[Foto’s] Reusehaelkorrels tref Hoedspruit

Van die haelkorrels wat afgeneem is. Foto: Via Storm Report SA

Reusehaelkorrels, sommiges net skrams kleiner as ʼn krieketbal, het Dinsdagaand skade aan eiendom en vrugteboorde op plase buite Hoedspruit in Limpopo aangerig.

Jaco Fivaz (48), algemene bestuurder van Mohlatsi Farms, ʼn groepering plase wat mango’s produseer, het Woensdag aan Maroela Media gesê die storm het omstreeks 19:30 uitgebreek.

“Die grootte van die haelkorrels het gewissel. Die meerderheid was tussen die grootte van ʼn albaster en ʼn gholfbal. Die grootstes was net so ʼn bietjie onder die grootte van ʼn krieketbal,” het Fivaz gesê. Hy skerts hoewel hy 48 jaar oud is, lyk hy vandag in sy 60’s.

Fivaz het gesê tussen agt en 10 plase het die ergste aanslag van die storm beleef en skade aan eiendom en aan vrugteboorde wissel van plaas tot plaas.

“Daar is ligte skade aan voertuie aangerig en dan ook groter waar voertuie se voorruite uitgeslaan is. Voertuie het ook duike opgedoen. Een plaashuis het vier vensters verloor en ʼn ander ouerige plaashuis se asbesdak is vol gate.”

Fivaz het gesê daar is sowat 30% skade aan die mangoboorde waar die bloeisels afgeslaan is. Sowat 20 ha van die mangoboorde het 60% tot 80% skade opgedoen en dié se oes is weg vir die jaar. Die omliggende sitrusplase het ook skade opgedoen.

Fivaz het gesê die gebied het twee jaar gelede ʼn enorme storm gehad waar nagenoeg 15 000 ton mango’s afgeslaan is. “Gister se storm was nie so groot soos toe nie, maar dit bly tog ongewoon vir ons omgewing.”

Venetia Phakula, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het Woensdag aan Maroela Media gesê die weerdiens het die donderstorm verwag en vroeër die dag waarskuwings uitgereik.

“Dit is nou die reënseisoen oor die sentrale gedeeltes van die land en veral in Limpopo en Mpumalanga gaan die reënseisoen gepaard met donderstorms. Die donderstorms gaan ook soms gepaard met hael,” het sy gesê.

Sy het gesê sterk stygstrome het baie vogtigheid na die hoogste vlakke bo vriespunt geneem wat die groot haelkorrels veroorsaak het. Die haelkorrels kan “groei” namate bykomende water om dit vorm en dit dan deur stygstrome weer na vriespunt geneem word, voor dit weer te swaar raak vir die stygstrome om in die lug te hou.

Phakula het gesê daar is Woensdagmiddag ʼn kans van 30% op ʼn donderstorm. Sy het egter gesê die toestande lyk nie soos Dinsdag wat weer erge hael tot gevolg kan hê nie. “Die weerdiens het nog nie ʼn waarskuwing uitgereik nie, maar die moontlikheid kan nie uitgesluit word nie. Die situasie word gemonitor.”

Volgens die Hoedspruit Plaaswag is geen beserings aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Albaster ·

Die weerburo se website was vir n paar dae af. Die regering is sooooo pateties.

thelsa ·

Haai ou Albaster. Ons weet mos nou al vir jarrrre dat feitlik niks van die regering werk nie. Daar is werklik talle betroubare webtuistes vir SA Weer wat ons gebruik.

Alida ·

Ai albaster ons weet als van die regering af maar shoe mens moet darem redelik ook wees en hulle nie van alles beskuldig nie. Die weerburo en acu weather kon dalk van hulp gewees het.

marous ·

Hoedspruit het erg deurgeloop die afgelope dekade . Sterkte julle .

Sarie ·

Albaster; ek is vreeslik jammer oor die skade wat julle gely het, maar verstaan nie mooi wàt jul sou kon doen om die skade wat dié erge haelstorm veroorsaak het, te voorkom nie… Jul sou moontlik vd roerende goed na veiligheid kon verskuif, maar aan die vrugteboorde ens, sou jul volgens mý beskeie mening, nié véél kon doen nie….

Ons het tot op hede géén reën gehad nie, daarom verwag ek ook verwoestende storms nà die lang droogte… STERKTE!!!

E ·

Ek reken as die heersende party vir Jan van Riebeeck kan betrek, kan hulle maar by hael betrek word….

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons kan voorsorg tref teen enigiets meer NIE teen natuurverskynsels nie. Om te voorkom dat ek skade opdoen het ek in my kattebak ‘n koningsgrootte “comforter” (ligter as ‘n “duvet”) wat ek oor my motor trek in geval van hael, en dit werk. Vriend van my het ‘n dik outydse kombers wat net so goed werk. Onthou net om ‘n plastiese sak ook te hou om die nat comforter/kombers in te vervoer as jy nie by die huis was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.