Foto’s: Reusebrand lê sinagoge in puin

Die gebou wat gisteraand in Arthursweg, Seepunt, afgebrand het, is ouer as 100 jaar en word reeds sowat 60 jaar as die Beit Midrash Morasha-sinagoge gebruik. Foto: Facebook

Lidmate van die Beit Midrash Morasha-sinagoge in Seepunt het Woensdagoggend, nes die afgelope 60 jaar, om 06:30 vir hul gebruiklike oggendgebedsdiens bymekaargekom.

Maar vir die eerste keer moes hulle buite die 100 jaar oue gebou byeenkom, want al wat daarvan oorgebly het ná Dinsdagaand se brand, was swart gebrande mure, vertel rabbi Samuel Thurgood.

“Die atmosfeer was baie emosioneel,” sê die geestelike leier van die ortodokse sinagoge met sy sowat 200 gesinne, wat ook bekendstaan as die Arthurs Road Shul. Dis een van vyf sinagoges in Seepunt, die middelpunt van die Kaapse Joodse gemeenskap.

Brandweermanne het gered wat hulle kon uit die brandende sinagoge, maar die gemeente se perkamentrolle met die vyf boeke van Moses het in die slag gebly. Foto: Facebook

Hy is nie seker presies hoe laat die brand ontstaan het nie, vertel Thurgood, maar hy het die oproep met die tyding omstreeks 23:00 gekry. “Toe ek daar kom, was die hele plek reeds in vlamme. Dit was baie sleg om te sien.”

Gwen Robinson van die Kaapse Joodse Raad van Afgevaardigdes, wat die sowat 17 000 Jode in die Skiereiland verteenwoordig, sê vier mure en ʼn dak is net ʼn gebou, maar wat dit ʼn sinagoge maak, is die boekrolle met die eerste vyf boeke van die Ou Testament, die Torah.

Ongelukkig het die sinagoge sʼn, wat op perkament geskryf was en waarvan sommige van oor die 100 jaar oud saam met die Joodse immigrante uit Litaue na die Kaap gekom het, in die slag gebly.

Verslae lidmate het Woensdagoggend vir die gebruiklike oggendgebedsdiens bymekaargekom, maar buite die sinagoge, pleks van binne. Foto: Facebook

Brandweermanne het wel, sonder dat hulle gevra is om dit te doen, van die sinagoge se godsdienstige artefakte, boeke en Torahs uit die vlamme na veiligheid gedra.

Thurwood sê hy weet nie of iemand hulle gevra het om dit te doen nie, maar ʼn inwoner het aan EWN gesê dit was ongelooflik treffend om te sien hoe die brandweermanne hul lewe in gevaar stel om die besittings te red wat vir die gemeente so kosbaar is.

Dit was ’n emosionele geleentheid toe lidmate van die sinagoge buite die uitgebrande gebou vir hul oggendgebedsdiens bymekaar moes kom. Foto: Facebook

Thurwood, wat tot 02:30 Woensdagoggend op die toneel gebly het, sê hulle vermoed nie ʼn misdaad nie, maar dis nog te vroeg om te sê wat die brand veroorsaak het. “Ons gaan wel beslis herbou, ons weet nog net nie hoe nie.”

Waar hulle intussen byeen sal kom, kan hy nog nie sê nie. “Ons sal dit nog moet uitwerk.”

Die Kaapse Raad van Joodse Afgevaardigdes het intussen gesê lede bid vir die gemeente ná hul groot verlies.

“Die Stad Kaapstad se brandweer moet bedank word vir die dapper wyse waarop hulle die brand bestry het,” sê die raad. “Ons weet hulle het hul bes gedoen om heilige boeke en godsdienstige artefakte te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Iemand ·

Dis nou Hanukkah vir die Jode… Dis baie jammer, ek hoop hulle kry hulp en het ‘n geseënde tyd, en dat ons mede mens hul te hulp snel.

ZAR ·

Ek neem nou maar aan die brand is opsetlik gestig. Dis ‘n jammer dat die konflik in die noorde oorspoel na die suide.
Ek hoop hulle kan gou weer herbou.

Ergerlik ·

As die brand mens gemaak is kan dit voor die deur van die EFF gelê word…

medepelgrim ·

Ek volg self Torah, en dis met groot heimwee wat ek saam met julle voel. Sal self wou n TORAH Scroll wil besit en dit brand saam met die synagoge. Wat n grrot verlies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.