[Foto’s] R3 miljoen dwelmvonds gemaak

Die dagga wat by Nakop-grenspos gevind is (Foto: SAID)

Die dagga wat by Nakop-grenspos gevind is (Foto: SAID)

Doeanebeamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het die afgelope 48 uur in twee klopjagte beslag gelê op dagga en heroïen ter waarde van meer as R3 miljoen.

“Meer as 500 kg dagga was versteek in ʼn vragmotor wat op pad was na Namibië,” het Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, in ʼn verklaring gesê. Dit is een van die grootste dagga-klopjagte nog ooit deur SAID-beamptes.

“ʼn Doeanebeampte by Nakop-grenspos in die Noord-Kaap het Vrydagoggend omstreeks 02:00 die bestuurder en passasier van ʼn wit Hyundai- ligte afleweringsvoertuig voorgekeer om dit te deursoek. Die drie ton vragmotor het 12 beddens en matrasse vervoer.

Die dagga was versteek in plastieksakke wat in die basisse van die beddens en binne matrasse versteek is. Daar was 23 groot sakke wat elk 100 klein sakkies bevat het. Die dagga se waarde beloop meer as R2.8 miljoen.

“Die polisie het die bestuurder en sy passasier in hegtenis geneem. Die afleweringsvoertuig word by die Nakop-grenspos gehou hangende die uitslag van die ondersoek.”

In ʼn tweede voorval was ʼn doeanebeampte en sy snuffelhond besig om pakkies by DHL by OR Tambo Internasionale Lughawe te ondersoek toe die hond positief reageer het op ʼn pakkie wat vir Spanje bestem was. “Daar was vier sakkies met ʼn poeierstof tussen die uitgesnyde bladsye van ʼn boek versteek,” het Memela bygevoeg. “Die poeierstof is positief uitgeken as heroïen. Die 1 kg heroïen se waarde word geraam op R201 810.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

As mens verniet kan universiteit toe gaan, gratis skoolopleiding kan kry, kostelose gesondheidsdienste kan kry, dan kan dagga ook seker maar gewettig word op die een voorwaarde dat ook dit vir mahala beskikbaar sal wees.
In plaas van noordwaarts sal daar dan suidwaarts gevlug word.
Dink net dat ons almal sal werk om niks te verdien want daar sal niks wees waarvoor ons hoef te verdien. Die gevolg sal wees om elke oggend laat op te staan en met ‘n bier in die hand op die stoep te gaan sit om sodoende die dag se ‘werk’ te begin.
Tjailatyd met ‘n bier in die hand en die sonnetjie wat sak word die daggazol uitgehaal en met lang teue word die rugby en krieket bespreek. Natuurlik is DSTV se kanale ook pasella.
O, dis darem lekker om te droom . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.