Groot skade is aan onder meer teëldakke, motors en vensters aangerig toe reusehaelkorrels Sondagmiddag in Lydenburg, Mpumalanga, geval het.
“Dit het geklink soos geweerskote wat afgaan,” vertel inwoner Heidi Betz oor die oomblik toe die haelkorrels ná 16:00 begin val het.
“Dit was gek. Ek het nog nooit so iets in my lewe beleef nie. Sommige van die haelkorrels was so groot soos ’n tennisbal.”
Inwoners meen die haelstorm het tussen tien en 20 minute geduur voordat ’n reënbui uitgesak het. Dit is nie duidelik hoeveel dit gereën het nie.
Kobus Nel vertel dat dit “soos ure” gevoel het toe haelkorrels so groot soos “krieketballe” op sy teëldak geval en die teëls flenters geslaan het.
Die reusehaelkorrels het nie minder nie as vyf vensters by Carla Potgieter se huis op die dorp uitgeslaan nie.
Sy vertel dat sy ’n groot slag gehoor het en aanvanklik gedink het dat die wind ’n venster toegewaai het. Sy het egter gou besef dat groot stukke hael op haar sinkdak val. Die huishouding se sonpaneelgeiser en afdakke van skadunet het in die slag gebly.
Potgieter meen hulle het egter beter daarvan afgekom as inwoners met teëldakke. Ook die NG Kerk se dak het skade opgedoen terwyl sommige motors selfs in motorhuise met teëldakke skade opgedoen het.
Potgieter het op haar beurt van die haelkorrels met die grootte van ’n hokkiebal vergelyk.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se klimaat-afdeling kon nie Maandagoggend bereik word vir kommentaar nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Sjoe, dis wild! Kry mens groter? Mens en dier kon doodgeslaan gewees het. Lydenburg-omgewing het ook baie vrugteboorde. Die dorp en omstreke het groot skade gely.
As dit jou teen die kop tref, is jy heel waarskynlik dood.
Ek dink en bekommer my altyd oor diere wat as reël buite moet wees, of hulle eienaars eens daaraan dink om hulle dan binneshuis te laat kom.