ʼn Intelligensie-gedrewe operasie deur die Valke en die departement van landbou, bosbou en vissery het tot die inhegtenisneming van twee verdagtes gelei vir die bestuur van ʼn onwettige perlemoenverwerkingsfasiliteit.
Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê twee verdagtes, 39 en 42, is vasgetrek.
Ramovha het gesê daar is opgevolg op ʼn leidraad oor ʼn verdagte motor wat glo perlemoen vervoer naby Brackenfell in die Wes-Kaap.
“Die agtervolging het hulle na ʼn adres in Rivierweg gelei waar die verwerkingsfasiliteit ontdek is. Die twee verdagtes is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op meer as 40 000 eenhede perlemoen wat sowat 2 233,5 kg weeg,” het Ramovha gesê.
Volgens Ramovha het dit bestaan uit nat, gedroogde en gaar eenhede van perlemoen wat meer as R5 miljoen werd is.
Die verdagtes sal Donderdag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met handeldryf met perlemoen.
Daar is so baie wat die see uitroei met wat hul noem die wit goud, die mense leef hoog en nie almal word hof toe gesleep nie, baie kom weg met die misdaad. Ek verstaan hul kry R400 per kg. Die mense by die lughawe doen nie hul werk nie.