[Foto’s] Pta-spruit skoongemaak ná dieselstorting

Foto: Facebook

Foto: Facebook

ʼn Skoonmaakoperasie is steeds by die Moreleta-spruit in die ooste van Pretoria aan die gang nadat diesel in die spruit gestort is.

Matthew Gerstner, waarnemende woordvoerder van Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het aan Maroela Media gesê die dieselstorting het plaasgevind weens ʼn pomp van die kragopwekkingstelsel by die Menlyn-winkelsentrum wat foutief was. “Dit is nog nie duidelik presies hoeveel diesel in die spruit gestort is nie en ons wag nog dat die winkelsentrum dit aan ons bevestig. Ons sal verseker dat die sentrum volledige terugvoer gee oor die aangeleentheid,” het Gerstner gesê.

Die dieselstorting het veroorsaak dat die water in die Moreleta-spruit besoedel is en talle visse gevrek het en dit het ook ʼn negatiewe uitwerking op die oewerplantegroei gehad. Verskeie inwoners het op sosiale media gekla dat die storting ʼn onaangename reuk in die gebied veroorsaak het.

“Die Stad is daagliks op die toneel om die skoonmaakoperasie te monitor en raad te gee oor die rehabilitasie van die geaffekteerde areas. Die Stad het ook monsters op die toneel geneem en sal weer monsters neem sodra die skoonmaakoperasie afgehandel is. Ons sal verseker dat die spruit ten volle skoongemaak word,” het Gerstner gesê.

Hy het gesê die kontrakteur wat vir die storting verantwoordelik is, is versoek om ʼn omgewingsrehabilitasieplan asook ʼn moniteringsplan wat oor ses maande strek aan die Stad voor te lê. “Indien hulle versuim om dit te doen, sal verdere stappe oorweeg word.”

Volgens Gerstner sal die dieselstorting nie die stad se waterreserwes affekteer nie.

Die Tshwane-metro het Dinsdag aangekondig dat streng waterbeperkings ingestel is weens ʼn watertekort wat toegeskryf word aan hoë verbruik, teenoor minder water wat deur Rand Water verskaf word.

“Die stad kry byna driekwart van sy water van Rand Water en die res word verkry van munisipale watersuiweringsaanlegte, fonteine en boorgate. Die stad het ongeveer 180 punte waar watermonsters op ʼn weeklikse en maandelikse basis geneem word. Dit sal die stad in staat stel om enige ongewenste stortings in die stad se drinkwaterbronne te identifiseer,” het Gerstner gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lance ·

Het enige iemand al die Hennop revier in centurion beleef … die stank ! Die bolle skuim op die water wat nie wil weg nie …wat is dit ? Die plastiek sakker wat oral aan die takke vassit …lyk BAIE sleg …daar is nie eets meer n vis in die revier en die voels raak siek !

Magda ·

DA julle maak ons trots!! Maar kom maak asb die Hartbeesspruit ook skoon. Dit loop van Colbyn se kant af deur Kilnerpark en ongewenste plakkers wat hulle plastiek ens wat hulle gaan verkoop vir n inkomste, daar uitsorteer gooi doodeenvoudig dit wat hulle nie wil hê nie, in en om die spruit. Vele klagtes van die laaste 4 jaar by TSHWANE en die Metro val op dooie ore. Wanneer ons goeie reens in die opvanggebied kry, gaan hierdie spruit opstoot en binne in ons huise in stroom. Help asb DA

Theresa ·

Nog ‘n plek om op lys te sit om te inspekteur en reg te ruk is langs M10 af tot hoek van Garstfonteinweg. Die mense met onwettige vierkante op wiele wat die paaie vol loop en trek met gemors op, gooi dit eenvoudig daar langs die pad. Die riete dui aan dat daar water is en dit is in omgewing van Moreletaspruit. Daar woon mense in die pype ook langs daardie strate af – veral tussen Jaqueline rylaan en Solomon Mhlangu en Delphi en Solomon Mhlangu. Daagliks heerlike in en uitkruipery daar met vuurtjies wat rookbesoedeling voortbring vir erfbelastingbetalings in gegoede buurt om in te asem. Kan die DA ook daar intree en opruim, asb.? (o ja, daar was op ‘n stadium ‘n bordjie daar: beware for your own safety…)

Alida ·

Mense die DA doen hul bes om alles reg te ruk. Gee hulle kans asb. Dit is jare se gemors van die ANC wat moet skoongemaak word. Ek is eintlik jammer vir hulle. Rome is nie in 1 dag gebou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.