[Foto’s] Reusevlamme ná twee tenkwa’s op N2 bots

Brandbestryders op die toneel. Foto: Netcare 911

Brandbestryders op die toneel. Foto: Netcare 911

ʼn Gedeelte van die N2-snelweg in Durban is vir verkeer gesluit nadat ʼn diesel- en ʼn petroltenkwa gebots en aan die brand geslaan het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die ongeluk het omstreeks 04:00 onder die Sarniawegbrug tussen die Chatsworth-afrit en Queensburgh plaasgevind en die snelweg in dié gebied is in albei rigtings vir verkeer gesluit.

“Volgens inligting van die toneel het een tenkwa in die noodbaan stilgestaan toe die ander swaarvoertuig dit van agter af getref het,” het Botha gesê. “Die agterste tenkwa het oor die pad geswenk en teen versperrings in die middel van die hoofweg gebots.”

Albei tenkwa’s het aan die brand geslaan. Brandstof het ook op die snelweg gespoel en aan die brand geslaan.

Botha het gesê vlamme het sowat 60 meter in die lug in getrek en brandbestryders het sowat ʼn uur gespook om die brand in bedwang te bring.

“Die bestuurders van die twee swaarvoertuie is gelukkig nie in die ongeluk beseer nie.”

Botha het gesê die gedeelte van die snelweg gaan ʼn geruime tyd gesluit wees en hy het motoriste aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.