Foto’s: Roerende erediens buite uitgebrande kerk gehou

Die 114 jaar oue Maitland Gemeenskapskerk is Saterdagaand in ’n brand in puin gelê. Foto: Facebook

Emosionele tonele het Sondagoggend in Maitland afgespeel waar een van die oudste NG kerkgeboue in die Kaapse Skiereiland die vorige aand afgebrand het.

ʼn Handjie vol lidmate van Maitland Gemeenskapskerk, soos die plaaslike NG gemeente heet, het oudergewoonte vir die erediens om 10:00 Sondagoggend opgedaag, vertel ds. Riaan de Villiers, medeleraar van die Groote Kerk, wat “diep geroer en terselfdertyd bemoedig” is deur wat hy ervaar het.

“Sommige lidmate het verslae gestaan en verskeie het getreur oor die vernietiging van hul aanbiddingsruimte,” skryf hy in ʼn Facebook-inskrywing. “Daar is baie lief en leed ineengeweef tussen die mense en hierdie besonderse ruimte.

Maitland se NG kerk voor dit in die brand verwoes is. Foto: Morné van Rooyen

“Hier is kinders en volwassenes gedoop, afskeid geneem van geliefdes by begrafnisse, huwelike feestelik voltrek, vriendskapsbande gesmee, mense se juk versag.”

Die dak, kansel, banke en galery was hoofsaaklik van hout en is in puin gelê binne minute nadat die brand Saterdagaand ontstaan het. Dis nog nie bekend wat dit veroorsaak het nie, maar 14 brandbestryders en twee brandweerwaens is ingespan om dit te blus.

Die binnekant, wat hoofsaaklik uit hout bestaan het, het vinnig uitgebrand. Foto: Facebook

“Dit is ʼn hartseer en vernietigende slag vir hierdie merkwaardige geloofsgemeenskap wat die laaste paar jaar ʼn veilige hawe vir weerlose en hawelose mense in die gemeenskap geword het,” skryf De Villiers.

“Hulle speel ’n leidende en rigtinggewende rol binne die NG Kerk wat betref omarming, versorging en onbaatsugtige liefde en diens.”

Sondagoggend is geleentheid geskep om mekaar te vertroos om stories te deel. “Die lidmate het getuig dat hulle die liggaam is,” skryf De Villiers, “ ’n geloofsgemeenskap wie se hande en harte oop is vir God en vir mense – met of sonder kerkgebou.

“Die erediens het voortgegaan. Die mooiste liedere is gesing, daar is gebid en gesug voor God. Daar was verwelkoming en liefde.”

Lidmate het Sondagoggend buite die geboue bymekaargekom. Foto: Facebook

De Villiers skryf ʼn hawelose man “met ’n erg gehawende voorkoms het oor die straat gekom en hy is vriendelik verwelkom en omarm en hartlik gegroet: ‘Môre, oom Marius!’

“Marius, wat huisloos is en nou ook kerkgebouloos, wat uit meeste van die stad se ruimtes (én selfs kerkgeboue) verjaag sou word of as ’n oorlas of onsigbare hanteer sou word – het hier ’n familie, ’n gemeenskap waar hy nie naamloos is nie, maar as medemens, as ’n mens, erken en gereken en gerespekteer word.”

Net as het van die kerk se binnekant oorgebly. Foto: Facebook

Hy skryf Maitland Gemeenskapskerk se lidmate is nou almal gebouloos, “maar nie ’n greintjie liefdeloos nie!”

Maitland was ’n buitewyk van die NG Gemeente Kaapstad tot dit in 1912, dieselfde jaar waarin die aangrensende NG Gemeente Observatory afgestig het, selfstandig geword het.

Die hoeksteen van die kerkgebou in Voortrekkerweg is op 15 Mei 1903 gelê en die gebou is in Junie 1904 ingewy. Die eiendom waarop die kerk en pastorie opgerig is, is deur die weduwee S.J. Jansen geskenk.

Posted by Riaan De Villiers on Saturday, December 29, 2018

Posted by Riaan De Villiers on Sunday, December 30, 2018

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.