, stad en dorp in die land onder die beheer van die Nasionale Regering (met ander woorde die ANC). Sy hande is dus redelik afgekap wat wet en orde aan betref in Pretoria. Gee eer waar dit toekom en moenie kwessies verwar nie.

Rupert Ashford ·

Hy is effens in ‘n penarie want die “kriminele ” (EFF) hou hom in die kussings…

Genoeg is genoeg ·

Jinne @ Hans, ons kan doen met bietjie positiwiteit! Tenminste sit Solly nie op sy agterstewe en veroordeel net nie – hy spring in en doen iets!

Fanie Gerber ·

hans – ek ken die man persoonlik, – hy doen nie goed om ”shine’ te vang nie-hy was lid van my Chrysler Eienaars Groep lank voor sy burgermeesters dae – hy speel nie politiese games nie en noem nie eers aan watter party hy behoort nie – en ry en besit ‘n pragtige 1972 Valiant – netheid en eerlikheid is soo ons in die groep hom ken – ons het kort voor die verkiesing eers gehoor maar hy is die kanditdaat – en nie van hom nie.

Hasie ·

Julius Malema, kan jy asseblief jou aanhangers maniere leer.

CAB ·

Solly Msimanga baie dankie dat jy vandag daar was om n voorbeeld te wees… Soos hy gese het hierdie sal die laaste keer wees wat n betoging so hand uitruk.
Ek dink dit sit in Solly Msimanga om verandering te bring en dink ons moet bietjie ondersteuning gee.
Ek het ook my vertroue in “regerings” verloor maar ons kan nie veraltyd staan en teen skop nie. Iewerste het SA weer ondersteuning van positiewe geleerde mense nodig. Kom ons sien sy Positiewe kant raak en werk saam dit.

Jip ·

Ek EER hom vir die feit dat hy help opruim om sy bereidwilligheid te toon om weer orde uit chaos te skep, maar as Burgemeester sou ek verwag dat hy nie die EFF se aansoek tot ‘n optog goedgekeur het nie, want almal weet hulle is nie so vreedsaam soos hulle probeer voorgee nie.

Ouma ·

Mooi so Solly. Jy het al op ander gebiede ook reeds jou merk gemaak. Wens daar was meer soos jy wat die voorbeels stel.

John ·

Die baas is nou die slaaf in die hoop van nog ‘n paar stemme. Hoekom nie ‘n metro-veiligheidswag stig nie, wat die skade kan beperk of is stemme-werf die oorheersende gedagte?

sunette ·

Well done… ek gee nie om of hy dit dalk vir die publisiteit doen nie.. (glo nie hy doen dit daarvoor nie) hy doen dit tenminste. Ek is nie daar nie so ek weet nie, maar ek hoop die publiek help skoonmaak. Die klomp wat so verwoesting gesaai het is niks minder as stoute kinders nie. Straf hul.

christa ·

Baie mooi Solly sjoe as ons nog n paar van soort kan kry sal dit n pragtige Pretoria wees.

Claire Visagie ·

Ek dink ons burgemeester kan nie wag om behoorlik diens aan die inwoners van Tshwane ofte wel Pretoria te lewer nie, daarom wat hy sommer self inspring en help opruim, want soos dit uit die nuus deurskemer is elke mayoral counsil meeting sover nog net ontwrig, Dankie vir die voorbeeld Solly Msimanga

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.