Foto’s: Rekordgetal walvisse aan Kaapse Suidkus getel

Foto: Jean Tresfon

’n Rekord getal walvisse is Saterdag in ʼn opname aan die Kaapse Suidkus getel.

Volgens Jean Tresfon, ’n mariene-bewaringsfotograaf, is ’n yslike getal walvisse gedurende ’n walvisopname vir die Soogdiernavorsingseenheid se walviseenheid vanuit die lug getel.

Tresfon het Sondag pragtige foto’s van dié asemrowende ervaring op Facebook gedeel. Sy inskrywing is teen Maandagmiddag meer as 2 000 keer gedeel.

Tresfon vertel in die inskrywing dat hy in samewerking met die walviswetenskaplike Chris Wilkinson die eerste groep walvisse van die opname vanuit die lug tussen Hermanusmond en De Kelders getel het. Volgens Tresfon het dié groep bestaan uit 107 walvisse insluitend 41 koei-kalfpare en 25 volwasse walvisse. Die groot getal walvisse kom egter as geen verrassing nie aangesien die gebied ’n gunsteling-bestemming vir walviskyk is.

Tresfon vertel verder dat hulle later ’n groep walvisse by Pearly Beach, Die Dam en Agulhas opgemerk het en nog ʼn groot groep tussen Struisbaai en Arniston. Die grootste groep was egter naby die De Hoop-natuurreservaat, van Skipskoppunt na Lekkerwater, waar hulle ʼn ongelooflike 1 116 walvisse, insluitend 558 koei-kalfpare, getel het. Volgens Tresfon is die Koppie Alleen-gebied ongetwyfeld die belangrikste teelterrein vir walvisse aan die Suid-Afrikaanse kus.

Van daar tot by Kaap Infanta, vertel Tresfon, was aansienlik meer walviskoeie en kalwers langs die kus. Later is nog 60 walvisse in St. Sebastianbaai getel, hoofsaaklik rondom die Breederiviermond en verder oos na die Duiwenhoksriviermond.

Die Suidkus se rykdom aan marienelewe eindig ook nie daar nie. Tresfon vertel dat hulle tydens die opname ook verskeie wit haaie tussen die walvisse en kalwers gesien het. Hulle het ook ’n hele paar dolfyne en robbe opgemerk.

Volgens Tresfon het hulle aan die einde van hul opname ’n boodskap van Els Vermeulen, hoof van die walviseenheid, ontvang om die finale getal walvisse aan die Suidkus te finaliseer. Volgens Vermeulen is daar altesaam 1 347 walvisse tussen Hawston en Witsand getel. Tresflon bevestig dat dié getal byna “presies die hoeveelheid walvisse is wat byna dieselfde tyd in 2017 in dieselfde gebied getel is asook ʼn nuwe rekord vir die suidelike walvisse wat langs ons kus getel word”.

Tresfon is hoogs in sy noppies om soveel walvisse te kon sien gegewe die lae syfer wat die afgelope paar jaar aangeteken is. “Wetenskaplikes het ʼn toename in getalle verwag as gevolg van die vertraagde kalf van vroulike diere in vorige jare en het ʼn grafiek byderhand gehad wat ʼn groot sprong in die getal walvisse vir 2017/18 verwag het, maar ek dink nie enigeen van ons het soveel verwag nie!”

Besigtig Jean Tresfon se Facebook-blad vir nog foto’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Spyker ·

My Broer en sy gesin het ‘n maand terug in DeKelders ingetrek, een straat van die see af. So word hy die eerste nag wakker en kan nie uitwerk waar die lorrie met sy lugremme ry nie……….net om later te besef dis die walvisse!! ☺

Wonder ·

Dis wonderlik om te sien, maar my eerlike opinie is dat dit hongerte is wat hulle hierdie kant toe bring. Die see word leeg gemaak deur die chinese vissersbote en hulle soek kos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.