[Foto’s] Robert Mugabe land by Waterkloof-lugmagbasis

Robert Mugabe by die Waterkloof-lugmagbasis. Foto: Kopano Tlape, GCIS

Zimbabwe se pres. Robert Mugabe het Woensdagaand by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland.

Te midde van bewerings dat hy op die nippertjie sy reisplanne verander het om na Suid-Afrika te kom nadat sy vrou, Grace, glo ʼn model in Sandton aangerand het, sê die regering se kommunikasieafdeling egter Mugabe het by die lughawe geland vir ‘n amptelike besoek om die 37ste staatshoofdeberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en bilaterale diplomatieke vergaderings in Pretoria by te woon.

Mugabe is deur Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie en posdienste, by die lughawe met sy aankoms verwelkom.

Intussen het die Suid-Afrikaanse departement van polisie Woensdagmiddag uiteindelik hul stilte oor Grace se beweerde aanrandingsaak verbreek.

Die departement het in ʼn verklaring gesê hy wil graag die jongste inligting deel oor die polisie se ondersoek na die beweerde aanranding in ʼn Sandton-hotel. Maroela Media het vroeër berig Gabriella Engels (20), ʼn model van Johannesburg, beweer Mugabe het haar die afgelope naweek in ʼn hotel in Sandton aangerand nadat sy Engels in die geselskap van haar twee seuns aangetref het.

Aangesien die polisie nie die naam van enige verdagte kan bevestig voordat die verdagte eers in die hof verskyn het nie, wou hulle vroeër nie kommentaar lewer oor bewerings dat Grace die land verlaat het nie.

Die departement van polisie het egter Woensdag in ʼn verklaring bevestig dat die verdagte in die Sandton-aanrandingsaak steeds in die land is en nie na Zimbabwe vertrek het soos in sommige mediaberigte beweer is nie. Volgens die departement sou die verdagte Dinsdag om 10:00 by die Sandton-polisiestasie aangemeld het om ʼn waarskuwingsverklaring af te lê. Nadat die afgespreekte tyd verskeie kere verander is, het sy nie by die stasie opgedaag soos ooreengekom nie.

“Die verdagte se regspan en haar regeringsverteenwoordigers het verbale voorleggings aan die polisieondersoekspan gemaak dat die verdagte van plan verander het oor die waarskuwingsverklaring en haar op diplomatieke immuniteit wou beroep. Gevolglik het die regering van Zimbabwe amptelike korrespondensie aan die departement van internasionale verhoudinge en samewerking gestuur om die genoemde diplomatieke immuniteit in werking te stel,” lui die verklaring.

“Die verdagte is steeds in Suid-Afrika en het nie die land verlaat nie. Ons is meegedeel dat haar reisplanne onder meer private sake insluit, asook haar deelname aan die SADC-beraad.

“Gesprekke met die verdagte se prokureurs en die Zimbabwiese hoëkommissariaat is tans aan die gang om seker te maak die verdagte word deur die regstelsel geprosesseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

D. ·

Is dit nie dieselfde lugmagbasis waar die Guptas se familie ook geland het nie? Lyk my die friends and family word nou met ope hande daar ontvang.

Marius ·

D. Ons wil nie he hy moet daar land maar as hy ‘n staats hoof is mag hy daar land die Guptas is niks het net geld om om te koop so hulle mag nie daar geland het.Lekker dag

Frederik ·

Hy vlieg SA toe. maar sy arme honger landsgenote moet deur die grensdrade kruip SA toe. ( As daar nog grensdrade is)

snoefie ·

na alles wat hulle aangevang het in Zimbabwe, is dit verbasend fat hulle nog wereldwyd verwelkom word. is die twee seuns 6 en 7 en hey die vrou hulle aangeval dat sy hulle so verwoes beskerm het?

jz ·

Ja laat ons maar kyk ,watter verskooning of triek gaan hulle nou opper,?maar ,wat ook al iets sal hul uitdink of net se “julle het ons verkeert verstaan.”

Tjoppie ·

Ja en daar het Grace nou haar diplomatieke immuniteit!! Nie in een van die vorige berigte is melding gemaak van die SADC nie, net dat sy in SA is vir ‘n enkelbesering. Nou is oupa Mugabe skielik hier vir die SADC en disgrace vir albei. Belaglik man, dink die mense ons het niks tussen ons ore nie!!!

Jacques Venter ·

Ek wou laas my ou karretjie by Waterkloof Lugmag Basis parkeer, maar hulle het gesê, hulle kan dit nie toelaat nie.
Hulle het nie geweet of ek dalk n spioen vir n ander land was nie.
My groen ID boekie het hulle ook nie oortuig nie. Hulle glo vals identiteits dokumente is vrylik in die handel beskikbaar.
Toe moes ek maar by my ou karretjie bly en grootoog en met bewondering die uittog na Suncity gadeslaan. Wow dit was so mooi met al die blou ligte en al.
Iets waarop SA erg trots op kan wees

Swartkat ·

En daar kom pappa Mugabe met sy vliegtuig om sy eie Grace soos ‘n ridder te kom red.

Hes ·

Frederik, daar is nie meer ‘n grens nie. Wat eens ‘n grens was lê plat of bestaan nie meer nie. Voertuigkapers gebruik donkies om gesteelde voertuie deur deur die droë rivierloop te trek. Het dit so twee weke gelede in die media gesien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.