Foto’s en video: Reën veroorsaak chaos in Gauteng

ʼn Pad wat oorstroom het in Centurion (23 Maart 2018). Foto: Daléne Jacobs via @ReenvalSA (Twitter)

Aanhoudende reënval in Gauteng het Vrydag kitsvloede op plekke in Johannesburg en Pretoria veroorsaak.

Motoriste is gewaarsku om versigtig te wees rondom laagliggende brûe wat oorstroom het. Talle motoriste was Vrydagoggend in swaar verkeer vasgevang en sommige moes selfs by oorstroomde paaie en brûe omdraai en teruggaan huis toe.

Volgens inligting op sosiale media het verskeie paaie deur die nag oorstroom, insluitend ʼn laagliggende brug op Witkoppenweg in Sunninghill, ʼn laagliggende brug op Nellmapiusweg in Irene, Rabiestraat in Centurion naby die Hennopsrivier en die Klipspruit Valley-pad naby die Soweto-snelweg.

ʼn Pad wat oorspoel het in Boksburg (23 Maart 2018). Foto: @JpDuToit15/Twitter

Op verskeie plekke het bome omgeval wat die padoppervlak versper, insluitend op die M1-noord naby die Atholl Oaklands-afrit, asook by Peter Place in Bryanston naby William Nicol-rylaan. In Melrose het ʼn boom bo-op ʼn voertuig geval. Dit is nog nie bekend of enigiemand beseer is nie.

Gauteng Weather het foto’s op Twitter geplaas van ʼn sinkgat wat gevorm het voor ʼn stortingsterrein naby Valhalla op die pad wat na en van die R55 lei.

Volgens eNCA is inwoners van Alexandra in Johannesburg baie bekommerd oor die watervlak van die Jukskei-rivier wat aanhou styg en al nader aan hul huise kom. Inwoners oorweeg om die gebied te ontruim en ander skuiling te soek.

Kragonderbrekings is ook in sommige van Johannesburg se noordelike voorstede aangemeld, insluitend Northcliff. Verskeie verkeersligte in die stad was ook buite werking.

ʼn Botsing tussen twee busse op Es’kia Mphahlele-rylaan in Pretoria het Vrydagoggend hewige vertragings veroorsaak (23 Maart 2018). Foto: Best Care-ambulansdienste

Op Es’kia Mphahlele-rylaan in Pretoria het twee busse vroegoggend gebots. Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdienste, het gesê drie beseerdes is deur verskillende ambulansdienste na hospitale vervoer. Die ongeluk het hewige vertragings veroorsaak vir verkeer op pad na die Pretoria-sakesentrum.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Stad Johannesburg se noodbestuursdienste, het Donderdag gesê moniteringspanne is na sewe gebiede rondom Johannesburg ontplooi om enige gebeurlikhede te monitor en ook te fasiliteer indien dit nodig raak om mense te ontruim. “Die Stad Johannesburg se noodbestuursdienste bly op hoë gereedheidsgrondslag om te verseker ons kan doeltreffend reageer op enige noodgeval wat in die stad kan voorkom.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku swaar reënval sal na verwagting vandag voortduur in Gauteng, die westelike gedeeltes van Mpumalanga, oostelike gedeeltes van Noordwes sowel as oostelike gedeeltes van die Vrystaat.

‘n Video volg onderaan die foto’s.

Die Hennopsrivier oorstroom op die hoek van Blackwood- en Witstinkhoutstraat in Centurion. Video: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Peet Schabort ·

Dink net, al die besoedeling soos riool, plastieksakke ens. is nou op pad na ons opgaardamme waaruit drinkwater en besproeiing gedoen word. Maar darem is jou omgewing tydelik weer skoon.

Johnnie ·

Ons gee aan die Here al die eer vir die reen en ons bly bid dat die kaap ook sulke reen sal kry asook al die droee plekke in ons land.

christa ·

Kom ons buig net die hoofde en se Dankie Koning Jesus vir die broodnodige reen.

cor ·

Strate oorstroom as gevolg van geblokte storm water dreinering stelsel. Dit is n probleem in elke dorp en stad in die land. Waar daar mense is wat strate skoon maak word die lee houers en papiere sommer so in die dreinerings openinge ingevee en gelos. So die oorstromings kan net voor die deur van elke munisipaliteit se skoonmaak dienste gele word.

CK ·

Cor, ek stem 100% saam met jou. My skoon-pa het jare gelede by die Munisipaliteit gewerk, en die wat jy noem was presies sy antwoord oor hoekom daar so baie oorstromings is op die hoofweë. Daar groei al bome uit ons dorp sin uit.

Manie Strydom ·

Die damme sal darem vol wees vir die winter maar die bestaande damme is gebou vir n bevolking van 10 miljoen nie 55 miljoen plus nog miljoene van die res van afrika nie.

Johanna Botha ·

Cor jy is SO reg …dis die rommel wat grootliks die verstopping veroorsaak ….but will the penny drop ?

Johannes van Staden ·

Die elektriese bokse wat altyd gesluit was staan nou oop, so dit reen in en almal weet krag en water saam werk nie behalwe die munisipalteit

Osie ·

Vermy Menlyn Maine tans. Deel vbd dak buite Tashas het ingeval.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.