Foto’s: Reuse-luislang kom tweede ná hy ystervark sluk

Foto: Lake Eland Game Reserve/Facebook

Foto: Lake Eland Game Reserve/Facebook

ʼn Luislang, van amper 4 m lank, is dood nadat hy ʼn groot ystervark ingesluk het op ʼn natuurreservaat in KwaZulu-Natal.

Jennifer Fuller, hoofbestuurder van die Lake Eland-natuurreservaat naby Port Shepstone, het aan Maroela Media gesê vakansiegangers wat met hul bergfietse in die reservaat gery het, het verlede week op die dikgevrete slang afgekom. Die mense het foto’s van die slang geneem en op Facebook gelaai.

ʼn Werknemer van die reservaat het drie dae later weer op die slang afgekom waar dit dood gelê het op ʼn rotslys. Volgens Fuller is die slang oopgesny om te probeer bepaal waaraan dit dood is en is ʼn ystervark van 13,8 kg in die slang se pens gevind. Fuller het gesê luislange bring dikwels hul vangs op wanneer hulle stres of gepla word en hulle vermoed dit is wat die slang se einde beteken het.

Volgens Fuller het daar talle ystervarkpenne in die slang se spysverteringskanaal vasgesit. Sy het gesê die reservaat sal die slang se vel hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eish! ·

Eish ou slang, dit is ‘n vark met yster daai! Sit hom in trurat en hy steek vir jou.

Peet Schabort ·

Op politieke vlak is daar ook diegene wat een of ander tyd ‘n ystervark gaan sluk . . .
(Dalk ‘n nuwe idioom?)

Eliza-beth ·

Peet, of dalk ‘n manier van iemand insê: ” ag man, gaan sluk ‘n ystervark”! Klink baie beter as om te sê “gaan vang ‘n haan”! Ek gaan dit beslis nou vir party mense sê!

Johan 2 ·

Hahaha ek gaan dit ook gebruik, Afrikaans is maar net die beste nè.

Eliza-beth ·

Sjoe… interessante storie. Jammer twee mooi diere moes doodgaan….

Dave ·

Soos jy sê Elizabeth, dit is jammer en soort van ironies dat een verkeerde maaltyd twee mooi diere se dood gekos het.

Theresa ·

Ha ha – Hoe lekker lag ek nou vir Peet.

Ag dis hartseer van die arme slang. Moes ook maar ‘n aanklige dood gewees het.

Dave ·

Vir albei Theresa. Daar behoort op die ystervark ‘n etiket te wees wat sê dat dit nie vir inwedige gebruik is.

Eliza-beth ·

Dave, ja.. dankie vir die glimlag op ‘n koue winderige Hoëveldse Vrydag!

Dave ·

Hallo Elizabeth en Leeutjie :-) Leeutjie, was jy met verlof? Waarom so skaars?

Johann de Ridder ·

Slang se kind het nie geweet n ystervark gee “vreeslik versigtig geboorte” nie-toe loop hy hom vas in “wie nie ore het nie moet voel”.jammer sulke pragdiere moes so aan hulle einde kom

Eliza-beth ·

Johann, sommer vir interessantheid, baba ysetervarkies word met sagte penne gebore en ditverhard eers paar dae na geboorte! Andersins, kan jy dink, die arme ma…? Lekker naweek vir my mede diereliefhebbers!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.