Foto’s: Reën transformeer Augrabies

Die skouspel van waters by die Augrabiese Watervalle (Foto: SANParks, Twitter)

Besoekers van reg oor die land stroom na die Augrabies-waterval in die Noord-Kaap om dié skouspel van kolkende, skuimende waters te aanskou. Die waterval loop sterk nadat swaar reën reeds langer as twee weke in groot gedeeltes van die land uitgesak het.

Dié aangrypende natuurverskynsel waar tans meer as 2000 kubieke meter water per sekonde vloei, het tonge behoorlik aan die praat.

Genevieve Maasdorp, SANParke se kommunikasiebestuurder van die Arid-distrik, sê hulle het die afgelope naweek ʼn rekordgetal van 467 oornaggaste en 6 628 dagbesoekers in die Augrabies-waterval Nasionale Park aangeteken.

Volgens Maasdorp was die park laas tydens die groot oorstromings in 2011 in die Noord-Kaap so vol.

“Die toeloop van besoekers sal ʼn geweldige positiewe uitwerking op die plaaslike ekonomie hê,” sê Maasdorp.

Besoekers stroom na die Augrabiese Watervalle in die Noord-Kaap (Foto: SANParks, Twitter)

Volgens haar voldoen die park aan al die nodige Covid-19-regulasies om die besoekers ʼn veilige en gemaklike besoek te verseker.

Daar word verwag dat die waterval teen volgende week steeds ’n skouspelagtige vertoning sal lewer.

Die onlangse reën het byna die Augrabiese Watervalle ‘getransformeer’ (Foto: SANParks, Twitter)

Intussen loop van Suid-Afrika se grootste damme oor.

Maroela Media het vroeër berig dat die Vaaldam Dinsdag meer as 100% van sy kapasiteit bereik het. Die dam was teen Woensdagoggend 103,9% vol.

Die Grootdraai-dam in Mpumalanga was teen Dinsdag 107,8% vol en die Bloemhofdam in Noordwes is 109,31% vol. Die Tzaneendam in Limpopo was Maandag 77% vol.

Die Gariepdam en Vanderkloofdam in die Vrystaat was teen die naweek onderskeidelik 112,25% en 110,75% vol. In Mpumalanga was die Driekoppiesdam 103,9% vol en die Westoe-dam het ook sy 100%-kapasiteit bereik.

Die Tzaneendam in Limpopo was Maandag 77% vol (Foto: Water&SanitationRSA, Twitter)

Die Gariepdam loop oor (Foto: Water&SanitationRSA, Twitter)

Die Gariepdam is al meer as 100% vol (Foto: Water&SanitationRSA, Twitter)

Die Vanderkloofdam loop oor (Foto: Water&SanitationRSA, Twitter)

DIe Vanderkloofdam was teen die naweek 110,75% vol (Foto: Water&SanitationRSA, Twitter)

Die Buxtono-waterval digby Taung loop sterk (Foto: Sanette Potgieter, Verskaf)

Die Taung-dam (Foto: Sanette Potgieter, Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sê-mar-net ·

#blessed!
So bitter dankbaar vir die Here se seëninge wat die land so verspoel. Bid nogsteeds vir reën is die dele wat nog droogte ervaar….

Misky ·

Dis sulke mooi fotos van ons mooie SA wat my weereens herinner hoekom ons gesin nog hier is en baklei om hier te wees. Ons bly werklik waar in een van die mooiste lande ter wereld!!!!

Tanniepetoors ·

Wat ‘n wonderlike voorreg om ons damme en riviere so te sien. Ek het Augrabies nog nie so gesien nie. Aandoenlik mooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.