Foto’s: Ramaphosa oor ‘suksesvolle’ G20-beraad

Pres. Cyril Ramaphosa skud blad met Shinzo Abe, Japan se eerste minister. (Foto: Elmond jiyane, GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het sy besoek aan die G20-beraad as suksesvol bestempel en Japan gelukgewens met sy aanbieding van ʼn goed georganiseerde beraad, het die presidensie Sondag gesê.

Ramaphosa het gister sy tweedag-besoek aan Osaka in Japan afgesluit waar hy die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die G20-beraad gelei het.

Staatshoofde en verteenwoordigers van lande met G20-lidmaatskap het dié beraad bygewoon wat die nodige platform skep om internasionale ekonomiese uitdagings aan te raak. Die lande wat die beraad bygewoon het, maak 85% van die wêreld se ekonomiese aktiwiteit en tweederdes van die wêreld se bevolking uit.

Maroela Media het vroeër berig die G20 is in 1999 op die been gebring om internasionale samewerking vir die herstel van die wêreldekonomie te verbeter, stabiliteit aan die internasionale finansiële stelsels te verleen, asook langtermyn‑ volhoubare groei en gesonde internasionale regering te bevorder.

Vanjaar se beraad sou fokus op agt temas, waaronder die internasionale ekonomie, handel en belegging, innovering, die omgewing en energie, werkskepping, die bemagtiging van vroue, asook ontwikkeling en gesondheid.

Luidens ʼn verklaring deur die presidensie ná afloop van vanjaar se beraad het verteenwoordigers die afgelope paar dae hul toewyding aan die tydige inwerkingstelling van die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling en die Addis Abeba-aksie-agenda bevestig. Dit is gedoen ter wille van die bevordering van Afrika-ontwikkeling.

Versterkte rolle vir die Wêreldbank, die Afrika-ontwikkelingsbank asook die Internasionale Monetêre Fonds is ook bespreek en dié inisiatiewe sal bydra tot die realisering van die Afrika-unie se Agenda 2063. Die beraad sal in die toekoms ook dié vordering monitor om onwettige finansiële vloei te bekamp.

Luidens die verklaring het Ramaphosa voor afloop van die beraad ook met Abdel Fattah el-Sisi van Egipte, voorsitter van die Afrika-unie, asook Macky Sall van Senegal, voorsitter van Nepad, vergader. Dié bespreking het dit moontlik gemaak vir hierdie leiers om Afrika se posisie rakende die beraad se agenda te konsolideer, het die presidensie gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa aan die woord by die G20-beraad. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Verder het lande gedurende vanjaar se beraad tot die besluit rakende handeldryf en beleggings gekom om na ʼn vry, regverdige, niediskriminerende, deursigtige, voorspelbare, stabiele en oop markomgewing te streef.

G20-lande sal ook ʼn teenkorrupsie-aksieplan vir 2019 tot 2021 opstel. Die meerderheid lande het gedurende die beraad besluit om die Paryse klimaatsooreenkoms te volg om klimaatsverandering beter te bestuur.

Die president het gedurende sy besoek aan Osaka deelgeneem aan die staande informele Brasilië-, Rusland-, Indië-, China- en Suid-Afrika-leiersvergadering, oftewel Brics, onder voorsitterskap van Brasilië. Dié vergadering weerspieël die huidige geo-politieke omgewing en het gestreef na samewerking onder Brics-lede ter voorbereiding van die G20-beraad.

Ramaphosa het ook gedurende hierdie tyd vergaderings bygewoon om bande met Rusland, China, Japan, Saoedi-Arabië, asook die president van die Wêreldbank te smee.

Die president het sy besoek aan Osaka afgesluit met die Japan-Suid-Afrika- uitvoerendehoof-sakerondetafelgesprek. Dié vergadering het onder voorsitterskap van Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, geskied en het meer as 20 Japannese sakeverteenwoordigers ingesluit.

Die geleentheid bied ʼn unieke platform om sakegeleenthede te ondersoek en vennootskappe in Suid-Afrika asook Japan te bou, lui die verklaring.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Al wat nog kort om die 2030 teiken te bereik, veral in Afrika, is Aladdin se Lampie. Ongelukkig is dit skynbaar gegaps – net na die SONA toespraak?? Wat nou daarmee gaan gebeur, weet nugter. Miskien kan die Droomstad tog van die Grond sonder Onteiening afkom! He-he-he.

Andreas ·

Hierdie man Cyril, leef in ‘n droomwêreld, hy moet kom luister wat het Hoofregter Mogoeng verlede vrydagoggend by The Directors Event in sy toespraak te sê gehad oor verskeie sake, hoe die president en leiers in die land verkies word, verantwoordbaarheid, kundigheid, korrupsie, die verval van die munisipaliteite, dan moet Cyril ook die koerante en webwerwe oor hierdie sake kom lees, ook wat die kundiges te sê het oor die nuwe superstad en die realiteit van die land wat Cyril miskyk, hy en die hele ANC regering.

Feite ·

Weer n lekker platform en deurtjie vir ons liewe President se eie sake geleenthede.
Nie n saak met die land se krisis status nie.

Jerry ·

Die G20 beraad mag dalk suksesvol aangebied wees deur Japan en vir soverre dit bywoning aanbetref deur CR en sy gevolg. Wat buitelandse kapitaal egter aanbetref is CR en sy gevolg se pogings alles behalwe suksesvol, omrede miljarde in kapitaal van die JSE onttrek word en SA teen n redelike vinnige tempo verlaat! Buitelandse kapitaal sal aanhou om SA te verlaat agv georganiseerde misdaad wat gedy, georkestreerde plaasaanvalle wat toeneem, kaders wie onregmatig en botallig aangestel was by SOE’s/Munisipaliteite en wie nie afgedank gaan word nie en staatskapers wie nie agter tralies sit nie, maar wie in die parlement sit! CR en sy gevolg gaan een of ander tyd ophou droom en dan sal die ANC hopelik besef dat “you can fool some, but not all”!

Schalk ·

Jy staan met n glimlag terwyl jou mense bloei in die land wat jy die president van is.Dis jammer swart bruin indier wittes lei onder jou onbevoegdheid en lee beloftes.Asseblief word net eendag wakker vee daai smile van jou gesig af en besef wat is jou verantwoordelikheid teenoor alle LANDSBURGERS nie onwettige grensverkragters nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.